Bekendstelling: Honda Civic 1.8 i-VTEC

‘n Nuwe toekomsblik

Sedert Honda se bekendstelling in 1972 het die naam “Honda”  sinoniem geword met onverbeterlike rygenot, kwaliteit afwerking, meganiese betroubaarheid en uitstekende brandstofverbruik  (of dan altans wat Honda voertuie aan betref.)  Ekonomiese brandstofverbruik  is met opset uit bogenoemde lys van byvoeglike naamwoorde gebruik omdat dit spesiale vermelding verder aan verdien.

Met die onlangse bekendstelling van die negende generasie Honda hier ter plaatse, naamlik die Civic1.6 en 1.8 i-VTEC, het Honda die doelpale nog verder verskuif met selfs nog beter werkverrigting, stylvolle afwerking aan veral die interieur en met uiters gevorderde tegnologie tot die beskikking van die bestuurder sowel as passasiers.

Met die opgradering en bekendstelling van ‘n opvolgmodel van enige fabrikaat in die motorwêreld moet dit die motorpubliek, en veral miskien die motorjoernalistieke wêreld, heel dikwels ten laste gelê word dat daar gewoonlik asemrowende en grondverskuiwende veranderinge verwag word.  Daarenteen is vervaardigers en hulle tegniese spanne eerder ingestel op evolusionêre verbetering en verfyning,  as om op ‘n revolusionêre manier om te gaan met grootskaalse verandering aan ‘n bewese suksesverhaal.  Dit was presies hoe die koppe van die Honda ingenieurs gewerk het toe hulle die laatste model Honda Civic 1.8 i-VTEC en die 1.6 verfyn en verbeter het – en hulle het skitterend daarin geslaag.

Vroegtydige produksie en bekendstelling van Honda se nuutste Civic modelle is ongelukkig in die wiele gery deur  onverwagte natuurrampe in die vorm van aardbewings en tsunamis in Japan en Thailand, maar begin 2012 is hierdie verlore agterstand ingehaal en is die verbeterde modelle  bekendgestel.  Hopelik sal daar ook binnekort ‘n vierdeur luikrugmodel  bygevoeg word wat sal meehelp dat  Honda sy mikpunt van  ‘n verkoopsyfer van 300 – 350 eenhede per maand kan haal.

Yoshiake Nakamura, besturende direkteur van Honda Suid-Afrika, het tydens die bekendstelling toegegee dat 2011 ‘n moeilike jaar vir Honda was as gevolg van hierdie natuurrampe.  Afgesien van die feit dat die Ballade in Thailand vervaardiger word, is Thailand ook die voorste verskaffer van onderdele van die meeste Honda Civic modelle.  Dit het meegebring dat Honda ‘n aansienlike markaandeel verloor het, maar Nakamura is oortuig dat Honda met sy nuutste vrystelling die verlore markaandeel gaan verhaal – en daar kan geen twyfel hieromtrent wees as die nuutste Civic-model van nader beskou word nie.

In die Civic modelreeks is daar agt variante beskikbaar:  die intreemodel 1.6i Comfort (92 kW/6500 rpm en 151 Nm/4300 rpm) is beskikbaar in ‘n outomatiese sowel as ‘n handratmodel  en so ook die 1.8 reeks wat met ‘n verdere Elegance en Executive modelle uitgebrei word.  Hierdie modelreeks  van die Honda 1.8 i-VTEC lewer ‘n kraguitset van 104 kW/6500 rpm en 174 Nm/4300.  As ‘n motor wat hoofsaaklik op die familiemark gemik is lewer laasgenoemde geen asemrowende versnelling nie maar kom tog by die 0-100 km/h versnelling uit in net 10.7 sekondes.

Honda ingenieurs het die huidige reeks met 15mm verkort maar tog daarin geslaag om 75mm meer skouer- en 40mm beenruimte beskikbaar te stel deur die kajuit effens vorentoe te verplaas.  Vir verbeterde bestuurbeheer is die Civic se elektroniese kragstuur aangepas met die passiewe stabiliteitsbeheer wat veral te pas kom op ‘n gladde padoppervlakte waar onder- en oorsturing heel dikwels ‘n groot probleem kan wees.

Die Civic modelle is verder almal toegerus met ‘n sogenaamde “Econ modus” wat as’t ware bestuurders leer hoe om op die mees ekonomiese manier te bestuur om sodoende brandstof te bespaar.  Hierdie aspek van die Honda modelle sal veral  byval  vind in hierdie dae van onbeheerde prysstygings in brandstof.  Die uiters aërodinamiese ontwerp (‘n groot voorruit wat skerp na agter buig, onder andere) van die Civic help uit die aard van die saak ook om windweerstand te verminder wat aan die Civic ‘n uiters gunstige gemiddelde 7.00l/100km en selfs beter brandstofverbruik op die gemengde siklus gee.

Beide die 1.6- sowel as die 1,8- modelle bied aan die entoesias in hierdie marksegment meer as genoeg waarde vir sy geld.  Eersgenoemde se kantspieëls en vensters word elektronies beheer, die bestuursitplek se hoogte kan verstel word, so ook dié van die stuurwiel, ‘n uitstekende klankstelsel is standaard, lugreëling met stuifmeelfilters, ‘n vingerbeheerde inligtingstelsel op die stuurwiel en outomatiese sluitbeheer van die deure is van die geriewe wat hierdie modelreeks bied.

Die 1.8i V-TEC modelreeks vat hierdie geriefsdinamika nog verder.  Buitespieëls word verhit indien nodig, kantlugsakke, bekleedsel wat in leer afgewerk is, Bluetooth selfoonkonneksie, spoedkontrole en outomatiese lugreëling, voorste misligte, kantspieels wat binne toe vou, ratspane of die stuurwiel, waarskuwing indien ‘n band pap sou raak en reënsensors is maar net etlike van die moderne tegnologiese geriewe wat hierdie fenomenale motor bied.

Pryse is as volg: 1.6i Comfort – N$209 900; 1.6i Comfort a/t – N$221 900; 1.8i V-TEC Comfort – N$229 900; 1.8i V-TEC Comfort a/t – N$241 900; 1.8i V-TEC Elegance – N$259 900; 1.8i V-TEC Elegance a/t – N$271 900; 1.8i V-TEC Executive – N$269 900 en die 1.8i V-TEC Executive a/t teen N$282 900.

Pryse sluit in ‘n vyfjaar of 90 000 km diensplan, ‘n driejaar of 100 000 km waarborg en die diensintervalle is elke 15 000 km.

Leave a Comment