Bekendstelling: Nissan Sentra [2013]

‘n Welkome Nuweling

Daar was ‘n tyd wat omtrent elke dorp in die land ‘n Datsun-handelaar gehad het en waar seuns tydens skoolpouses gespog het dat hulle pa’s se Datsun SSS-sedans die vinnigste in die hele distrik was! Maar dit is lank gelede en die seuns het selfs pa’s geword, miskien al oupa’s? Ook het Datsun sy naam verander na Nissan.

Oor die jare heen het Nissan ‘n reputasie opgebou dat hulle voertuie taai en deeglik gebou was; en al het die bak later padgegee het die enjins aanhou loop. Wie onthou nog die advertensie van die 1200 bakkie-enjin wat jare lank water langs die Oranjerivier gepomp het toe die bakwerk uiteindelik die gees gegee het?

Taai enjins en aandryfstelsels is egter nie die enigste dinge wat ‘n motor laat verkoop nie en Nissan het oor die jare effens gegly met die voorkoms van hulle motors; om dit lig te stel, nie alle Nissans het daardie ekstra “iets” gehad wat kopers gelok het nie. Goed; die verhuringsmaatskappye en handelsreisigers het hulle gekoop omdat hulle onderhoudskoste laag was en die motors betroubaar. Maar die deursnee-koper het half begin wegskram van Nissan. Maar die manne in Japan het geluister wat die volk wil hê, en na die samewerkings-ooreenkoms met die Franse vervaardiger Renault, is voorkoms nou ook hoër op die lys. Dink maar aan die uitdagende voorkoms van die Nisan Juke. En kyk maar gerus weer na die Livina en vergelyk hom met sy direkte opponente!

Die nuwe Sentra wat onlangs bekendgestel is, is een van dié modelle wat ‘n mens tweekeer laat kyk met sy moderne voorkoms; die ruimte binne en buite en die spesifikasies wat grens aan die luukse klas. Geen wonder dat die maatskappy nou ook ‘n nuwe credo het: Innovering wat ‘n mens opgewonde maak! En dit werk.

Die Sentra ding mee in die gewilde C-segment van die mark maar met sy ruimte wat hy bied, kan hy hier en daar selfs in die groter D-segment kompeteer. Dit is miskien net die enjingrootte op die plaaslike mark, ‘n 1,6 liter met normale asemhaling, wat hom hier beperk. Maar volgens die manne van Nissan, is al die eienskappe vir ‘n wêreldmotor aanwesig: doeltreffendheid, maksimum benutting van spasie, verrigting, hoë boukwaliteit en afwesigheid van vibrasie en onnodige enjingeluid.

Die voorkoms van die motor kan is klassiek-Europees beskou word met ‘n indrukwekkende neus wat effens uitdagend is terwyl die agterstewe die besonder groot kattebak netjies laat saamsmelt met die nuwerwetse dog klassieke lyne. Verder word daar ook, in navolging van die Duitse voorloper-vuurwaens, ryklik gebruik gemaak van LED ligte om in die donker die motor ‘n uitdagende gedaanteverandering te laat ondergaan! Die stroombelyning van die Sentra is besonder goed en spog met ‘n lae sleurfaktor van 0.29 Cd wat hom ‘n klasleier maak en bydra tot lae brandstofverbruik.

Instrumentasie is byderwets met analoog instrumente en die gebruik van ‘n digitale paneel waar alle noodsaaklike inligting opgeroep kan word. Die stuur is ten volle verstelbaar en die sitplekke, uitgevoer met hoë kwaliteit stofafwerking, uiters gemaklik met genoeg ruimte vir (groot) insittendes. Dit is immers die ruimte binne wat Nissan beklemtoon as een van hulle pluspunte. (Die kattebak het plek vir 510 liter bagasie en jy het amper ‘n sterk flitslig nodig om te sien waar hy eindig).

Op die pad is die Sentra gemaklik, neem draaie uitstekend danksy sy goed ontwerpte vering met  MacPherson voor en wringstawe met ‘n stabiliseerstaaf agter en boesem vertroue by die bestuurder in. Die elektriese kragstuur werk uitstekend met die regte gevoel van weerstand om steeds die pad te “voel”.

Die hart van die nuwe model is die 1,6 liter, vier-klep-per-silinder enjin met dubbele aanpasbare klepbeheer wat 85 kW teen 5 600 rpm ontwikkel en 154 Nm teen 4 000 rpm beskikbaar stel. Krag word na die voorwiele oorgedra deur middel van ‘n vyfgang handratkas of outomatiese ratkas van die palwissel soort (CVT oftewel  Continuously Variable Transmission soos dit op Engels heet). Hoewel sommige sommige joernaliste hierdie stelsel bevraagteken is ons doodgelukkig met die werking hiervan. Maksimum snelheid is 180 km/h en Nissan maak aanspraak dat die brandstofverbruik onder algemene omstandighede tussen 6,2 tot 6.8 l / 100 km kan wees; afhangende van hoe swaar die bestuurder se regtervoet is.

Natuurlik is al die veiligheidseienskappe wat deesdae by topmotors verwag word, alles daar: ABS-remme; elektroniese remverspreiding en remhulp met ses lugsakke om die insittendes te beskerm indien dinge dramaties verkeerd loop. Ook voetgangers se veiligheid word in ag geneem met krummelsones en die konstruksie van die enjinkap.

Om tred te hou met nuwe giere is al die radio-CD ekstras daar om vir die selfoon en I-pod generasie se behoeftes te voorsien met Bluetooth om handvrye selfoongesprekke moontlik te maak.

Maar wat kos hierdie luukse, middelklas sedan wat, terloops, by 121 handelaars op die vloer staan? Die handrat-weergawe  maak jou N$230 900 armer en die outomatiese model N$253 600.

Leave a Comment