Volkswagen stel sy nuwe Polo-reeks bekend
Volkswagen het onlangs sy nuwe Polo-reeks bekend gestel. Die eerste generasie van Volkswagen se Polo modelle is alreeds in Oktober 1996 in Suid-Afrika bekend gestel om die gaping tussen die Golf en die Citi Golf te oorbrug.
Die eerste Suid-Afrikaanse Polo was ‘n sedan wat op die Seat Cordoba gebaseer was en het bekend gestaan as die die Polo Classic en was ‘n onmiddellike sukses. Die luikrug Polo Playa, wat weer op die Seat Ibiza gebaseer was, het hom in Julie 1998 by die Classic aangesluit. In 2003 het Volkswagen ‘n mylpaal behaal toe die nuutontwerpte Polo Classic sy verskyning gemaak het en wat so ‘n sukses was dat dit in dieselfde jaar die eerste Volkswagen geword het wat met die titel “Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar” bekroon is.
Volkswagen se Polo is een van die wêreld se topverkopers in die afdeling vir kompakte model voertuie met ‘n verkoopsyfer van meer as 14 miljoen eenhede wêreldwyd. In Suid-Afrika is die aanleg in Uitenhage een van twee produksie-eenhede wat die Polo Hatch vervaardig en sedert laasgenoemde se bekendstelling in 2010, bly dit konstant die tweede beste verkoper in die passasiersmotor afdeling met die Polo Vivo, wat in 2010 bekend gestel is, in die eerste plek.
Die Volkswagen Polo-reeks is nou volledig met die onlangse bekenstelling van drie modelle: die 1.0 TSI BlueMotion wat die eerste BlueMotion model met ‘n TSI enjin is, die 1.4 TDI en die GTI met handratwisseling.
Die 1.0 liter TSI BlueMotion
Met die verdere verfyning van die alreeds baie ekonomiese en bestaande TSI-reeks het Polo se ingenieurs daarin geslaag om die brandstofverbruik nog verder te verbeter tot ‘n byna ongelooflike 4.2l/100 km en ‘n koolstofuitlaat tot ‘n skamele 97g/km onderskeidelik beperk. Dit is verkry deur verbeterde aerodinamiese ontwerp van die verkoelingrooster en ‘n langer ratverhouding in veral die boonste afdeling van ratverwisseling. Verder is ‘n stop-start sisteem en ‘n aanduider van optimal ratwisseking vir bestuurders aangebring wat hierdie gunstige brandstofverbruik moontlik maak.
Die 1.0 TSI is die eerste driesilinder-model in die Polo BlueMotion-reeks wat met ‘n turbo- aangejaade petrolenjin toegerus is. Die vorige driesilinder-model het met ‘n 1.2 TDI enjin wat 55kW gelewer het gekom. Die huidige model lewer 70kW by ongeveer 5,000rpm, maksimum wringkrag van 160Nm alreeds by 1,500rpm en het ‘n topspoed van 191km/h. Volkswagen maak aanspraak op ‘n versnellingspoed van 10.5 sekondes van 0-100 km/h. Die TSI BlueMotion spog met 15 duim allooiwiele.
Die ietwat hoë prysklas van die model moet gesien word in die lig van wat die motor bied. Veiligheidskenmerke sluit byvoorbeeld in ‘n outomatiese remsisteen ná ‘n ongeluk, ‘n 5.8-duim raakskerm in die instrumentepaneel met ‘n nabyheidsensor wat ook die radiobeheer insluit, CD- en MP3-funksies en Bluetooth- sowel as USB-aansluitingspunte.
Twee nuwe Polo TDI enjins
Kort op die hakke van die 1.2 TSI enjins wat in Junie 2014 gevolg het is daar nou ook die twee nuwe 1.4 driesilinder-TDI enjins (voorheen 1.6 liter) met hulle turbo-aanjaging en direkte brandstofinspuiting in die verbeterede Polo-modelle. Kraglewering wissel tussen 55kW en 77kW wat ooreenstem met die vorige modelle. Die enjins is ontwikkel met onder andere die oog op ‘n lae geraasvlak en vibrasie maar veral, soos met die BlueMotion, om brandstofverbruik sowel as koolstofuitlating te optimaliseer. Die 55kW TDI enjin lewer ‘n uiters ekonomomiese verbruik van slegs 4.1l/kmh en koolstofuitlating van slegs 108g/km.
Die 55kW enjin is ‘n nuwe toevoeging tot die TDI enjinreeks en lewer 210Nm wringkrag by so laag as 1,500rpm en maksimum kraguitset word tussen 3,000 en 3,750rpm bereik. Topspoed is 173km/h en versnelling van 0-100km/h neem 12.9 sekondes terwyl die enjin van handratwisseling gebruik maak.
Dit is veral met die TDI 1.4 77kW enjin dat Polo uitstekende resultate verkry het. Maksimum wringkrag van 250Nm is dieselfde as sy 1.6 voorganger maar met die verskil dat die nuwe 1.4 enjin sy maksimum kraguitset alreeds teen 1,500rpm bereik in vergelyking met die 1,750rpm van die 1.6 liter. Brandstofverbruik en koolstofuitlating is weereens ‘n uitstekende 4.1l/kh en 198g/km onderskeidelik.
Opsionele ekstras
Vir die voornemende eienaar van een van bogenoemde modelle wat ‘n tikkie persoonlike dimensie aan sy vuurwa wil toevoeg is daar verskillende opsies wat uitgeoefen kan word. Dit sluit in Bi-Xenon hooflige met LED dagbestuurligte (slegs by die CrossPolo en BlueMotion,) sondak, verwyderbare sleepstang, klimatroniese lugreëling, reënsors vir die ruitveërs, parkeerafstandbeheer voor en agter, tru-uitsigkamera en spoedkontrole. Laasgenoemde is standaard by die BlueMotion modelle.
Kleinhandelpryse wat BTW en belasting op CO2 uitlate insluit is:
1.0 TSI 70kW BlueMotion N$235 800
1.4 TDI 55kW Trendline N$223 500
1.4 TDI 77kW Highline N$252 000
1.4 TDI 77kW Cross N$260 000
Die nuwe Polo kom met ‘n standaard 3 jaar/45 000km diensplan, 3 jaar/120 000 km waarborg en ‘n 12 jaar waarborg teen roes. Diensintervalle is 15,000km.