Hoe voel die binneruim?
As jy in die kajuit van die nuutste Mazda 3 klim, merk jy dadelik die kwaliteit van die materiale op. Alles is goed afgewerk met sagte plastiek in die voorpaneel en deure en middel konsole. Die sitplekke van swart gestikte leer voel en lyk duursaam en dit sit gemaklik met goeie steun vir jou rug. Die res van die binnekant is netjies, lyk stewig en die uitleg is prakties.
Het mens genoeg spasie en speelgoed?
Daar is meer as voldoende beenspasie, voor en vir die agterste passasiers. Vir die bestuurder is daar ‘n aantal hulpmiddels wat baie handig te pas kom en ook veiligheid verbeter. Die knoppe wat in die middel konsole geplaas waarmee die funksies op raakskerm in die voorpaneel beheer kan word is maklik om te gebruik. Daar is ook ‘n aantal skakelaars op die stuurwiel om klank en ander funksies te beheer.
Skitterend. En veiligheid?
Vir veiligheid – en nogal handig – is die waarskuwingsliggies (saam met ‘n gonser) op die buitespieëls om die bestuurder te waarsku teen ander voertuie in die blindekolle links en regs agter. Daar is ‘n klein oplig-skermpie reg voor die bestuurder bokant die wysergroep wat die snelheid van die motor aandui en daarmee saam ‘n beeld vertoon van die spoedbeperking van die sone waarin die voertuig beweeg.
Wat van hantering en rit?
Die nuutste Mazda 3 met sy lang neus, groot wiele en breë houding lyk nogal sportief en die enjin werk baie stil en glad en het voldoende krag, maar ‘n turboaangejaagde enjin met meer wringkrag sou die kar ‘n meer opwindende rit gegee het. Die Mazda is toegerus met lae profiel bande wat ‘n baie goeie vastrap om draaie gee maar aan die ander kant voel dit effe stamperig op ongelyke teerpaaie en is dus nie juis vir grondpaaie bedoel nie. In geheel is die rit egter puik en voel stewig en veilig.