Padtoets: Suzuki Swift 1.4i GLS

Suzuki se nuwe Swift 1.4i GLS bied nou nog meer waarde

Met die herbekendstelling en aanslag van Suzuki op die Suid-Afrikaanse motormark in 2008 het Suzuki se Swift-model aan die voorpunt hiervan gestaan. Met die die aankoms van die eerste nuwe modelle hier te lande kon die maatskappy alreeds spog met 63 Motor van die Jaar toekennings in 19 lande wêreldwyd, ondere andere in lande soos Indië, Ysland, Asustralië, Ierland, Uruguay en Japan.

In die Junior Wêreld Rally Kampioenskappe het die Swift gewoonlik ook onder die eerstes klaargemaak en in 2007 is die wêreldtitel in hierdie resiesklas verower.

Geen wonder dus dat Suzuki as’t ware die Swift beskou het as sy troefkaart om ‘n kleim aftesteek in die pryssensitiewe kompakte motorsektor wat besig was om vinnig binne die passasiersmotormark te groei. Met sy sportiewe en gesofistikeerde voorkoms vir ‘n luikrugmotore was dit dan ook geen verrassing nie dat die Swift ‘n uiters gewilde mededinger in sy klas geword het. Binne die eerste maand van verkope het hierdie gewilde nuwe model ‘n indrukwekkende 132 eenhede verkoop wat sy eerste jaar met ‘n sesmaande sluitingstotaal van 1281 eenhede afgesluit het. Ten spyte van stram ekonomiese omstandighede en ‘n moeilike tydperk vir die motormark het die Swift steeds ‘n styging in aanvraag ervaar.

Suzuki se gewilde Swift-luikrugmotor, wat in 2011 bekendgestel is, het pas ’n aantal verbeteringe vir die 2014-modeljaar ondergaan. Die meerderheid veranderinge is op ’n varser voorkoms gerig, maar die lys standaardtoerusting is ook aangepas wat meebring dat die Swift GL en die GLS, wat ook die toetsmotor was, nou nog selfs meer waarde vir geld bied.  In die knellende greep van voortdurende verhogings in brandstofpryse is die uiters ekonomise brandstofverbruik van die Swift werklik ‘n koel briesie vir motoriste

In die binneruim toon die Swift ‘n deftiger, moderner en meer gesofistikeerde voorkoms met Bluetooth-koppeling wat een van die GLS se standaard kenmerke is.  Hierdie gevorderde tegnologie bied aan die insittendes nie net alleen koppelinge van selfone en draadlose met die motor se klankstelsel nie, maar kan musiek vanaf slimfone en Bluetooth-toegeruste toestelle ook deur die klankstelsel herlei word. Die beheer van togsnelheid vanaf die meerfunksie-stuurwiel deur middel van kontroles is nog ‘n standaardkenmerk wat veral byval behoort te vind by die jonger geslag. Aanboord van die GLS word die bestuurder verwelkom deur leersitplekke, ‘n driespeek stuurwiel met leeromhulsel met hoogte- en reikafstand verstelling en sleutellose sluit- en aansit/afsit funksie deur middel van ‘n drukknop. Binnegemak word ondersteun deur outomatiese temperatuurkontrole. Verder is die GLS met nie minder as ses lugsakke toegerus om veiligheid van veral voorste insittendes te verseker.

Verdere kenmerke sluit ook elektries-verstelbare buitespieëls, hoogteverstelling vir die bestuurdersitplek, en ’n meerfunksie-ritrekenaar in wat inligting soos die buitetemperatuur, brandstofverbruik en reikafstand vertoon.

Wat die buitevoorkoms van die 2014 Swift betref is die splinternuwe sierrooster en die herontwerpte voorste buffer miskien die mees opvallendste. Die GLS-model word ook voortaan met LED-dagryligte toegerus terwyl die derde hooggeplaaste remlig ook van ‘n helderder LED-eenheid gebruik maak. Voor rond misligte die verbeterde ligtegroep se verbeterde funksionaliteit af. Die GLS word van die GL onderskei deur sy opvallende multi-speek 16dm allooi wiele en ‘n vergrootte naafdeursnit van R16 met ‘n gevolglike verlaagde bandprofiel. Dit gee aan die GLS nie net ‘n groter sportiewer voorkoms nie maar verbeter ook die hanterings- en padhouvermoë.

Wat die aandryfstelsel betref maak die  2014 Swift-reeks steeds van dieselfde doeltreffende, brandstofingespuite viersilinder-kragbron gebruik. Die sogenaamde K14B-eenheid se maksimum-kraglewering beloop 70 kW by 6 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 130 Nm by 4 000 r/min.  Uiters ekonomiese brandstofvebruik bly ’n uitstaande kenmerk van die hele Swift-reeks. Die vyfgang-handratweergawes behaal ’n verbruiksyfer van net 5,5 liter/100 km in die gekombineerde siklus, met ‘n gepaardagaande CO2-uitlaatgasvlak van 132 g/km.

Die model wat toetsbestuur is was die uitmunende, ekonomiese en bekostigbare GLS-model, maar drie verdere modelle is beskikbaar en pryse is as volg:

2014 Swift 1.4 GL-handrat       N$165 900
2014 Swift 1.4 GLS-handrat       N$186 900
2014 Swift 1.4 GLS Outomaties   N$201 900
2014 Swift 1.6 Sport           N$223 900

Die pryse sluit metaalverf in, asook die Suzuki Complete-pakket, wat alle fasette van naverkope-diens behels.

Die Suzuki Swift-reeks word deur ’n omvattende waarborg van drie jaar/100 000 km gedek, asook roesweerdekking van ses jaar. Boonop is ’n diensplan van drie jaar/60 000 km ook standaard, tesame met ’n AA-bystandsplan van drie jaar.

Leave a Comment