Bekendstelling: Suzuki Celerio

Suzuki se Celerio gaan in baie harte en huishoudings inkruip

In die huishoudings van baie gesinne en individue is hulle voertuig(e) baie soos hulle huisdiere. Daar is ‘n emosionele komponent wat, alhoewel straks ongesiens en onbeplan, die hart binnekruip en dan genoemde aanhangsels as’t ware in die geslote kring inlaat as deel van die daaglikse lewe.

En net soos jy dink genoeg is genoeg, vind jy dat daar tog wel ruimte vir ‘n ekstra lid van die familie is – hetsy ‘n kat, hond of ‘n voertuig. Die Celerio val binne hierdie kategorie van die menslike swakheid en, miskien anders gesien, deernis.

Net toe mens dink dat Suzuki omtrent alle hoeke en gate wat daar nog in die A-AB segmente van die motormark moontlik was, gevul het, kom hulle met die Celerio wat gedurende die jaar in Suid-Afrika vrygestel is. Die Celerio het in die proses die Alto vervang wat beteken dat Suzuki nou drie modelle in die kleinmotorklas het om van te kies, naamlik die Celerio, die Splash en die Swift.

Die Celerio skuif net onder die Splash in wat meebring dat die Celerio ‘n effens kleiner vierdeur-luikrugmodel is met ‘n kleiner enjin terwyl die afmetings ook ‘n fraksie kleiner is maar die bagasieruimte van 235 liter bly dieselfde as dié van die ander Suzukis. En natuurlik is die prys ook “kleiner” wat beteken dat jy die die intreemodel onder die ongeveer N$130 000 van sy stalmaats kan bekom.

Maar dit is waar die “kleiner as” vergelyking ook ophou en kan die Celerio beskou word as XL- ruim, gemaklik en ‘n ekonomiese brandstofverbruik wat in sy klas moeilik te oortref is. Op ‘n toetsrit deur die Klein Karoo, wat beide teer- en grondpaaie ingesluit het, het hierdie klein kalant jou deeglik verwonderd laat staan met sy buitengewone gemiddelde brandstofverbruik van 18 kilometer per liter, (soos deur die aanboordrekenaar bereken), sy uitstekende padgedrag en die gemak waarmee hy die ruwe grondpaaie hanteer het.

Suzuki maak aanspraak op ‘n syfer van 4,6 liter/100km wat byna korrespondeer met die syfers van die toetsrit.

Die Celerio leun ietwat in die draaie (hy is 70 mm hoër as die Alto) maar nie soveel om enige paniek te skep nie terwyl die veerstelsel van die onderstel sag is wat meebring dat gate en bulte in die grondpad eerder geabsorbeer as stormgeloop word.

Maar kom ons bekyk die Celerio van nader.  Hierdie sakpas model van Suzuki is beskikbaar in twee spesifikasies, die GA en GL met twee transmissie opsies, naamlik ‘n vyfspoed handrat en ‘n nuwe ‘outomatiese handrat’ ratkas terwyl elk met ‘n driesilinder petrolenjin toegerus is. Die outomatiese handratkas berus in praktyk op die CVT-sisteem (konstante veranderlike transmissie) wat beteken dat in stadverkeer jy eenvoudig van ‘n konvensionele outomatiese ratwisseling gebruik kan maak en jy dus geen koppelaar benodig nie.

Die 1000cc driesilinderenjin lewer 55 kW en 90 Nm wat goed vergelyk met die Celerio se mededingers in dieselfde klas, die Volkswagen up!, Kia se Picanto en die Chev Spark. Op die langpad word mens uit die aard van die saak bewus van die beperking in kraglewering van die Celerio wat meer akuut sal word met maksimum pasasiers- en bagasielading.

Laasgenoemde behoort egter meer die uitsondering as die reël te wees en met net die bestuurder en bagasie aan boord het die Celerio geen probleem gehad om Du Toitskloofpas in vierde rat uit te draf nie.  Selfs die sagte koffiemeulagtige gegrom van die enjin word later deel van die plesierrit.

Alles in ag genome bly die relatief groot en gemaklike ruimte wat die Celerio bied heel waarskynlik sy grootste pluspunt. Die Celerio is 3,6m lank, 1,6m wyd en 1,5m hoog wat hom 100mm langer maak as die Alto wat hy vervang terwyl die wielbasis met 65mm verleng is wat weer meer beenruimte (50mm) en voetspasie (28mm) aan agterste passasiers besorg.

Kurwes aan die sykante van die Celerio gee aan die motor ‘n sportiewe voorkoms terwyl die dubbel lugsakke, ABS-remstelsel met elektroniese remverspreiding tesame met gebruikersvriendelike veiligheidsgordels vir bogemiddelde veiligheid vir ‘n motor in hierdie segment sorg. Elektronies-beheerde vensters, ‘n USB en Aux-poort, ‘n klankstelsel en Bluetooth wat vanaf die stuurwiel beheer kan word vergoed vir ander moontlike tekortkominge aan die binneruim.

Om saam te vat: die Celerio bied uitstekende waarde in terme van brandstofverbruik, veiligheidstandaarde, ruimte en gemak binne ‘n beperkte begroting en vergelyk in alle opsigte goed met en selfs beter as sy meer gedugte en bekende mededingers. Tesame met sy uiters mededingende prys en bogenoemde word die Cerelio ‘n byna noodsaaklikheid vir miljoene Suid-Afrikaners wat al hoe meer op ‘n baie beperkte begroting moet leef.

Die Cerelio word verkoop met ‘n driejaar of 100 000km waarborg terwyl ‘n 30 000km diensplan by die GL modelle ingesluit is. Diensintervalle is elke 15 000km. Die GA- handratmodel, wat nie ‘n diensplan bied nie, word teen N$109 900 aangebied terwyl die pryse vir die GL-model N$124 900 en die GL AMT-model onderskeidelik N$135 900 is.

Leave a Comment