Padtoets: Peugeot 3008

Pure Franse flair

Om na die Peugeot 3008 te verwys as Franse “flair” by uitnemendheid is miskien om jou kop te ver uit te steek aangesien dit ‘n term is wat heelwat verskillende persepsies kan uitlok. Maar dan moet daar ook in gedagte gehou word dat die term “flair” (wat moeilik in Afrikaans vertaalbaar is) ook heel dikwels gebruik word om na die hoë risiko rugby te verwys wat eie aan die Franse is – en soms heel rampspoedige gevolge kan hệ.

Een motorjoernalis het dit miskien die beste opgesom deur die voorkoms van die Peugeot 3008 te vergelyk met die van ‘n verwagtende vrou met stapstewels en ‘n Franse syrok aan! Nie baie vleiend van voorkoms nie, maar soos ‘n verwagtende vrou het die 3008 genoeg ruimte in die buik om aan ‘n jong gesin se vervoerbehoeftes te voorsien. Miskien bietjie vergesog maar tog na aan die kol.

Maar soos die befaamde rugbylegende, wyle oom Bob Louw in sy beste Engels gesệ het “…..looks at the scoreboard,” want in 2010 is die 3008 as die motor van die jaar deur Auto Europa aangewys. Die 3008 is as wenner uit negentien kandidate aangewys en is veral hoog aangeprys vir sy gevorderde tegnologie, styl, aerodinamika, brandstofverbruik, lae CO2 uitlaat, veiligheidskenmerke en waarde vir geld.

Voordat die 3008 buite die grense van Europa bekend gestel kon word was daar dan ook alreeds 40 000 modelle op die kontinent verkoop. Nie sleg nie as mens die bogenoemde onvleiende vergelyking in gedagte hou.!

Die 3008, waarna daar ook as die “Crossover” verwys word, is werklik moeilik klassifiseerbaar in die moderne motormark. Is hierdie produk van Peugeot ‘n veeldoelige voertuig (MPV)? Is dit gebou vir spesiale gebruik (SUV)? Of is dit net nog ‘n luikrug wat met voertuie soos die Nissan Qashqai en die VW Tiguan moet kompeteer?

Peugeot maak daarop aanspraak dat die 3008 die voornemende eienaar iets van alles van bogenoemde bied en nog meer maar dan is daar ook weer beperkings as mens die 3008 van nader bekyk.

Soos bo genoem sal die 3008 nie werklik kan aanspraak maak op ‘n baie sportiewe en indrukwekkende voorkoms nie en is dit veral die prominente en groot sierrooster wat afbreuk doen aan sy voorkoms.

Anders as in die geval van die Qashqai is die 3008 nie beskikbaar in vierwielaandrywing nie en word daar eerder gebruik gemaak van greepkontrole en ‘n elektroniese stabiliseringsprogram wat aan die 3008 uitstekende padhouvermoë verleen.

Alhoewel daar dus kenmerke van ‘n SUV is sal nie baie potensiële kopers die 3008 oorweeg met die oog op ruwe grondpaaie nie.  Maar as familiemotor steek die 3008 werklik sy hand baie hoog op.

Waar die 3008 enigsins miskien in sommige opsigte te kort skiet wat sy estetiese voorkoms betref word daar wat ruimte en tegnologie asook binneafwerking betref, meer as genoeg voor vergoed.  Die bestuursposisie is hoog en die enorme voorruit wat ver vorentoe leun tesame met ‘n glassondak skep nie alleen die indruk van ruimte nie maar getuig ook van ‘n briljante en buitengewone ontwerp.

En van ruimte gepraat – daar is oorgenoeg pakplek vir kleiner items in die binneruim van die 3008 sowel as vir die vervoer van groot artikels.  Sitplekke wat platslaan in geval sodanige groot artikels vervoer wil word sluit gerieflik aan by ‘n bagasieruim wat meer as 500 liter pakplek bied.   Word die alle sitplekke platgeslaan behalwe die van die bestuurder word ‘n enorme 1 604  liter pakruimte beskikbaar.

Die 3008 is verder toegerus met die mees moderne veiligheids- en elektroniese tegnologie.  Indrukwekkend is die ry spaanskakelaars in die middel van die konsole en net onder die ventilasieopeninge.  Spoedkontrole, afstandwaarskuwing, en ander tegniese inligting word of vanaf die stuurwiel of vanaf hierdie skakelaars beheer en gereflekteer op ‘n deurskynende glaspaneel wat bo-op die instrumentepaneel verrys wanneer die enjin aangeskakel word.

Verder verskaf die sentrale rekenaarstelsel handige en gerieflike inligting op ‘n skermpie op die instrumentepaneel.  Mens kan nie anders as om soms bedenkinge te hệ oor die koste-effektiwiteit en noodsaaklikheid van al hierdie ekstras nie.  Om nie die onderhoud daarvan te vergeet nie.

Op intreevlak bied die 3008 ‘n 1.6 VTi  enjin wat 88 kW teen 6 000 rpm en ‘n maksimum wringkrag van 160 Nm teen 4 250 rpm ontwikkel.  Die 1.6 THP-petrolturbo enjin bied ‘n indrukwekkende 115 kW teen 6 000 rpm en 240 Nm teen ‘n uiters lae en handige 1 400 rpm.  Die 3008 is ook beskikbaar in ‘n 2.0liter turbodieselmodel wat ‘n kraglewering van 115 kW en enorme 340 Nm bied en wat ‘n uitstekende brandstofverbruik van 5,5 liter/100km het.

Die intreeprys van die 3008 begin by net oor die N$250 000 vir die 1.6 VTi en N$286 000 vir die 1.6 THP terwyl die duurste en luukse 2.0 liter dieselmodel jou N$341 000 uit die sak sal jaag.  BTW en Co2 belasting is hierby ingesluit.  Peugeot bied ‘n 5 jaar/90 000km diensplan op die 3008 modelle aan.

Leave a Comment