‘n Ster met Snelheid!
Dit lyk partykeer of name vir nuwe motors en modelle begin opraak. Neem nou maar die naam wat Hyundai gekies het vir sy sportkoepee met sy nuwe, 150 kW turbo-enjin, die Veloster. Maar wat is daar nou eintlik in ‘n naam?
William Shakespeare het hierdie vraag al gevra toe Engels nog in sy kinderskoene was! Wat ek graag wil aflei is dat die “velo” gedeelte van die naam met spoed te doen het, so iets soos die Engelse “velo-city”.
Die toets vir enigiets, van kaas tot wyn, is nie die naam wat op die bottel of die verpakking staan nie maar hoe dit proe. Dieselfde geld al hoe meer vir motors; die vorm van die logo op die sierrooster is nie ‘n waarborg dat hy noodwendig goed of nie goed is nie, dit is die verrigting wat tel, veral by ‘n sportiewe motor soos die Veloster.
Die Veloster is nou al ‘n jaar of drie by ons op die mark, die motor met die sportmotor voorkoms en van die een kant af lyk soos ‘n egte gran turismo toermotor en van die sypaadjie-kant af soos ‘n vinnige, plat sportsedan. Die Veloster is in hierdie opsig uniek; so ook gaan die koper wees: Iemand anders as die ander in die buurt.
Die glanspunte van die nuwe Hyundai is die nuwe 1,6 liter turbo-petrolenjin onder die enjinkap, die keuse van twee ratkaste, nuwe verbeterde binne-afwerking en dinge soos die dubbele uitlaatpype en die versnelling van 0-100 km in 7,3 wat die koppe sal laat draai – en ook swaai. Sit goeie hantering, goeie suspensie en uitstekende stuurstelsel by en die resep is ‘n wenner. Vra maar vir die joernaliste wat hom met die bekendstelling om die draaie in die Bolandse passe gelooi het.
Die kenmerk van die 1,6 liter GDI turbo-enjin is sy kraglewering wat hom laat uitstyg bó die van sy voorganger wat 103 kW ontwikkel het en 167 Nm beskikbaar gestel het. Die nuwe eenheid ontwikkel 150 kW teen 6 000 rpm en stel 265 Nm beskikbaar tussen ‘n rustige 1 750 – 4 500 rpm. Dit beteken baie krag teen rustige enjintoere en lae geraasvlakke vir die bestuurder en passasiers. Of is dit hoe ‘n mens nie ‘n sportiewe motor bestuur nie? Ongeag die bestuurstyl is die Veloster wakker en doen hy wat van ‘n sportmotor verwag word.
Die ratkas is natuurlik dié plek waar dinge gebeur as ‘n mens haastig raak. Die handratkas beskik oor ses gange en die outomatiese een oor sewe gange. Die verskil in verrigting tussen die handrat- en outomatiese weergawes is onkonvensioneel: die handrat versnel tot by ‘n maksimum snelheid van 224 km/h, die outo behaal 225 km/h. By versnelling met die outo-model is hy ‘n fraksie van ‘n sekonde vinniger om in 7,3 sekondes van 0-100 km/h te versnel. Hierdie syfers is tekens van die ongelooflike ontwikkeling wat daar in die ratkasbedryf plaasgevind het. Soveel so dat die outo-model se brandstofverbruik ook laer is as dié van die handrat.
Hoekom dan nog handrat-modelle koop terwyl daar in Amerika feitlik geen handratmodelle op die mark is nie? Die antwoord is seker maar die mag vandie gewoonte, veral by verrigtingmodelle waar die bestuurder wil voel dat hy alleen besluit wat die beste rat is om in te wees! As ‘n ouer persoon wat nou self ‘n outmatiese ratkas verkies vir die daaglikse stilstaan in spitsverkeer, het selfs ek die handrat-weergawe verkies vir juis daardie gevoel; jy weet nog steeds beter as die rekenaar wat hierdie soort van dinge beheer as die draaie met entoesiasme geneem word! Die groot pluspunt in die Veloster Turbo-ervaring was dat ek weer soos ‘n twinigjarige gevoel het!
Ander dinge wat tot die sportiewe gevoel bydra is die uitstekende suspensie waar die bandgrootte (18”), die fermheid van die mikvere voor en wringstaafsuspensie agter almal in harmonie saamwerk. Die elektries-beheerde kragstuur is akkuraat en het presies die regte “gevoel” om nie “dood” of te oorywering te wees nie’ die pad word op die regte manier “gevoel”.
Wat van die res?
Al die elektroniese veiligheidseienskappe en hulpmiddels is daar, die leser kaen die rympie al by hiedie tyd: ABS, EBD en BA. Laasgenoemde beteken natuurlik dat die maksimum remkrag in ‘n noodgeval beskikbaar is; ‘n nuttige hulpmiddel is die wegtrekhulp teen ‘n opdraand. (Handig vir iemand wat moet uitpasseer vir ‘n bestuurlisensie).
Nadele? Ons het nie die sitplekke agter getoets nie en op die oog-af lyk die Veloster nie na ‘n vyfpersoon voertuig nie. Daar is wel ‘n noodwiel maar is 15” en van die dun tipe om plek in die bagasiebak te spaar.
Mooi dinge? Die Veloster Turbo het ‘n 5-jaar of 150 000 km waarborg en sluit ook ‘n 5-jaar of 90 000 km diensplan in.
Die pryse?
Die handrat 1,6 GDI Elite gaan jou N$379 900 uit die sak jaag (ons keuse) en die DCT outo N$399 900.
Naskrif: So pas gehoor van Hyundai tydrenmotors wat tweede en derde plekke in die wêreldreeks in Italië verwerf het. Hulle deel dieselfde enjin met die Veloster, net heelwat “warmer”!