Bekendstelling: 2013 Mitsubishi Triton Enkelkajuit

Onbekend is onbemind

Met die bekendstelling van die enkelkajuit Triton-bakkie verlede jaar het Mitsubishi Motors ‘n aggressiewe bemarkingstrategie van stapel gestuur in ‘n poging om weer sy regmatige plek in hierdie uiters mededingende mark in te neem.

Mitsubishi se Colt was ‘n gewilde veeldoelige bakkie wat in 2007 deur die Triton vervang is maar ongelukkig het Mitsubishi net voorsiening gemaak vir die dubbelkajuit- en verlengde-kajuitmark sonder om plek in te ruim vir ‘n regte plaaswerkesel enkelkajuit.  Dit dis juis hierdie gaping wat die vervaardiger nou hoop om te vul met die toevoeging tot sy reeks van die 4×2 enkelkajuitbakkie wat in drie variante beskikbaar is.

Dit sal die bestaande reeks van twee Club Cabs en drie premium Double Cabs aanvul.  Sedert die bekendstelling van die Colt-reeks in 1995 het die die maatskappy meer as 100 000 eenhede van hulle verkoop en dit laat mens altyd wonder hoekom so baie vervaardigers so dikwels torring aan ‘n wenresep.?  En verder; hoekom ‘n ietwat vertraagde markaksie wanneer statistieke duidelik bewys dat die eenton enkelkajuiters ongeveer 30% van die bakkiemark in Suid-Afrika uitmaak?.

Intussen het die verspreidingsregte van Mitsubishi produkte oogegaan vanaf Mercedes-Benz van Suid-Afrika na die Imperial Group wat die produk blootstel aan die korporatiewe mark sowel as ‘n groter toegang tot die nuwevoertuig mark, aldus Mitsubishi se bemarkingsdirekteur, Nicholas de Canha.  Volgens de Canha sal die intreeprys van N$179 000 vir die basiese petrolmodel, amper N$10 000 laer as die naaste Japanese en Europese kompetisie, ‘n groot trekpleister vir die voornemende individuele of vlooteienaar.

Met hierdie uiters aanloklike intreeprys, tesame met die verswakking van die rand en die versterking van die Japanese yen, is Mitsubishi se verspreiders baie seker dat ‘n markaandeel van 8% tot 9% met die nuwe enkelkajuitbakkie binne bereik is.  Die Colt-model het in sy beste jaar ‘n 11,5% van die bakkiemark beset.

Die enkelkajuit Triton is beskikbaar in drie modelle; die 2.4-liter petrolenjin GL, die ietwat luukser GLX  en dan ook ‘n GLX met ‘n 2.5-liter turbo-dieselenjin.

Die intreevlakmodelle vergelyk uiters goed en selfs beter as die naaste kompeteerders en standaard eienskappe is byvoorbeeld, ABS-remstelsel, elektroniese verspreiding van remaanwending, ‘n verhoogde onderstel en dubbelle lugsakke.  By die GLX-modelle word verdere luukse bygevoeg soos lugversorging, elektriese vensters en ‘n uitstekende klankstelsel terwyl die diesel GLX ook met ewenaarsluiting toegerus is.

Beide die diesel- en petrolmodelle is toegerus met viersilinder enjins wat in die geval van die petrolmodelle 97 kW krag lewer teen 5 250 rpm en 202 Nm wringkrag by 4 000 rpm beskikbaar maak.  Die 2.5-liter turbodiesel, daarenteenontwikkel 100 kW by 4 000 rpm maar vergoed met ‘n massiewe 314 Nm wringkrag wat teeb 2 000 rpm beskikbaar is.  In beide modelle word krag deur middel van ‘n vyfspoed handoorskakeling ratkas gebruik gemaak om aandrywing na die agterwiele te verplaas.  ‘n Groot plus van die Triton is dat daar byna geen teken of gevoel van turbotraagheid is nie en die kraglewering skop in sodra daarom gevra word.

Vragruim is sekerlik ‘n belangrike aspek vir veral kopers in die handel en landbou- aktiwiteite.  Die vragruim van die enkelkajuit Triton sal hulle nie teleurstel nie.  Die lengte van die bakruim is 2 220 mm, die wydte 1 470 mm en die diepte van die bak is 405 mm en is toegerus met dubbelpanele.  Drakrag van die Triton is een ton en die maksimum trekkrag vir al drie modelle is 1 200 kg.  Soos verwag kan word van ‘n werkesel, is die vering aan die harde kant as daar nie ‘n vrag gedra word nie.

Ook die binneruim van die Triton bied ‘n eenvoudige dog funksionele ontwerp.  Die sitplek bied ruimte vir drie persone alhoewel die derde sitplek heel moontlik net vir die junior in die gesin sal tevrede stel.  Die goed ontwerpte instrumente paneel komplementeer die res van die afwerking wat met duursame viniel toegerus is.

Selfs op ‘n uiters stamperige grondpad skep die Triton ‘n gevoel van stewigheid met geen hoorbare teken van enige geluid wat dui op ‘n los onderdeel erens nie.  Die stuurwiel se hoogte kan verstel word vir ‘n gemaklike rit terwyl daar baie stoorruimte in die paneekkissie is wat aangevul word met ruimte in die binnepanele van die deure.

Die Triton is toegerus met ‘n alarmstelsel en twee kwaliteit luidsprekers vir die radio/CD speler wat by die intreevlak modelle opsioneel is maar by die luukser GLX standaard is tesame met ‘n sentrale sluitmeganisme.

Die Triton kom met ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg en ‘n 5 jaar/75 000 diensplan en vir die dieselmodel  ‘n 5 jaar/70 000 diensplan.  Diensintervalle vir die petrolmodelle is elke 15 000 km en vir die dieselmodelle elke 10 000 km.

Die 2.4 Mpi SC 4×2 GL-petrolmodel is soos die GLX modelle met ‘n vyfgang handratkas toegerus en die intreeprys van N$179 900 vir eersgenoemde plaas die Triton in ‘n uiters gunstige kompeterende posisie.  Die luukser petrolmodel is N$10 000 duurder terwyl die GLX dieselmodel teen N$239 900 verkoop.

Mitsubishi gaan beslis met hierdie toevoeging tot sy bakkiereeks sy stem dik maak in hierdie marksegment en gaan hy hopelik weer bemind raak soos sy kopers hom leer ken!

Leave a Comment