Bekendstelling: Geely Emgrand

Verhoog die aansien van Chinese motors

Met die bekendstelling van die Geely Emgrand in Suid-Afrika het die privaatbeheerde Geely Automotive Group in China die werklikheid onderstreep wat al telkemale in hierdie rubriek herhaal is.  Kortliks kom dit daarop neer dat elke slag wat ‘n nuwe model wat plaaslik bekend gestel en toetsbestuur word, dit duidelik is dat die kwaliteit van Chinese motorvoertuie oor die laaste paar jaar aansienlik verbeter he,t en steeds aan die verbeter is.

Toe Geely destyds oor die Volvo-oorname begin onderhandel het, het die maatskappy reeds die behoefte vir beter gehalte motors identifiseer, hetsy teen ’n effense hoër prys. Waarde vir geld was egter steeds bo-aan die sakelys, en die Emgrand-subfabrikaat is gebore.  “Dit bewys dat ons 100% in die kol is met die besluit om die nuwe EC7 in Suid-Afrika bekend te stel,” sê Henri Meistre, besturende direkteur van Geely Suid-Afrika. “Die dae van goedkoop Chinese motors met basiese toerusting en swak gehalte is verby!

Geely se nuweling vir die Suid-Afrikaanse mark, die EC7 wat onlangs hier onder die Emgrand-vaandel bekend gestel word, het weer die topposisie in die Chinese tuismark vir Maart aangeteken. Geely het die vorige gunsteling – wat pas vir sy tuismark opgekikker is – sodoende saam met ’n ander losstaande vervaardiger geheel en al van die Top-20-lys afgeskop.

Die nuwe Geely Emgrand EC7 is van meet af ontwerp om ’n wêreldmotor te wees. Uitstaande tegnologie en verrigting wat Chinese standaarde oortref, is alles deel van die projek. Massiewe binnelandse en internasionale verkoopsukses is bewys van die feit dat Geely se nuwe visie – gehalte en waarde vir geld – besig is om vrugte af te werp.  Die nuwe model, wat teen net N$149 990 vir die Emgrand EC7 GL Luxury (N$164 990 vir die GT Executive) bekend gestel word, pronk met ’n magdom gemak-, weelde- en veiligheidseienskappe.

Een van die kerneienskappe van die nuwe Emgrand EC7 is die groot been- en kopruimte vir die voorste en agterste insittendes.  Die agterste passasiers het ’n massiewe 931mm van die rugleuning tot die agterkant van die voorsitplek, wat genoeg beenruimte vir die meeste Suid-Afrikaners laat – selfs wanneer die voorste sitplekke al die pad agtertoe geskuif is.  Die binneruim is in leer afgewerk met ‘n bestuursitplek wat elektronies verskuifbaar is.  Die Executive model spog ook met ‘n sondak.

Aktiewe en passiewe veiligheidseienskappe sluit in ABS met EBD, lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, botsingstawe in al vier deure, styftrekkers met lasbeperkers vir die voorste sitplekgordels, driepunt-rukstopgordels vir elk van die voorste en agterste sitplekke, ’n intelligente truratsensor, danksy Chinese wetgewing ‘n ingeboude mini-brandblusser, en ’n magdom ander minder sigbare eienskappe.

Die nuwe EC7 het ’n kragtige viersilinder-enjin met dubbele bo-nokasse (102kW; 172Nm). Dit help die enjin om uitstekende verrigtingsyfers van tot 57,2kW/ℓ te lewer, wat dit doeltreffend en ekonomies maak. Versnelling aan die Rand sal na verwagting 10,5 sekondes van 0 tot 100km/h met ’n topspoed van 185 km/h wees.

Die Bosch 8.1-skyfremstelsel met ABS en EBD vir al vier wiele bied vinniger en ’n meer sensitiewe reaksie op pedaalinsette, wat verseker dat ryveiligheid nie prysgegee word nie. Veiligheid word verder verhoog deurdat die motor in net 40m van 100km/h tot stilstand kan kom. Dit is in die geval van bestuurders wat die spoedalarm ignoreer. Dié elektroniese spoedbeheer monitor die heersende ryspoed en waarsku die bestuurder wanneer die gestelde spoed oorskry word.

Intelligente trusensors maak kinderspeletjies van moeilike parkeermaneuvers deur ’n hoorbare alarm wat die bestuurder met harder en vinniger biep geluide van ’n afstand van 1,3m af tot 30mm van ’n hindernis af lei. Dit is deel van al twee die bekendstellingsmodelle se standaard-toerusting.

Van ongelukke gepraat – die nuwe EC7 is die eerste sedan wat vyf sterre in die Chinese NCAP-botstoetse losgeslaan het, en dit met ’n bykans volmaakte vier sterre in die streng Europese NCAP-botstoetsprogram met baie hoër vereistes opgevolg het. Dit sluit ’n ontwerp ten gunste van voetganger-beskerming in, waar die EC7 ’n vol telling gekry het, wat bewys dat die motor aan streng internasionale veiligheidsvereistes voldoen.

Die nuweling pronk ook met dubbele lugsakke voor. Die nuwe EC7 se voorste lugsakke bied omvattende beskerming aan die voorste insittendes, terwyl kantlugsakke by die GT Executive gevoeg word.

In die onvoorsiene geval van ’n botsing, span die styftrekkers die voorste sitplekgordels styf om die insittendes stewig en veilig vas te hou. Indien die kragte ’n voorafbepaalde perk oorskry, sal die lasbeperkers die gordel effens skiet gee ten einde borsbeserings te voorkom.

Driepunt-rukstopgordels word in elk van die agtersitplekke aangetref, wat die middelsitplek insluit. Al twee die EC7-modelle het ook ’n sitplekgordelsensor wat die bestuurder daaraan herinner as iemand se gordel nie vas is nie.

Frommelsones is deel van die versteekte passiewe veiligheidseienskappe van enige moderne motor, en die EC7 is geen uitsondering nie. Die ontwerp van die motor begin met ’n energie-absorberende stuurkolom wat wegvou van die bestuurder se borsgedeelte af.

Dié sones sluit by die Y-vormige syslagbalke in al die deure aan, sowel as die frommelsone tussen die bagasieruim en die agtersitplek. Hierdie omgewing huisves ook die brandstoftenk, wat van ses lae van ’n sterk makromolekulêre plofvrye materiaal gemaak is om te verseker die houer lek nie.  Ander veiligheids- en sekuriteitseienskappe sluit in ’n stuurwielslot, immobiliseerder en ingeboude mini-brandblusser.

Die kersie op die koek is: Die EC7 word vir 5 jaar of 100 000 km gewaarborg.  Voorstelle vir ‘n beter kopie as die Emgrand word ingewag!

Leave a Comment