Citroen – terug in Suid-Afrika

Citroen is terug in Suid-Afrika en hier om te bly. Dit is die versekering wat die bestuur van PCSA (Peugeot Citroen South Africa) aan die media genoem het met die bekendstelling van drie van hulle gewilde modelle in Europa. Die drie ding mee in die segmente in Suid -Afrika waar daar groei in die markte is ten spyte van die swak ekonomie.



Hulle is die C3, ‘n luikrug in die B-segment, sy sportsnuts weergawe, die C3 Aircross en ‘n medium grootte sportsnuts, die C5 Aircross. Van voor is die prominente Citroen-kenteken wat verleng in chroomstroke tot by die hooggeplaasde LED ligte in al drie kenmerkend. Die hoofligte is verder onder toe en op die C3 is daar die “Airbumps stroke” aan die kante wat ook beskerming bied. Agter het al drie modelle ligte wat ‘n drie-dimensionele ontwerp het. Daar is twee afwerkingsvlakke om van te kies, nl “Feel” en “Shine”.

Binne is daar ‘n indrukwekkende lys van toerusting vir beide gerief en veiligheid. Al die modelle is toegerus met 6 lugsakke benewens die standaard veiligheidskenmerke soos ABS remme, ens.

Citroen C3

Die C3 is ‘n luikrug model in dieselfde segment as die VW Polo, Renault Clio en Ford Fiesta. Dit is beskikbaar met twee 1200cc petrol enjins. Die Feel het ‘n nie-turbo enjin en ontwikkel 60kW en 118Nm wringkrag. Dit is ook net te koop met ‘n vyf-spoed hand ratkas. Die Shine weergawe het  ‘n turbo-petrol eenheid en ontwikkel 81kW en 205Nm wringkrag. Laasgenoemde is slegs met ‘n ses-spoed outomatiese ratkas beskikbaar.

Daar is drie kleure om van te kies: wit, sand en donkergrys.

Almal is afgewerk met ‘n rooi dak, rooi kantspieëls en rooi omhulsels om die klein liggies voor. Die goedkoper C3 met die handratte raak effe uitasem in vyfde rat, veral op die hoëveld, en is uiteraard nie so gemaklik soos sy outomatiese stalmaat nie. Miskien is die meer krag, veral wringkrag, saam met outomatiese ratte die ekstra R50,000 werd.

Al twee weergawes het outomatiese lugreëling, spoedbeheer en ‘n 18cm raakskerm. Dit koppel met Apple Carplay en Android Auto aan jou selfoon.

Gekombineerde (stad en ooppad) brandstofverbruik vir die twee C3 weergawes is 5,7l/100km en 6,0l/100km onderskeidelik.

Citroen C3 Aircross

Die C3 Aircross het dieselfde turbo-petrol 1200cc enjin wat in die duurder C3 is, asook die outomatiese ratkas. Die Aircross se grondvryhoogte van 163mm is 20mm meer as die C3. Die klein sportsnuts het meer ruimte vir die insittendes en bagasie. Daar is 410 liter spasie vir bagasie teenoor 300 liter van die C3 en kan verder vergroot deur die agtersitplek vorentoe te skuif.

Binne is daar dieselfde 18cm raakskerm en toerusting as die C3.

Daar is drie bakkleure wat White, Platinum Grey en Soft Sand genoem word met rooi gekleurde dakreëlings asook rooi om die hoofligte en die kantspieëls. Die rit is baie goed in stadsverkeer en op die snelweë. Ook op grondpaaie vaar hy nie sleg nie. Die gekombineerde brandstofverbruik is 6,5l/100km. Die C3 Aircross se mededingers is die Ford EcoSport, Renault Captur, Mazda CX3 en die nuwe Volkswagen T-Cross.

Citroen C5 Aircross

Die vlagskip van die nuwe reeks modelle in Suid-Afrika is die C5 Aircross. Dit is ‘n sportsnuts in dieselfde segment as onder meer die VW Tiguan, Kia Sportage, Nissan X-Trail en Toyota RAV4.

Die C5 is ‘n baie ruim en gerieflike voertuig vir bestuurder en passasiers en daar is baie plek vir bagasie. Die sitplekke is breed en gemaklik en die bagasieruim is groot met 520 liter wat vergroot kan word na 720 liter deur die agterste sitplekke vorentoe te skuif. Die agter sitpklekke kan al drie individueel verstel.

Dan kan hulle ook nog platgeslaan word vir ‘n massiewe 1630 liter.

Binne is daar ‘n 20cm raakskerm met al die toerusting van die ander modelle asook dubbelsone klimaatbeheer en tru-parkeer sensors. Die duurder Shine weergawe het ‘n panoramiese glasdak en sleutellose toegang en aansitter. Verder is daar ook parkeersensors voor en ‘n tru kamera en ‘n draadlose toestel om jou selfoon te laai. Die drie bakkleure waaruit die koper kan kies is: Arctic Steel, Pearlescent White en Platinum Grey.

Die ritgehalte van die groter C5 met sy hidroliese “kussings” om erge stampe te absobeer is puik. Dit gee die C5 ‘n soort van swewende gevoel wat ongelyke padoppervlakke insluitende grondpaaie uitstryk.

Die C5 word aangedryf deur ‘n 1600cc turbo-petrol enjin wat 121kW ontwikkel en 240Nm wringkrag gee. Die enjin is besonder stil en daar is ook die minimum wind en pad geraas. Gekombineerde brandstofverbruik word deur Citroen aangegee as 7,9l/100km.

Pryse:

  • C3: R239,900 en R289,900
  • C3 Aircross: R339,900 en R359,900
  • C5 Aircross: R469,900 en R509,900

Al die nuwe Citroen modelle word verkoop met ‘n waarborg, diensplan en padbystand van 5-jaar of 100,000km.

Dit is te verstaan waarom hierdie nuwe modelle gewild is in Europa en ander dele van die wêreld. Hulle is moderne, veilige en ruim motors met mededingende pryse en al die nodige toerusting vir die motoris van 2019. Die groot taak wat voorlê is om die koperspubliek hier te oortuig. Citroen belowe puik na-verkope diens met hulle uitgebreide waarborg en diensplanne.

Volgens die bestuur sal voldoende onderdele beskikbaar wees en hulle sal jou ‘n ander kar leen indien die diens of herstelwerk nie binne twee dae voltooi is.

Leave a Comment