Nou plek vir vyf!
Iewers, diep in jou, is daar die heimlike begeerte om Afrika in te vaar en die slegste paaie en sandduine aan te durf met vertroue. Jy is skrikkerig om dit alleen aan te pak en soek nog vier maats om die avontuur te deel en mekaar moed in te praat.
Dit mag miskien sukkel om sulke avontuurlustige maats te kry, maar gelukkig hoef jy nie te sukkel om die voertuig te kies nie. Die antwoord is die bekendstelling van die nuwe Land Cruiser dubbelkajuit-bakkie wat in beide diesel en petrolweergawes hulle opwagting gemaak het.
‘n Boer maak ‘n plan en tot onlangs het eienaars van die legendariese Land Cruiser bakkies hulle enkelkajuite plaaslik laat ombou na dubbelkajuite, natuurlik teen hoë koste. Dit was juis hierdie modelle wat ‘n besoekende ingenieur van Toyota raakgesien het en aan die dink gesit het. Die resultaat is dat die moedermaatskappy in Japan oorgegaan het tot die vervaardiging van die nuwe reeks dubbelkajuitmodelle.
Oor die Land Cruiser se deug as voertuig wat deur uiterste taaiheid gekenmerk word, hoef daar nie uitgewy te word nie. Vandat hy sy voete in die sewentigerjare in Suid-Afrika neergesit het, was daar nie nog ‘n voertuig wat hom op hierdie terrein kon klop nie; ‘n soort van Unimog vir die gewone man.
Anders as ander vervaardigers se nuwe 4×4 modelle wat gewoonlik in sand- en duinewêreld bekendgestel word, was die LC 70 dubbelkajuit beperk tot slegs een kilometer in ‘n klip- en rotsbesaaide rivierbedding in die Klein Karoo. Dit was ook nie gewone rotse nie; dit was meer soos Obelix en Asterix se super-klippe! Om te help met die navigasie tussen, rondom en oor reusagtige boulders was daar egter ‘n span professionele 4×4 instrukteurs om die minder ervare bestuurders te help.
Die geluide van metaal wat met soliede rots ‘n geveg in die kleine voer, was by tye skrikwekkend maar aan die einde van die tog was daar geen skade aan die nuwe reeks Land Cruisers nie. Dit is hierdie soort van blootstelling wat die ware deugde van ‘n voertuig openbaar. (Nie dat elke Jan Rap en sy maat ooit so-iets sal wil nadoen nie!).
Die uiterlike veranderinge wat op die 2013 Cruiser-reeks aangebring is, is aan die kosmetiese kant met chroom en elektries-beheerde ruite en lugversorging om die lewe effens makliker te maak vir die bestuurder van die enkel-, dubbelkajuit en die stasiewa en “Trooper” of “Wagon” weergawes van die Land Cruiser. Verder is daar ingeboude satelliet-navigasie, ’n stereo-klankstelsel asook ‘n USB-sok. Nog ‘n nuutjie is die afstand beheerde sentrale sluiting.
Wat belangrik is, is die aanbring van skyfremme reg rondom en die keuse van wiel-tipes. Verder is die brandstoftenks vergroot en kan hulle nou tussen 130 liter en 180 liter inneem, afhangende van die model.
Wat veiligheid betref; die nuwe Cruisers beskik almal oor lugsakke wat nie sal afgaan onder rowwe 4×4 werk nie.
Die hart van die Cruiser bly die amper-onvernietigbare 4,2-liter dieselenjin wat 96 kW teen 3 800 rpm ontwikkel en 285 Nm teen ’n nuttige en lae 2 200 rpm vrystel. Die 4,0 liter petrolenjin skop 170 kW teen 5 600 rpm uit en stel 360 Nm wringkrag teen 3 800 rpm beskikbaar. Hierdie eienskappe maak die Cruiser, ongeag die tipe en model, natuurlik een van die mees gesogte voertuie om woonwaens en groot bote te kan sleep. En as die trekker op die plaas gebreek het, die lande mee om te ploeg!
Die krag word deur ‘n vyfgang-handratkas na die vier wiele oorgedra met die alternatiewe ratkeuses deur die oordraratkas om 10 snelhede aan te bied. Wat ‘n belangrike eienskap is, is die feit dat die ABS-remme outomaties ontkoppel word as die ewenaarslotte inskop. Ervaring het al geleer dat die ABS-elektroniese stelsel nie altyd werk by modderige en glyerige afdraandes nie! Geluk met hierdie skuif, Toyota!
Die beproefde kombinasie van kronkelvere voor en bladvere agter word behou om uitstekende artikulasie te gee. Grondvryhoogte vir die stasiewa is 230 mm en die bakkieweergawes 235 mm.
Die stasiewa spog nou met kleurgepaste en verchroomde buffers, sierrooster en modderskermstroke asook aluminium sytrappe en indrukwekkende sestiensduim-allooiwiele. Die uiterlike voorkom word afgerond met ’n noodwielbedekking agter.
Maar met hoeveel gaan al hierdie verleidelikhede jou bankrekening laat krimp? Die goedkoopste is die enkelkajuit petrolbakkie teen N$417 900 en die duurste die dieselstasiewa teen N$506 700. My gunsteling vir ‘n Afrika-reis is die dubbelkajuit dieselbakkie teen N$487 000. Om die volle reeks te sien, en pryse te hoor, is dit die moeite werd om die plaaslike Toyota handelaar te besoek!
Goeie nuus is dat al die nuwe 70-Reeks-Cruisers deur Toyota se omvattende waarborg van drie jaar/100 000 km gedek word en ook deur die ToyotaCare 24-uur noodpadhulpprogram ondersteun word.