‘n Aangename verrassing op Italiaans
Wat ‘n aangename verrassing! Die eerste keer wat ek ‘n Fiat getoets het was toe nie ‘n vervelige ervaring nie, maar ‘n verfrissende indruk van die klein Italianse motor.
Modelle soos die Uno en Palio het my laat dink dat ek ‘n paar dae in ‘n klein ekonomiese buksie sal rondjaag, en terwyl die nuwe Grande Punto nie ‘n massiewe motor is nie, het hy darem ordentlike ruim vir bestuurder en passasiers. Binneruim en die totaal van sy bakwerk is op Polo standaard, nes sy 1.4 liter enjin en groot kattebak.
As ‘n mens een of twee keer om die Grande Punto Dynamic stap is daar nie baie om te sê nie. Die Fiat lyk maar terughoudend normaal, met ‘n silwer sierrooster en groot hoofligte wat vér agter toe trek. Sy agterkant is ook nie uitstaande nie, ‘n skoon en ongekompliseerde ontwerp het duidelik hier gewen.
Spring agter die stuurwiel in en dinge raak meer interessant. Die sitplekke en deure is met ‘n baie glanserige blou materiaal opgekikker en die stuurwiel voel én lyk modern. Die Punto het ook (tussen baie ander) ‘n knoppie op sy instrumentpaneel wat ‘n prentjie van ‘n stuurwiel vertoon. Druk hom en ‘n groen “CITY” liggie maak sy verskyning, en die stuurwiel raak opmerkbaar ligter om te draai. Handig vir vroue.
Die kragstuur is dan ligter en neem ‘n klomp terugvoering weg, maar dit is ‘n definitiewe pluspunt in parkeerareas en skerp draaie op stedelike paaie. Druk die knoppie weer en die ‘normale’ gevoel kom terug, wat ook beter voel op nasionale paaie met höer snelhede.
Ander knoppies en speelgoed sluit in ‘n RDS radio met CD speler, lugversorging, roete rekenaar met digitale inligtingskerm, klankstelselbeheer op die stuurwiel, hoogte-verstelbare stuurwiel en hoofligte, en elektriese vensters en spieëls. Die sentraalsluitstelsel sluit alle deure outomaties bo ‘n sekere spoed, en die Punto spog ook met lugsakke en ‘n immobiliser.
Wieltolbeheer, ABS en EBD remme is ook deel van die Fiat se veiligheidstoerusting; die dun bande het self op nat paaie ‘n harde rem-toets baie goed voltooi. Maar die mees indrukwekkende punt van hierdie Grande Punto is sy 1.4 liter 4 silinder petrolenjin.
Die klein 16-klep T-Jet enjin word deur ‘n turbo aangejaag en bied enige eienaar hope bestuurspret. Net vóór 1500 rpm begin hy wakker word en kondig sy werk met ‘n effens harde maar plesierige geraas aan wat deur ‘n sagte turbo-gefluit ondersteun word.
Alhoewel daar g’n rooi merk op die toereteller is sal die 1.4 T-Jet enjin amper 90kW by 5 000 toere ontwikkel en naby 6 500 rpm in sy toere-beperker hardloop. Verrigting en versnelling is amper asemrowend as die 1400 en sy turbo die ligte Italianer in ‘n raps onder 9 sekondes tot 100km/h bring. Trap die lepel teen die mat en die Grande Punto sal blykbaar in sy vyfde rat amper 200km/h haal.
Onder wettige omstandhede bring die turbo-aangejaagde kleintjie nog ‘n plesierige eienskap na vore … sy uitstekende wringkrag van 200-en-‘n-bietjie méér Newtonmeter. Dit beteken dat (met enigiets bó 1 500 rpm op die toereteller) die Fiat maklik versnel en glad nie bang is vir hellings, swaar bagasie, of ander motors op ‘n hoofweg verbysteek nie.
Dit maak alledaagse bestuur ‘n absolute genot omdat jy nie, soos in Fiats van oud, die klein enjintjie hoef te martel om sy volle verrigting te kry nie. Met ‘n gemiddelde verbruik van slegs 6.5 liter per 100 km (gemiddeld) sal hierde motor sy 45 liter brandstoftenk in net minder as 700km droog drink. Maar die meeste entoesiastiese eienaars gaan dit waarskynlik nie haal nie; die verrigting voer jou mee!
As lesers ‘n meer sportiewe motor soek, sal die 3-deur Grand Punto Sport van Fiat beslis ‘n beter keuse wees. Sy enjin is identies maar dryf die korter (en meer sportiewe) Sport effens vinniger tot 100km/h en behaal ook ‘n hoër topsnelheid.
Die Grand Punto (5-deur) laat die indruk dat hy ‘n “wolf in skaapsklere” is. Sy veringstelsel is egter méér op gemak as verrigting ingestel. Die Fiat gee ordentlike terugvoering aan die bestuurder maar met sy klein wiele hou die motortjie nie baie van hoogs-entoesiastiese bestuur nie.
Maar laasgenoemde maak beslis nie van hom ‘n swak motor nie; dit is net ‘n moderne, ekonomiese Italiaanse motor wat ‘n
indrukwekkende enjin het. Laasgenoemde was ‘n baie aangename verrassing. Net soos sy prys van N$183 600 wat ‘n 3 jaar / 100 000km waarborg en 5 jaar / 100 000km diensplan insluit.