Isuzu D-Max AT35 vs. Ford Ranger Platinum!

R50 239; dit is die verskil tussen Ford se bekroonde Ranger Platinum (R1 120 100), terwyl die Isuzu D-Max AT35 (Arktiese Trok) verkoop vir R1 170 339. Beide is bakkies, maar is gebou vir verskillende gebruike

’n Meer realistiese toets sou wees om die AT35 teen die Ranger Raptor of selfs die Wildtrak te toets, maar aangesien ons altwee van hierdie op dieselfde tyd getoets het, het ons besluit om ’n vergelykings artikel te skryf.

Isuzu D-Max AT35

Isuzu se vlagskip bakkie, die 3.0 Ddi V-Cross is geprys teen R 916 400. In die huidige mark, is hierdie een van die mees bekostigbare (luukse dubberkajuit) bakkies op die mark. Gepaard met die ikoniese 3.0L diesel enjin, skop die voertuig sowat 140kW en 450Nm uit. Vele sien die nuwe 1.9L turbodiesel as ’n ratser enjin, dog is Isuzu se 3.0L enjins bekroond vir betroubaarheid.

Nou, vir ongeveer R254 000 meer kan die arktiese (AT35) pakket bygevoeg word. Die 18-duim wiele op die V-Cross word vervang met kleiner 17×10-duim swart allooi wiele, terwyl die 265/60 bande vervang word met enorme 35-duim BFGoodrich bande. Die bakkie self word ‘gelig’ en die normale vering word vervang met Bilstein vering.

Verder word die AT35-spesifikasie ook uitgeken deur ’n draadlose laaistasie (vir fone), ’n AT35 rat embleem, modder skerms, chroom afwerkings, vloer matjies, en verbreedte wielboë.

Dus is die AT35 sowat 160mm breër as die normale V-Cross. Dit staan ook 65mm hoër (van dak tot grond) en staan 34mm hoër van die grond af.

In terme van 4×4 verrigtinge, is daar ook ’n groot verskil:

 V-CrossAT35
Approach angle30 grade33 grade
Departure angle18 grade23 grade
Breakover angle22.5 grade34 grade

Als anders bly presies dieselfde as met die V-Cross model, behalwe vir algehele gemak en brandstof verbruik. Terwyl die AT35 perfek behoort te wees op die grondpad, sand en modder, raas die dukker bande effens meer op die oop teerpad.

Terwyl die AT35 egter 220kg swaarder as die V-Cross is (3.1 ton), is die stuur verbasend lig.

Hierdie gewig en grootter wiele beinvloed wel die algehele brandstof verbruik, met Isuzu self wat sê dat die V-Cross ’n verbruik van 8.1L /100km kan behaal, terwyl die AT35 ’n verbruik van 8.5L/100km sal lewer. Soos met enige ander ekonomie-toets, het ons egter gevind dat hierdie veel swaarder was en nader aan 11L/100km was.


Ford Ranger Platinum 3.0 V6 4WD Outomaties

Ford se vlagskip bakkie is bykans dieselfde geprys as Isuzu se AT35, maar is vir veel ander doelwitte gebou. Natuurlik is die Ranger gebou vir werksverrigting, maar is uiteraard meer luuks en meer gefokus op ’n SUV gevoel.

Nes die Isuzu, het die Ranger Platinum ook ‘n 3.0L enjin, maar hier is dit in die vorm van ’n V6 turbodiesel, wat 184kW en ’n enorme 600Nm uitskop. Nes die Isuzu, het die Ranger ook laestrek, maar het dit eerder ‘n 10-spoed outomatiese ratkas, pleks van Isuzu se 6-spoed outomaties.

Hierdie maak die rit in die Ranger veel rustiger, terwyl die enjin teen laer revolusies hardloop, wat uiteraard meer brandstof spaar. Algehele branstof-verbruik in die Platinum is nader aan 10L/100km.

Ford se Ranger reeks mik egter vir alle markte, met die Wildtrak wat meer gemik is of avontuur, nes die Raptor. Die Platinum is egter gemik op stedelike gemak, terwyl die langpad of grondpad nou-en-dan aangepak word.

Die Platinum uiteindelik is baie goed uitgerig, met die laaibak wat elektronies toegemaak kan word, sowel as twee elektriese kragpunte het. Insittendes in die kajuit kry ook ‘n 220V punt om enigie mobiele aparate te laai.

Natuurlik is die Ranger reeks se kenmerk die portret-georïenteerde raakskerm. In die Platinum reeks is hierdie grootter teen 12.4 duim.

In plaas daarvan om dunner wiele met dukker bande op te sit, soos met die AT35, kom die Platinum model met 21-duim laeprofiel wiele, spesifiek gemak vir die stad. Hierdie bande is aansienlik stiller op die hoofweg en snelweg, in vergelyking met die 35-duim BFGoodrich bande, maar mag dalk minder gepas wees vir modderige of klipperige terein.

Verder het die Ranger Platinum ook Matrix LED hoofligte, terwyl ’n verhitte stuurwiel en sitplekke ook handig te pas kom tydens koue winters dae. Soos met die AT35, kan die Platinum ook fone draadloos laai.

Gevolgtrekkinge

Daar is vele “super” bakkies tans in die mark, waarvan die Ranger Raptor en Toyota se Hilux Gr-Sport die leiers is. Isuzu se AT35 mik moontlik vir hierdie mark, waar pret die oorwegende faktor is.

Teensy die bakkie nie hoofsaaklik vir grond of modder pret gebruik gaan word nie, verkies meeste verbruikers egter ’n meer praktiese stedelike voertuig, wat daagliks in die dorp of die stad gebruik kan word.

Dit is hier waar Ford se Ranger Platinum uitstaan.

Ford het dit reg gekry om ’n veelvoudige voertuig te bou, wat dalk nie noodwendig so goed gaan vorder in die sneeu of in die 4×4 terein nie (daarvoor is die Ranger Raptor, teen R1 224 700, te koop), dog die noodsaaklike daaglikse aktiwiteit met gemak en luuksheid sal verrig.  

Leave a Comment