Mercedes-Benz stel sy nuutse veranderinge aan die generasie A-klas bekend
Die nuwe generasie A-klas het in September 2012 sy intrede in die mark gemaak. As gevolg van die groot sukses wat hierdie model wêreldwyd bereik het is produksie vanaf Rastatt in Augustus 2013 na Valmet Automotive Sales in Finland uitgebrei. In Brittanje het verkope verlede jaar met 46% en in die groeiende mark in China met meer as 50% gestyg alhoewel die meeste verkope nog steeds in Duitsland is.
Met die opgradering van sy A-klas modelle is dit duidelik dat Mercedes met sy nuwe en verbeterde modelle daarop ingestel is om ‘n groter aanslag op hierdie globale marksegment te maak. Vorige probeerslae met die ouer modelle het nie altyd die suksessyfers gebring waarop daar gehoop is nie. Met die meer sportiewe ontwerp en werkverrigting van die nuwe A-klas gaan dit beslis ‘n ander storie wees. Syfers in hierdie verband word as volg deur Mercedes aangehaal: min of meer een uit drie eienaars van ‘n Mercedes-Benz A-klas of B-klas, GLA of CLA in Duitsland en Wes-Europa het voorheen ‘n mededingende fabrikaat bestuur. In die geval van die A-klas alleen het nie minder as twee uit drie motoreienaars voorheen motors van mededingers bestuur. Uit statistieke blyk dit dat die gemiddelde ouderdom van A-klas eienaars nou 13 jaar jonger is as wat die geval met die vorige modelle is. In China is die gemiddelde ouderdom van sodanige eienaars 34 jaar wat ‘n besliste aanduiding is dat die Mercedes se strategiese oogpunte in hierdie opsig suksesvol is.
Dit blyk dus dat Mercedes oor die afgelop twee tot drie jaar eerde met ‘n evolusionêre strategie, sover dit veral sy A-klas modelle aangaan, vorendag gekom het eerder as om revolusionêre en ingrypende veranderinge aan te bring. Met subtiele aanpassings word daar gepoog om veral die A- en B-klas modelle as’t ware nommer pas te maak oor die breë spektrum van smake en behoeftes van die motorpubliek.
Sodanige veranderinge en verbeteringe in sy A-klas modelle het Mercedes onlangs aan die pers bekend gestel waarvolgens daar nou twee diesel- en drie petrolmodelle op die mark beskikbaar gestel word – en hier kan daar duidelik gesien word hoe Mercedes bogenoemde strategie in die praktyk toepas. Die verskillende sub-modelle verteenwoordig ‘n uiters breë spektrum vir ‘n enkele model; naamlik ‘n A 200d, ‘n A 220d, ‘n A 200, ‘n A 250 Sport en dan die “willewragtag,” die Mercedes-AMG 45 4Matic. Dit is veral die spesiale “Motorsport Edition” wat beslis by die aanhangers van motorsport aanklank gaan vind. Die “Motorsport Edition” is beskikbaar in al die enjinvariante van die A 200, A 220 d en die A 250 Sport, behalwe vir die A 45.
Mercedes se AMG A 45 4MATIC het ook by die vervaardigers se opgradering gebaat en spog nou met ‘n kraglewering van 280 kW en 475 Nm wringkrag wat hom die kragtigste kompakte sportmodel ter wêreld maak. Dit is te danke aan verbeterde ratverhoudings, verfynde aerodinamika en die nuwe DYNAMIC SELECT wat algehele werksvermoë van hierdie model tot nuwe hoogtes voer.
Saam met verbeterde werksverrigting het Mercedes ook daarin geslaag om met opvallende lyne en dinamiese geboë oppervlaktes ‘n sportiewe voorkoms met verhoogde kraglewering te kombineer. Tesame daarmee verleen die diamantpatroon van die rooster, nuwe LED-hoofligte, die nuutontwerpte LED-agterligte en veral die dubbel uitlaatpype, wat nou in die bakwerk gesonke en geïntegreer is, ‘n nuwe dinamika aan die sportiewe voorkoms van hierdie kompakte modelreeks van Mercedes. Aan die binneruim is soortgelyke sportiewe kosmetiese verbeteringe aangebring wat in tandem is met die tegniese verbetering en verfyning van die verskillende modelle in die A-klas reeks.
Wat kraglewering en aandrywing betref is die 115 kW die intreevlak by die A 200 model terwyl dit by die A 220 toeneem tot 130 kW en 350 Nm wringkrag. Beide dieselmodelle, naamlik die A 200 d en die A 220 d, het ‘n Co2 uitlaat van slegs 116 g/km en is dus vrygstel van uitlaatbelasting. Volgens Mercedes is die talle verbetering en verfyning aan die ontwerp van die verberterde A-klas modelle daarvoor verantwoordelik dat die brandstofverbruik by die A 220 en A 200 dieselmodelle slegs 4,2 l/100 km en 4,5 l/100km onderskeidelik is. Dit is indrukwekkende statistieke wat mens graag sou wou onderskryf in die daaglikse en praktiese gebruik van die twee dieselmodelle.
Mercedes maak verder daarop aanspraak dat die AMG A 45 se kraglewering en werksverrigting van 280 kW en 475 Nm en sy versnelling van 0-100 km in slegs 4.2 sekondes ongeëwenaard in sy klas is. Dit beteken dat die nuwe model ‘n verdere 0,4 sekondes in hierdie opsig op sy voorganger verbeter. Voorwaar nog verdere indrukwekkende statistieke wat nou die terrein van Porsche betree.
Die byna obsessionele beheptheid van die vervaardigers van luikrugmodelle in die A- en B-klas segmente die afgelope paar jaar, om hulle verskeie modelle aan te pas en op te gradeer om maksimum werkverrigting te lewer, bring inderdaad baie vrae na vore wat weer verskeie antwoorde en kommentare sal ontlok – en daarby nog meer vrae!
Wat werkverrigting betref beklee Mercedes se AMG A45 4MATIC nou die topposisie met sy twee naaste teenstanders, naamlik Audi se RS3 en Honda se Civic Type R wat pas verskyn het. Intussen maak ander blitse gereed om die grense heel moontlik nog verder te verskuif as mens dink aan Ford se komende Ford RS wat pas in Spanje bekend gestel is asook BMW se M2 Coupé wat nog bekendgestel moet word.
As jy die motorentoesias is wat hierdie warm perde se bloed soek sal jy uit die aard van die saak ook warm geld moet uithaal. Mercedes se pryse vir sy “nuwe” A-modelle is as volg:
A200 N$389 200
A200 d N$419 200
A220 d N$460 100
A250 Sport N$491 500
A45 AMG 4MATIC N$683 600