Gemaak vir die langpad – sonder ‘n langtand!
Een van die plesierighede van die lewe is om ‘n regtige langpad kort te maak met ‘n lekker voertuig wat ewe goed growwe grondpaaie as seepgladde teerpaaie kan trotseer. En dan nog goedkoop ook met ‘n turbodiesel wat sagkens grom van lekkerkry en die brandstofkoste tot ‘n minimum beperk!
Een van hierdie vuurwaens is die relatief nuwe Hyundai Tucson turbodiesels wat nou met twee groottes enjins en twee tipes aandryfstelsels plaaslik beskikbaar is.
Die kleinste, en goedkoopste weergawe is die 1,7 Executive turbodiesel wat sy oorsprong in die Tsjeggiese Republiek het en wat uit-en-uit ‘n Europese tradisie volg waar die uitlaatgasse volgens wet uiters laag moet wees om hoegenaamd op die pad toegelaat te word. Hierdie hoogs-ontwikkelde eenheid word gevoer deur ‘n hoëdruk brandstofbaan van 2 000 bar wat 280 Nm teen ‘n baie rustige enjinsnelheid van 1 250 rpm. Dit is amper so laag soos die gewone luiersnelheid van ‘n normale petrolenjin en verskaf die soort van trekkrag wat ‘n trekker op die plaas maar hoop om te hê. Dit is ook belangrik vir die manne wat woonwaens sleep en die groot boot uit die water moet trek.
Die koolstofspoor van die Tsjeg is 124 g/km.
Die krag van die enjin word deur middel van ‘n gladde sesganghandratkas na die voorwiele oorgedra.
Die jongste 2-liter turbodiesel het sy oorsprong in Korea en die enjin is gekoppel aan ‘n sesgang outomatiese ratkas. Hierdie enjing ontwikkel 131 kW teen 4 000 rpm. Die wringkrag wat vrygestel word is lê naby aan dié van ‘n geel Caterpillar D4 kruiptrekker behalwe vir die feit die krag eers ten volle op dreef kom tussen 1 750 en 2 750 rpm. Maar dit gaan min mense pla en net die kenners sal die verskil agterkom. Die koolstofvrystelling is 175 g/km; iets waaroor Donald Trump nie slapelose nagte gaan hê nie.
Maar dit gaan by hierdie perd nie net oor die groter enjin nie; daar is vierwielaandrywing beskikbaar en kan ‘n ewenaarslot geaktiveer word deur slegs ‘n knoppie te druk. En dan is daar die lang lys van luukse items wat standaardtoerusting is. Van hierdie is die groot sondak wat by talle moontlike kopers die deurslag gaan gee.
Op hierdie stadium van my lewe is die stilering van ‘n voertuig nie meer die belangrikste faktor nie maar vir die jongeres is die feit dat die Duitser, Peter Schreyer, die hoof van ontwerp is en dat hierdie vuurwa net so wel in München ontwerp kon wees, gerusstellend.
Ek aan vaar Schreyer se woord dat hy die vuurwa beplan het om ‘n “progressiewe gees en passie” wou oordra en dat hy “atleties” lyk. Met laasgenoemde eienskap is ek dit eens.
Binne deel al die modelle leersitplekke en afwerking en is alles wat oop en toe kan maak daar. So ook al die jongste elektroniese veiligheidstelsels om ongelukke, sover moontlik, te vermy en die impak van ‘n ongeluk te beperk. Daarvan gepraat; die trukamera, gemonteer in die truspieël, “kyk” nie net agtertoe nie maar ook na die kante om teen aankomende verkeer te waarsku! Pluspunt. So ook die wegtrekfunksie teen ‘n bult wat veroorsaak dat die motor nie terugrol nie.
Die Tucson het ‘n baie ruim “kattebak” wat 1 030 eenliter Cokeblikkies sal kan huisves met al die sitplekke opgeslaan. Daarvan gepraat, die agterste sitplekke kan ook verstel word om meer gemak aan die passasiers te verskaf.
Die Tucson het alles wat nodig is vir alledaagse en langpadgebruik. Daar is egter een bydkomstigheid wat die meeste eienaars sal spesifiseer voor die koopslag: die navigasie en klank en kommunikasiestelsel met 3-dimensionele kaarte vir Suidelike Afrika. Of kon hulle hierdie opsie miskien standaardtoerusting gemaak het?
Hoe lyk die pryse van die twee nuwelinge? Die 1,7 turbodiesel verkoop vanaf I Januarie teen N$449 900 (10 00 meer as die bekendstellingsprys in November) en die 2-liter teen N$534 900. Interessant; die diensintervalle vir die kleiner enjin is 30 000 km en die groter een 15 000 km. Maar miskien sal ek persoonlik maar die olie op 15 000 km laat aftap, net vir die wis en die onwis.
Maar wat kry jy in ruil vir die bank se tjek? Die kleiner dieselenjin word gedek deur ‘n vyfjaar / 120 00 km diensplan en die groter tweeliter Tucson Elite deur ‘n vyfjaar / 90 000 km een.
‘n Laaste woord oor Hyundai, wat nie meer ‘n “goedkoop” motor is nie, die bevinding dat die goeie diens van sy handelaars as die derde hoogste in die land beskou word; net Volkswagen en Audi klop hom as dit by kliëntetevredenheid kom.