Bekendstelling: 2018 Nissan Qashqai

Nissan Qashqai word opgeknap.

Nissan het in 2007 (2008 in Suid-Afrika) die eerste sogenaamde “crossover” aan die wêreld bekend gestel, nl die Qashqai. Al het mense aanvanklik gesukkel met die snaakse naam is daar intussen 3,3 miljoen in 99 lande verkoop. Nou is die Qashqai opgeknap en alhoewel daar min veranderings aan die buitekant is, is daar binne heelwat verbeterings aangebring en hy spog nou met die jongste tegnologie op die mark.

Van voor is die daar ‘n nuwe buffer, sierrooster en enjinkap. Die voorste buffer het nou groot luginlate aan die buitekant wat hom meer aggressief laat lyk. Die bekende V van chroom in die sierrooster is nou laag af in die buffer en gee die Qashqai ‘n prominente voorkoms. Daar is LED gloeilampies om die halogeen hoofligte wat deur die dag skyn om die motor meer sigbaar te maak. Die agterbuffer is ook herontwerp.

Vir die koper is daar altesaam is sewe weergawes van die Qashqai om van te kies met verskeie afwerkingsvlakke. Dit sluit twee opsies met outomatiese ratkaste (CVT of palwisselratkas) in. Die intreevlak is word die Visia genoem, en die duurste model, heet die Tekna, wat dan ook die meeste en nuutste geriefs- en veiligheidskenmerke bevat.



Binne die voertuig is die jongste verbeterings sigbaar. Die rugleunings van die voorste sitplekke is smaller gemaak om die agterste passasiers se sig vorentoe te verbeter. Terselfdertyd is die rugleunings  aangepas om beter steun aan die voorste insittendes te bied. Die vensterskakelaars kan ook nou met ‘n enkele druk heeltemal oop en toe gemaak word.

Die duurder modelle beskik oor ‘n aantal hulpmiddels vir die bestuurder om meer en beter gerief en veiligheid te gee. Daar is ‘n bindekolgonser wat handig is as jy van bane in verkeer wil verander. Die Qashqai het ‘n selfstop-funksie en gonser wat onder 60km/h aktief is, dws in stadsverkeer. Met behulp van radar in die neus word voetgangers, diere en stadige of stilstaande voertuie “raakgesien” wat dan eers ‘n gonser aktiveer waarna die remme self aanslaan. Dit het ook vyf kameras reg rondom die voertuig wat vir verskeie doeleindes gebruik word. Een kamera kan bv dwars kyk of daar aankomende verkeer van agter kom as jy uit ‘n parkeerplek ry. ‘n Ander stel kameras gee ‘n beeld van bo sodat jy rondom die voertuig kan sien wanneer jy wil parkeer.  Vir veiligheid is daar ‘n bewegingsensor in die agterbuffer om veral kinders agter die motor op te merk as jy agteruit ry soos byvoorbeeld uit jou motorhuis.

Net die top model, die Tekna is toegerus met ‘n sateliet navigasie stelsel. Al die weergawes het ‘n volledige radio/CD/MP3/USB klankstelsel terwyl die Tekna ’n raakskerm beheer hiervoor het.

Die twee enjins waaruit jy kan kies, is dieselfde beproefde eenhede wat voorheen in die Qashqai was,  nl ‘n 1.2 liter turbo petrol enjin en ‘n 1.5 liter turbo diesel. Die outomatiese ratkas word slegs met die petrol enjin gekry. Volgens Nissan is die brandstofverbruik 6,2l/100km vir die petrol en 4,2l/100km vir die diesel model. Omdat al die enjins turbos het, is die wringkrag goed en is beskikbaar teen lae enjinrewolusies. Die CVT outomatiese ratkas is nie almal se gunsteling tipe ratkas nie, maar saam met die turbo petrolenjin werk dit goed vanweë die wringkrag teen lae toere.

Vir die nuwe Qashqai is daar stywer verstellings aan die skokbrekers aangebring en ‘n dikker wringstaaf agter sodat die rit nou effe fermer is.

Die fermer veerstelsel gee die Qashqai ‘n gevoel van vertroue op die pad. Nissan het moeite gedoen om geraas, vibrasies en stamperigheid te verminder en het meer isoleringsmateriaal oral ingesit. Enjin geraas  is verminder wat veral op die diesel-weergawes merkbaar is.

Die verskeie weergawes en pryse van die Qashqai is:

1.2 T Visia R 334 900
1.2 T Visia + Allooiwiele R 346 700
1.2 T Acenta R 367 000
1.2 T Acenta CVT R 381 000
1.2 T Acenta Plus CVT R 394 000
1.5 dCI Acenta R 394 000
1.5 dCI Acenta Plus R 407 000
1.5 dCI Tekna R 434 000

Die Nissan Qashqai word verkoop met ‘n 6 jaar of 150 000km waarborg en ‘n uitgebreide  3 jaar of 90 000km diensplan. Die plan – Nissan Assured – sluit ook 24 uur padbystand in.

Die Qashqai is ‘n stylvolle, gemaklike voertuig wat bedoel is vir die stedelike omgewing – daarom dat hy so gewild is in Europa. Hy is maklik om te bestuur, ruim, lig op brandstof (veral die diesel-model) en veilig. Al bemark Nissan die Qashqai as ‘n stedelike voertuig, sal ek nie skroom om enige tyd die langpad met enigeen van die weergawes aan te druf nie. Sommige van die goedkoper variante is toegerus met hoër profiel bande (215/60R17) wat aanbeveel word as die voornemende koper dikwels op grondpaaie gaan ry.

Ander fabrikate wat oorweeg kan word teenoor die Qashqai is die nuwe Opel Crossland, Renault Captur of die Kia Soul.

Johan Mouton,  Februarie 2018

Leave a Comment