Bekendstelling: Audi A3 Sportback

Audi verbeter en brei sy A3-reeks verder uit

Sedert die bekendstelling van Audi se A3 Sportback in 2005 aan die Namibiese en Suid-Afrikaanse mark is ongeveer 15 500 eenhede verkoop en boonop is hierdie gewilde model in 2006 as die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar aangewys.

Die Audi A3 Sportback was egter gereed vir ‘n verjongingskuur en het dan ook so ‘n twee maande of wat gelede sy nuwe gesig gewys.  Sou mens die oue en die nuwe nie langs mekaar staan maak en weer kyk nie, sou die veranderinge en verbeteringe miskien nie dadelik opgeval het nie.  Maar veranderinge en verbeteringe is daar gewis.  Die nuwe A3 TFSI se wielbasis is verleng en meet nou 2.63 meter wat ‘n verlenging van 58 mm teweegbring.

Op die oog af lyk dit miskien nie aardskuddend nie, maar dit bring tog aansienlik meer been- en kopruimte vir insittendes agter terwyl die bagasieruimte tot 380 liter vergroot wat, met die platslaan van die sitplekke, tot soveel as 1 220 liter pakruimte verskaf.

Die mees opvallende verandering is egter aan die voorkant aan die enkelraam sierrooster met die groot luginlate net daaronder te sien.  Agterlangs spog die nuwe A3 met LED ligte in kombinasie met xenon hoofligte.  Verder dui twee parmantige dubbel uitlaatpype daarop dat ons nie hier net met ‘n mooi gesiggie te doen het nie.

Dit is juis as dit by werkverrigting kom dat die A3 TFSI werklik aangenaam verras.  Die “nederige” 1.4 liter enjin klink miskien ietwat skamper as mens die grootte van die A3 in ag neem, maar klein en groot was nog altyd relatiewe begrippe en sal so bly veral as mens ietwat uit ‘n meer TFSI-oogpunt kyk.

Audi was die eerste vervaardiger in die wêreld wat direkte brandstofinspuiting met turbo-aandrywing gekombineer het.  Vergeleke met die konsvensionele V6-enjin lewer so ‘n kombinasie dieselfde kraguitset en aandrywing met 10 tot 15% minder brandstofverbruik en uitlaatgasse.  Hierdie voordeel word verkry deurdat brandstof direk in die ontstekingskamer verdamp en sodoende hitte uit die luginlaat verwyder.

Dit bring nie net verhoogde kompressie mee nie, maar los ook die ou probleem van turbogeraaas op. Daarby, natuurlik, word die probleem van turbo-traagheid uitgeskakel en sodoende ‘n meer direkte response op versnelling bereik wat die Audi 3 TFSI instaat stel om die 0 -100 km/h binne 9.5 sekondes te bereik.  Die aluminium enjinblok is nou ook 21 kg ligter en dra by tot ‘n optimum kraguitset van 90 kW en 200 Nm wat ‘n topspoed van 203 km/h lewer. Gemiddelde brandstofverbruik in ‘n uiters ekonomiese 5.3 liter per 100 km maar toon selfs nog gunstiger verbruiksyfers en werkverrigting in die geval van die outomatiese  model.

Die nuwe Sportback is beskikbaar in ‘n keuse van een TDI en twee TFSI modelle.  Aan die top van die modelreeks pryk die 1.8 liter met die kragtigste enjin wat 132 kW en 250 Nm lewer en die 0 – 100 km/h merk binne 7.3 sekondes en ‘n topsnelheid vna 232 km/h bereik.  Brandstofverbruik in hierdie geval is ‘n uiters bruikbare 5.6 liter per 100 km.  Ook in die pyplyn erens in Augustus is ‘n 1.2 liter model waaroor daar nog nie veel bekend is nie.

Wat die binne afwerking en funksies van die A3 betref is daar niks van aardskuddende omvang nie behalwe miskien die LCD-inligtingskermpie wat netjies uit die instrumentepaneel uitgly wanneer die A3 aangeskakel word. Verder is die plasing en ontwerp van die instrumente en algemene binneontwerp eerder funksioneel as van buitengewone tegnologiese omvang.  Miskien juis wat die deursnee bestuurder deesdae verlang eerder as ‘n duisternis van elektroniese “gadgets”.  Tog is die algemene luukses van lugreëling, Bluetooth konneksie, outomaties hooflig-aktivering en reënveërs, elektronies verstelbare buitespieëls, klank- en sluitafstandbeheer aanwesig in wat eerder beskryf kan word as ‘n byna Stoïnsynse maar praktiese uitleg en ontwerp van die hoogste kwaliteit en orde.

En ‘n verdere pluimpie vir die A3.  Vir ‘n bestuurder met ‘n no. 12 skoen is die voetpedale  wyd geplaas met ekstra ruimte vir ‘n rusplek vir die linkervoet wanneer alles in orde gebring is vir die lang oop pad en die spoedkontrole gestel is met ‘n ver uitdrukking in die oë op die Karoo horison.  Met ‘n uitstekende klanksisteem en iPod en USB verbinding kan jy maar voortsnel op die langpad en miskien net so nou en dan bietjie ritme in jou lyf sit sonder om die greep op die langpad te verloor.  Daarvoor sal die A3 se gevorderde tegnologies en meganiese ontwerp sorg.  Met 50 liter brandstof in die tenk en uitstekende ekonomiese brandstofverbruik kan daar as’t ware van horison na horison gereis word.

Teen pryse van N$290 500 vir die TFSI handratmodel en N$307 500 vir die outomatiese model is die Audi A3 TFSI beslis ‘n oorweging vir die familie wat van voornemens is om of uit te brei of van die kuikens aanstons uit die nes te skop.  Die waarborg omvat ‘n jaar sonder beperking op afstand en ‘n 5 jaar/100 000 km onderhoudsplan.

Leave a Comment