Bekendstelling: Toyota Hilux Xtra Cab

‘n Nuwe speelmaat in die buurt

Toyota se Hilux bakkies is as ware ‘n huishoudelike naam in die plaaslike motorbedryf en sal heel moontlik in veral die plattelandse gebiede beskou word as Suid-Afrika se nasionale voertuig. Deur die jare heen het die Hilux bakkies van Toyota amper ikoon status bereik wat veral geskoei was op die byna legendariese betroubaarheid van hierdie werkesels.

Geen wonder dus dat Toyota sy bestaande Hilux-reeks uitgebrei het…

Wat miskien minder bekend is, is dat die Hilux vir hom op ‘n keer ook die titel van “Die Onverwoesbare Trok” verwerf het toe ‘n 1988 Hilux met meer as 300 000 km op die afstandmeter deur ‘n byna ongelooflike reeks toetse (as mens dit so kan noem!!) gestuur is.  Juis met die idee om dit te “verwoes”.

Die Hilux is eers teen ‘n lang ry trappe afgery wat skaars breed genoeg was, daarna teen ‘n boom gebots, vir verskeie ure onder water gelos, deur ‘n tuinstoor gejaag, ‘n karavaan daarop laat val en uiteindelik op 70 meter hoë gebou geplaas wat daarna gesloop is.  Hoewel daar uit die aard van die saak groot strukturele skade aan die Hilux was is die herstel aangepak slegs met die gewone gereedskap in die gereedskapskas maar geen nuwe onderdele nie.  En die Hilux is aan die loop gekry!

Die “verwoestingtoets” is deur die bekende span van Top Gear uitgevoer en die Hilux dien steeds as agtergrond dekorasie in hulle ateljee.

Geen wonder dus dat Toyota sy bestaande Hilux-reeks uitgebrei het met die toevoeging van ‘n een-en-‘n-halwe-kajuit model wat die Xtra Cab genoem word.

En mens kan glo dat die beproefde en suksesvolle Hilux-resep deur hierdie nuwelinge voortgesit sal word.

Die Xtra Cab is iets tussen ‘n enkel- en dubbelkajuit en hiermee het Toyota die heffing op ‘n vier/vyfsitplek voertuig omseil aangesien dit net ‘n tweedeur voertuig is. Die halwe kajuittoevoeging bring 50 cm meer ruimte in vergelyking met die gewone enkelkajuit en pakplek word nog verder vermeerder deur twee houers wat netjies agter die sitplekke as ware versteek is en wat met opligdeksels bedek is.  Die sitplekke skuif gemaklik vorentoe en agter en kan ook na voor kantel om inlaai en uitlaai verder te vergemaklik.

Alhoewel daar geen veiligheidsgordels in die gedeelte agter die sitplek is nie, is daar werklik genoeg spasie om twee kinders of twee Wagters in te prop as die rit darem nou nie van Kaapstad na Johannesburg of verder is nie.  Of dan genoeg spasie vir die moeë reisiger met ‘n matrassie om ‘n uiltjie te knip.  Bakruimte by die Xtra Cab is 1 805 mm in vergelyking met 2 315 mm by die enkelkajuit en 1 520 mm by die dubbelkajuit.

Twee modelle van Hilux se Xtra Cab is beskikbaar naamlik 4×2 en ‘n 4×4.  Beide is toegerus met ‘n 3.0 liter D-4D turbodiesel-enjin wat ‘n 129 kW teen 3 400rpm en 343 Nm lewer.  Hierdie wringkrag word alreeds tussen 1400 en 3200 rpm gelewer en maak die Hilux Xtra Cab by uitstek geskik vir ruwe terrein.  Pryse van die twee Xtra Cab is N$294 900 en N$341 700 onderskeidelik.  Wat tegniese spesifikasies en voorkoms betref, behalwe natuurlik die kajuite, is daar geen verskille tussen die Xtra Cab en die dubbelkajuit Hilux bakkies nie.

Beide Xtra Cab modelle is toegerus met ‘n sluitbare ewenaar agter en ‘n vyfspoed handratkas terwyl die 4×4 ‘n outomatiese sluitmeganisme ook op die voorste ewenaar het.  Beide die twee modelle  het ‘n grondhoogte van 212 mm en spog met ‘n radio/CD speler met MP3, Optitron instrumentasie, ‘n verstelbare kragstuur met leerbedekking, spoedbeheer en elektries beheerde vensters.  Ander standaard toebehore sluit in ABS-remme , lugkussings vir beide die bestuurder en passasier, ‘n versterkte kajuit om die impak van ‘n botsing te neutraliseer en ‘n afstandbeheerde sluitmeganisme.  Soos die geval met die res van die Hilux reeks is die twee Xtra Cab modelle ook toegerus met ‘n 80 liter brandstoftenk.

Die Hilux Xtra Cab word verkoop met ‘n vyfjaar of 90 000 km diensplan, ‘n driejaar of 100 000 km waarborg en ‘n padbystanddiens.

Leave a Comment