‘n Appel wat geen Eva sal weier nie
Tydens ‘n geleentheid in Johannesburg vroeër in November het Opel sy nuwe toevoeging tot die Adam-reeks, die Adam Rocks, aan die pers bekend gestel. By hierdie indrukwekkende klein knapie gaan dit alles om homself voor te stel as ‘n kombinasie van ratsheid en veerkragtigheid saamgevat in ‘n mini-veeldoelige voertuig (Cross Utility Vehicle) met die vryheid van opelug bestuurplesier.
Hierdie “klein knapie,” adem ‘n unieke charisma en het ‘n gespierde voorkoms wat baie Evas se knieë lam gaan maak. En dan is hy nie werklik net “’n klein knapie” nie.
Die ADAM Rocks is ook uniek in dié opsig dat slegs ‘n beperkte aantal van 150 eenhede in Suid-Afrika beskikbaar gestel word. Die ADAM Rocks spog met dieselfde kenmerke as sy ouer boetie, die ADAM Glam, maar is beslis gemik op die jong stedelike avonturiers wat naweke ook die plattelandse paaie wil aandurf want dit bied ook die gerief van ‘n oopskuifdak, verhoogde bakwerk en antrasiet beskermde bekleedsel. Die ADAM Rocks is beskibaar in drie kleure naamlik rooi, of dan, “Red ‘n Roll, wit (Saturday White Fever) en ‘n goudkleurige model (Goldbuster).
Die binneruim van die ADAM Rocks bied ‘n uitstekende klankstelsel, ‘n uitgebreide inligtingstelsel en die vermoë om aan te pas by die individuele bestuurder se behoeftes. Volgens Brian Olson, vise-president voertuigverkope vir die sub-Sahara-streek, het die bekroonde ADAM-reeks sedert sy bekendstelling amper ‘n jaar gelede daarin geslaag om gemiddeld 120 eenhede per maand te verkoop. Dit is, volgens hom, as gevolg van ‘n nuwe stel reëls wat deur die die ADAM-reeks daar gestel is en wat ‘n stewige basis vir die nuwe ADAM Rocks gelê het. Met die bekendstelling van die nuweling is ‘n nuwe stel reëls daarby gevoeg wat so reg in die smaak van die “stadjappie/stadsjapie” behoort te val, aldus Olson.
Opel het die ADAM Rocks se bakwerk met 15 millimeter gelig, dit met ‘n McPherson veerstelsel aan die voorkant ondersteun en tesame met sy groot 225/35/18 bande, wat ekstra vastrapplek gee, en sy elektronies ondersteunde stuurmeganika verleen dit aan hierdie besondere ADAM-model uitstekende padhouvermoë. Vyftien millimeter mag min klink maar dit gee tog ‘n verbeterde uitsig op ‘n stadsverkeer waar jy as bestuurder die meeste van die tyd ook vir ander motoriste moet dink en heel dikwels vinnige besluite moet neem vir oorlewing.
Die ADAM Rocks is soos die ander ADAM-modelle toegerus met ‘n driesilinder- eenliter-Ecotec enjin wat oorgenoeg aandrywing verskaf om menige viersilinder en kragtiger motors op hulle neuse te laat kyk. Die enjin lewer ‘n stewige kapasiteit van 85kW en 170Nm wat slegs 5.0 liter/100 km brandstof verbruik. Die Start/Stop enjinstelsel help verder om nie onnodige brandstof te verbruik nie asook om uitlaatgasse te verminder. Laasgenoemde beloop slegs 115 gram per km wat aan die hoogste Europese standaard (Euro 6) voldoen. Met sy sesspoed ratkas is daar die gepaste rat vir alle omstandighede komende van ‘n baie ligte 37 kilogram transmissiestelsel.
Met sy uiters gerieflike holvormige sitplekke wat jou as’t ware knus omhels, metaalpedale met rubberknoppies, dik stuurwielomhulsel en ‘n ratkierieknop wat perfek in die handholte pas, voel dit kompleet asof die ADAM Rocks vir jou unieke en persoonlike gemak gebou is. Verder bied die knaap ook nog temperatuurbeheer, ‘n bestuursitplek waarvan die hoogte verstel kan word, verstelbare stuurkolom, elektronies beheerde vensters, spoedbeheer en agtersitplekke wat kan opvou indien meer spasie benodig word. Die seweduim aanraakskerm verskaf aan die bestuurder met ‘n ligte aanraking al die besonderhede wat hy of sy mag verlang.
Aan die binnekant bied die ADAM Rocks besonder baie ruimte as gevolg van die 2,311 millimeter wielbasis maar die geheim lê eintlik in die 1,807 millimeter bakbreedte van die motor. Verder is daar oorgenoeg bekerhouers, krag- en USB- aansluitingspunte.
Veiligheidskenmerke by die ADAM Rocks sluit in nie minder nie as ses lugsakke, ISOFIX veiligheidsgordel vir kinders, dubbele veiligheidsgordels waarvan die spanning vooraf verstelbaar is, elektronies beheerde stabiliteit (ESP) terwyl die remme die gebruiklike teensluit- en elektronies beheerde remkragverspreiding stelsels insluit. Aansluitend hierby word die bestuurder verder bederf met reënsensors, hoofligte wat outomaties aangaan met ligverswakking, bystand met heuwelstop, ‘n truspieël wat outomaties verdof en ‘n sisteem wat banddruk monitor. Inderdaad ‘n indrukwekkende lys van gerief wat die ADAM Rocks bied.
Maar nog is dit het einde niet. Met sy APA2 (Advanced Park Assist) maneuver die ADAM Rocks homself tot in die geledere van die sewesyfer-prysklas sedans. Die motor sal nou vir die bestuurder besluit of hy in ‘n parkeerplek kan inpas en sal dan aan die bestuurder instruksies gee hoe om ratte, remme en versnelling aan te wend.
Die ADAM Rocks kom met die gebruiklike Opel pakket van ‘n standaard 5 jaar of 120,000km waarborg, padbystand en 3 jaar/60,000km diensplan. Die ADAM Rocks 1.0 ecoFlex se prys is N$273,400.