Van Rusland, met Roebels…
In die warm jare van die Koue Oorlog het Agent 007 bewys dat daar ook goeie (of mooi) dinge uit Rusland gekom het. James Bond en From Russia with Love sal nog lank op DVD gekyk word deur ‘n nuwe geslag wat van die Koue Oorlog geen snars weet nie; of van die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het nie.
Nou, met die harde ekonomiese realiteite wat die motorindustrie wêreldwyd tref, en die eens magtige General Motors in die VSA tot bankrotskap gedryf het, kom daar vir Opel hoop uit ‘n onverwagte oord, Rusland.* Laasgenoemde is ironies as daar na die geskiedenis van die motorfirma wat Adam Opel op die been gebring het, gekyk word!
Adam Opel, bygestaan deur sy vyf seuns, is een van die oudste Duitse motorvervaardigers in Europa. Aanvanklik het hulle motors van ‘n Franse vervaardiger, Darracq, onder lisensie gebou maar vanaf 1902 Opels uit hulle eie stal. Eers was dit net eenvoudige tweesilindermodelle, daarna viersilinders en uiteiendelik ‘n vuurpylaangedrewe renmotor op ‘n stadium wat die wêreldbekende Duitse vuurpylpionier, Wernher von Braun, nog kortbroek gedra het.
Vanaf 1912 het Opel vragmotors gebou wat ‘n reputasie vir betroubaarheid opgebou het en op groot skaal tydens die Eerste Wêreldoorlog deur die Duitse leër aangewend was om troepe en voorrade te vervoer. Die maatskappy het in die oorlogsjare floreer maar vir die Opel gesin was dit ook ‘n tragedie toe die een seun, Ludwig, aan die Oosfront geval het.
Na afloop van die Eerste Wêreldoorlog, en die finansiële laste wat die Verdrag van Versailles op die Duitsers geplaas het, het Opel hom toegelê op die bou van kleiner motors wat goed verkoop het totdat weghol-inflasie die land in 1923 getref het. Streng maatreëls wat beide die invoer en uitvoer van Duitse motors getref het, het gegeld en talle kleiner ondernemings moes hulle deure sluit. Die streng uitvoerbeleid in hierdie tyd het ook die uitvoer van ander Duitse motors na onder andere Suid-Afrika getref omdat die vervaardigers uitvoerbelasting moes betaal! (In 1930 was daar plaaslik 135 177 motors geregistreer waarvan slegs 429 van Duitse herkoms was).
Desondanks het Opel herstel en vanaf 1925 tot 1928 hul produksie drasties verhoog. Opels het veral gewild geword vanweë suksesse in motorsport sodat die maatskappy oorgegaan het na die bou van groter sessilinder en agtsilinder sedans om in die luukse-motormark mee te ding. Die tydsberekening was egter verkeerd, die Wallstraat-katastrofe in die VSA was net om die draai en die Groot Depressie sou tot in die uithoeke van die wêreld sy offers eis. Die finansiële redding van Opel het in 1929 uit die VSA gekom met die oorname van Opel deur General Motors; ‘n stap wat gevolg het op die oorname van die eens trotse Britse vervaardiger, Vauxhall, deur die Amerikaanse reus.
Dit was eers ná die oorname van General Motors wat Opel hier te lande bekendheid verwerf het. Reeds in 1929 is Opels deur General Motors ingevoer. In 1932 is Der neue Opel; der eleganteste Wagen seiner Klasse deur Kingsley en Marais in Pretoria geadverteer vir £156 vir die viersilinder en £186/10 vir die sessilinder modelle.
Pryse van Opels en ander Duitse motors het ná die sluit van ‘n handelsverdrag tussen Suid-Afrika en Duitsland in 1934, heelwat verminder. Volgens dié ooreenkoms sou Suid-Afrika die grootste deel van sy wolskeersel na Duitsland stuur waar krediete opgebou kon word om motors, lokomotiewe en vliegtuie te koop. Dit verklaar dan ook die grootskaalse invoer van Henschell lokomotiewe en Junkers vliegtuie benewens die Opels, DKW’s en Adlers vanaf 1935 tot l939. (Het Hitler toe al sy oog op ‘n Russiese offensief gehad?).
In die dertigerjare het Opel sy legendariese “Blitz”vragmotor gebou. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het hierdie vragmotor hom onderskei as ‘n eenvoudige maar betroubare voertuig en moes Mercedes-Benz onder andere die Blitz onder lisensie help bou om tred te hou met die aanvraag. Die motorhistorikus Schneider het dan ook tong in die kies gemeld dat daar “Sonder die Blitz geen Blitzkrieg kon wees nie.” Talle foto’s uit die Tweede Wêreldoorlog toon dan ook talle Opel Blitz vragmotors en Olympia en Kadett sedans wat tydens Operasie Barbarossa op die Russiese front diens gedoen het. Ook Erwin Rommel het in sy Noord Afrikaanse veldtog swaar op Opel vragmotors gesteun.
Ná afloop van die oorlog, het die Russe (met reg) op hulle deel van die buit aanspraak gemaak en is die volledige Opel vragmotorfabriek en Kadett motoraanleg afgetakel en per trein na Rusland vervoer om daar weer hervestig te word. Die Opel sedan het hier sy buiging gemaak as die Moskvitch; ‘n onverbloemde kloon van die Kadett wat ook in die vyftigerjare in Wes-Europa bemark is om Amerikaanse dollars vir die sosialistiese magsblok te verdien. (Die hele fabriek van nog ‘n veteraan en staatmaker tydens die Rusland-veldtog, die BMW R75 motorfiets – dikwels met syspan – is deur die Russe gebuit. Hierdie motorfietse word nog steeds in Rusland gebou).
Ná die val van die Berlynse in 1989, het ook die motorwêreld dramaties verander. General Motors het in 2002 ‘n vennootskap met die Lada motorfabriek aangegaan en het die nuwe Chevrolet Niva die lig gesien; aangedryf deur Lada of Opel enjins! Hierdie Lada’s is egter meer modern as die modelle wat ‘n dekade of twee gelede via ‘n tussenganger in Lesotho plaaslik beskikbaar was; dit nogal toe die Koue Oorlog nog sterk aan die gang was! Maar terug by Opel in Suid-Afrika.
Opel het saam met General Motors byna volksbesit geword; die ryk boere en prokureurs op die platteland het destyds Chevrolets en Fords gekoop; die onderwysers en salaristrekkers Opels en Zephyrs. Boonop het Opel ook bygedra tot die onderhoud van die Afrikaanse “huisof volksuniversiteit”, Die Huisgenoot. Vanaf die bekendstelling van Opel in die dertigerjare en tot en met die uitbreek van die oorlog in 1939 het daar gereeld advertensies in Die Huisgenoot verskyn. Vanaf 1951 het Opel ook gereeld op die voorblad van Die Huisgenoot verskyn en is daardeur méér redaksionele inhoud van gehalte verseker; sonder advertensies kan geen publikasie oorleef nie.
General Motors en Opel het ook grootliks daartoe bygedra dat die motortydskrif CAR in 1957 gevestig kon word; in sy eerste bestaansjaar het die tydskrif nie minder nie as ses volkleur Opel-advertensies op die voorblaaie gehad nie – tot die groot ontsteltenis van sy konkurrente destyds. Maar ‘n mens glo dat Opel se mees gedugte plaaslike mededingers vandag ook sal wil hê dat hierdie gerespekteerde handelsnaam sal bly voortbestaan as deel van die Suid-Afrikaanse erfenis.