Spasie vir die Nasie!
Die nuwe Opel Meriva is seker een van die motors wat mense twee keer laat kyk as die agterste sydeure oopgemaak word; dit is of ‘n mens verplaas word na die 1940’s toe motordeure vorentoe oopgemaak het. Dit was eers in die na-oorlogse jare vanaf 1949 wat die Amerikaners die nuwe en moderne rigting ingeslaan het om motordeure se skarniere aan die voorste pilare te anker en die deure na agter oopgemaak het.
Die Amerikaanse mode was die gevolg van veiligheidsbewustheid, deure wat aan die agterkant skarnier, en wat tydens die ry oopgegaan het, kon (en het) talle lewens gekos omdat die wind die motordeur oopgeruk het en die insittendes uitgeslinger het. Maar alles het natuurlik verander, deesdae sit elke passasier vasgegordel op sy sitplek en sluit die deure as die motor wegtrek. Opel se nuwe “ou” styl is dus seker nie lewensbedreigend nie en gee aan die nuweling ‘n unieke geaardheid, iets wat min nuwe motors deesdae het omdat die een amper net soos die ander lyk en daar dikwels na die naamplaatjie of kenteken gekyk moet word om te sien of dit nou regtig die ware Jakob is wat jy gedink het dit is!
Opel het sedert sy ontstaan die beeld as vervaardiger van praktiese gesinsmotors hoewel dit nie altyd die geval is nie; die eerste vuurpylaangedrewe motor was ‘n Opel en op ‘n stadium het die Boss modelle die land op horings gehad vanweë hulle ongelooflike verrigting. Maar die Meriva dra die positiewe beeld uit van ‘n gesinsmotor by uitstek. (Dit nou nadat jy aan die snaakse manier van die oopmaak van die agterdeure gewoond geraak het).
Op die oog af is die Meriva byderwets met bonkige, vloeiende lyne met so ‘n ekstra kurwe in die agterste syvensters wat sig na buite verbeter; iets waaraan die stiliste van nuwe motors deesdae weinig aandag aan skenk. Maar wie kan nou baklei teen die mode-rigtings van die ontwerpers? Maar die belangrike ding is dat die Meriva goed lyk en in die smaak van jongmense sal val.
Wat maak die Meriva anders? Hy is in die eerste plek ‘n gemaklike toermotor met sitplekke binne wat na willekeur verstel kan word om by die gesin se behoeftes aan te pas. Hierdie soort voertuig het al lankal die tradisionele stasiewa vervang maar het die voordeel dat die kattebak veel groter is as dié van ‘n tradisionele sedan. Ook is daar besonder moeite gedoen om ankers vir kindersitplekke aan te bring wat aan internasionale standaarde voldoen. Die Meriva is dus by uitstek ‘n motor vir die jonger garde met jong kinders en babas maar wat ook genoeg ruimte wil hê om ‘n bergfiets binne in die motor te kan vervoer.
Die hart van die Meriva is ‘n wakker 1,4 liter turbo-petrolenjin wat goeie verrigting gee met suinige brandstofverbruik as ‘n bonuspunt. Die 1 354 cc eenheid het vir ‘n turbo-enjin ‘n hoë drukverhouding van 9,5:1 en ontwikkel 103 kW teen 6 000 rpm. Die kraglewering van 200 Nm is reeds beskikbaar vanaf 1 850 rpm en verminder teen 4 900 rpm. Teen ‘n hoër enjinspoed as laasgenoemde klink dit bloot sportief en dit is al! Die krag word via ‘n sesgang-ratkas na die voorwiele oorgedra en sorg vir ‘n 0-100 km/h verrigting in net meer as 10 sekondes terwyl die snelheidsmeter, volgens Opel, by 196 km/h sal gaan draai. Dit is skaflik vir ‘n motor met ‘n 1,4 liter enjin. Brandstofverbruik kan tussen 7 en 8 liter/100 km wees as daar nie té sportief gery word nie.
Die Meriva is slegs met die een tipe enjin toegerus, ook net met die standaard handratkas. Dit beperk die mark van motorkopers. ‘n Outomatiese ratkas sou ‘n gawe opsie kon wees vir mense wat hier by aftree ouderdom is en die spasie en aanpasbaarheid van die Meriva kan waardeer.
Van sportief gepraat: Die suspensie van die Meriva is soepel genoeg om ongelykhede op die padoppervlakte uit te skakel maar ferm genoeg om draaie met selfvertroue te kan neem. Die laeprofielbande boesem vertroue in om draaie maar kan ook tot ‘n stamperige rit bydra. Maar weereens is dit die modeneiging en kom dikwels ook onder sy mededingers voor. Ons het die Meriva op beide goeie en swak teerpaaie bestuur en het die rygemak waardeer, ook die goeie bougehalte van die Opel.
Die Meriva kom in twee uitvoerings en ons het beide modelle kon toets; die Enjoy “intreemodel” en die Cosmo wat luukses soos ‘n groot sondak insluit vir die wat die son soek in die winter. Afwerking is deur die reeks van ’n hoë gehalte en ook die intreemodel beskik oor al die veiligheidstoerusting soos ABS-remme en ‘n genoeg van lugsakke om ‘n ongeluk te help oorleef.
Hoekom die Meriva koop en nie ‘n ander mededinger nie? Die antwoord is waarskynlik geleë in die feit dat General Motors méér handelaars op die platteland het as sy mededingers en die motor hoef nie vir sy gereëlde dienste honderde kilometers na die naaste groot stad geneem te word nie. Dit is die byvoordeel wat eienaars van GM, Ford, Volkswagen en Toyota voertuie geniet.
Die Meriva Enjoy gaan die koper N$234 000 uit die sak jaag en die Cosmo ‘n paar Rand meer; N$254 000. Hierby is ingesluit ‘n diensplan van 5 jaar of 90 000 km.