Padtoets: Volkswagen Golf 7,5 GTi

33 Miljoen gelukkige kliente

Volkswagen se nuwe Golf GTi is dalk meer as net die “sportiewe” pakkie waarna jy gesoek het. Bekend as die Golf se tweede vinnigste pakket naas die ikoniese Golf R, sou mens jou misgis as jy dink dat hierdie voertuig nét goed is vir die baan. Hierdie is meestal die probleem in die vervaardiging van warm luikrugte wat na Suid Afrika kom.

Ná deeglike toetse tydens die Golf GTi se bekenstelling, sowel as ‘n week waarin ons die voertuig beter kon leer ken, kan daar definitief bevestig word dat die nuwe GTi veel meer is as net ‘n mooi ratse gesiggie.

Met die bekenstelleng in Mei is daar aan ons genoem dat Suid Afrikaners die meeste GTi’s ter wêreld koop. ‘n Merkwaardige 33 Miljoen GTi’s is verkoop sedert die bekenstelling in die 80’s en 55% van alle nuwe Golf verkope, is te danke aan die GTi handelsmerk. Indien hierdie artikel miskien verlore geraak het in die geheue-argief van ons lesers, klik gerus op hierdie volgende skakel:

GTi Launch Report

Om weer die nuwe GTi te toets ná die bekenstelling van die GTD en R, het vir ons duidelik gewys waarom die GTi so goed verkoop in Suider Afrika en dalk steeds ver voor die GTD se verkope mag wees.

Die Golf GTi 7.5 self

Met die nuwe GTi kom “Adaptive cruise control”, ‘n afstand bepaling tussen voertuie rondom die kar en dan ook natuurlik die gewone stop/start sisteem. Hierdie sisteem aktiveer sodra die voertuig voor jou begin beweeg. Volkswagen het ‘n groot fokus op self-mobiele voertuie en hierdie is stap 1 van 4.

In terme van veiligheid word die nuwe Golf toegerus met blinde kol monitering, self-beheerde noodstop, sleepwa-hulp en parkeer-hulp.
Alhoewel die nuwe GTi se voorkoms soortgelyk aan dié van die GTi 7 is, het dit meer aggresiewe lyne, ietwat soortgelyk aan die Clubsport.

Die GTi kom ook standaard met 18-duim Milton Keynes dikspeek wiele, maar sal ook veel beter lyk met die opsionele 19-duim dunspeek wiele (sien foto’s). Die GTi kom ook standaard met LED hoofligte, sowel as LED agterligte.

Dit is eintlik binne die voertuig waar die meeste veranderinge plaasvind. Voor die bestuurder kan ‘n volle gedigitaliseerde pakket ingesit word vir N$8,000. Hierdie is baie handig, siende dat Audi se tegnologie die navigasie reg voor die bestuurder plaas. ‘n Tweede ekstra is ook een van die beste gedigitaliseerde informasiepakette wat ons tot dusver gesien het. Dit kos wel N$20,200, maar is baie handig, maklik om te beheer, naby aan die bestuurder en met gebarebeheer.

Afhangende van die onmiddelike behoeftes van die bestuurder kan die Gti ook in Eco, Comfort,Normal, Sport en Individual funksies geplaas word om sodoende die suspensie, stuurbeheer, rewolusies en brandstofverbruik te verander. Skakel oor na Eco en Comfort en die ratwisseling sal plaasvind onder 2000 toere. Brandstofverbruik sal dan onder die 6.4 liter / 100 km merk wees.

Skakel egter oor na Sport en die toere sal hardloop tot by die rooi lyn (ongeveer 6,000 opm), suspensie sal verhard en die brullende enjin sal meer prominent raak. Indien die DSG outomatiese ratkas nie die behoeftes van sekere bestuurders aanspreek nie, sal die ratwisseling pedale agter die stuur help om die revolusies op te stoot sonder enige moelikheid.

Met 169 kW en 350 Nm is hierdie luikrug nie stadig nie en alhoewel dit net voorwiel aangedrewe is, sal die Gti gemaklik homself soos ‘n 4-trek voertuig gedra rondom ‘n 90-grade draai.

Hoe vergelyk die Gti met die Golf R en die GTD?

In die tweede paragraaf van hierdie artikel het ons genoem dat die GTi, volgens ons, steeds beter sal verkoop alhoewel die nuwe GTD pas die Suid-Afrikaanse mark gehaal het en die Golf R ook aansienlike verbetering ondergegaan het.

Volkswagen noem dat hulle onlangs ‘n oomblik van heroorweging gehad het, waar die handelsmerk teruggeneem is na sy filosofiese wortels. Dit is duidelik sigbaar in elk van hul nuwe produkte. Elke voertuig word met kwaliteit versekering vervaardig, maar ook spesifiek vervaardig volgens die aanvraag van die kliente.

Hierdie is duidelik sigbaar in die vervaardiging van die nuwe Gti, GTD asook die Golf R. Die Gti is na ons mening egter ‘n perfekte kombinasie van die ander twee. Nie net is dit ‘n kragtige klein luikrug nie, maar dit bevat ook die gemak en plesier van ‘n langpad voertuig.
Die GTD is wel goedkoper en het dieselfde krag as die GTi, maar is ‘n rustiger voertuig en het nie daardie sensasionele versnelling nie. Dit is wel een van die gemaklikste en ekonomiesste Golfs op die mark, en ietwat goedkoper as die GTi. In eie reg is die GTD ‘n uitstaander, maar kom ons los hierdie vir ‘n volgende artikel.

Die Golf R aan die ander kant is ook heelwat verander na aanvraag van die klient. Nie net het dit 4-wiel trek nie, maar hou dit ook heelwat meer krag (213kW / 380 Nm). Alhoewel dit 100 kg swaarder is as die GTi (met die 4-wiel trek onderstel), voel dit baie meer rats. Dit kan tóg ook ‘n rustige voertuig wees, maar nie so rustig soos die GTi kan wees nie. Die GTi se gemak en suspensie is ietwat gemakliker.

Teen N$652,000 is die Golf R duurder as ons GTi (N$644,000 met alle ekstra’s) en sodra die basis prys vir die 2.0 liter TSI GTi ingereken word (N$545,000) is die GTi veel goedkoper as die Golf R.

In alle eerlikheid is die GTi (0-100 km/h – 5.9 sek) ietwat stadiger as die Golf R (0-100 km/h – 4.4 sek) en ook dalk stadiger as ander vervaardigers se warm luikrug voertuie, maar op Namibiese paaie mag hierdie dalk al wees wat nodig is.

Die kombinasie tussen sensasionele versnelling, gemak en praktiese gebruik, mag dalk steeds hierdie GTi die beste verkoper in die Golf reeks maak. ‘n Verbetering van veiligheid en die bekendstelling van duursame en innoverende tegnologie, sal hierdie GTi nog meer aantreklik maak.

Die grootste nadeel waarmee jy as eienaar dalk sal sukkel is dat jy nie die enigste GTi op die pad sal wees nie. Golf het in die afgelope 3 maande baie naby aan die top-10 verkope in Suid Afrika (met twee maande in die top 10) spandeer.

Alle Golfs kom ook standaard met ‘n 5-jaar / 90 000km diensplan.

1 thought on “Padtoets: Volkswagen Golf 7,5 GTi”

Leave a Comment