Padtoets: 2009 Jeep Cherokee CRD

Oupagrootjie se tweede lewe

Die oupagrootjie van elke sportnutsvoertuig (of vier-by-vier) is die Amerikaanse Willys GP (“General Purpose”) wat in die Tweede Wêreldoorlog sy verskyning gemaak het. Hierdie basiese maar veelsydige vierwielaangedrewe voertuig het na die oorlog vinnig bewys dat hy ook harde werk of vermaak vir Jan Alleman kan bied.

Die afkorting “GP” het in die nuwe firma Jeep se naam verander, en dit maak hulle die eerste en oudste vervaardiger van motors met blink “4×4” plakkers. In die huidige krisistye herinner name soos Wagoner, Wrangler en Rubicon my daaraan dat Jeep een maatskappy is wat nooit sy deure kan toemaak nie – al wissel die eienaars.

Selfs as die boeke bloedrooi en die vertoonlokaal leeg is, sal die geskiedenis en suksesverhaal van dié handelsmerk hom beslis ondersteuning waarborg. Terwyl die verkope van spog-motors en luukse sportnutsvoertuie sak, geniet Jeep en sy modelle soos Wrangler, Cherokee en Grand Cherokee nog steeds die belangstelling van hardebaard vier-by-vier entoesiaste.

Mens sal lank moet soek om in ons toetsvoertuig, die basiese Jeep Cherokee CRD Diesel Handrat, DVD skerms of glanserige houtwerk te vind. Miskien is dit deel van sy opsionele ekstras, en beslis sal dit in die groter Jeeps gevind kan word, maar die eenvoudige voorkoms (binne én buite) van die Cherokee was verfrissend.

Die toerusting en hoeveelheid speelgoed is nie sleg nie, maar hy het altyd ‘n indruk geskep dat hy teerpaaie en winkelsentrums sal duld, en veel meer van veld, sand, modder en berge hou. En ek hou van die instelling; die Cherokee maak geen verskonings vir sy taai voorkoms nie. Sy padvermoë in die dorp is nie sportief nie, maar dit is te danke aan sy uitstekende talent as die teerpad eindig.

In die nuutste weergawe sal jy die grootste verandering aan sy neus vind, wat nou die tradisionele Jeep gesig met nuwe ligte en 7 tande dra. Die buffers lyk effens anders, en die motor se agterkant is ook opgekikker, maar die algehele vorm van Jeep se klein staatmaker het nie regtig verander nie.

Die binneruim van ‘n Cherokee bied genoeg plek vir 5 volwassenes en hul bagasie, en die sitplekke is sag en gemaklik. Hulle bied nie baie ondersteuning om skerp draaie nie, maar dan sal die Jeep se veringstelsel jou ook vinnig oortuig dat jy die verkeerde motor gekies het vir dié taak.

Die stuurwiel, instrumente en klankstelsel is die bekende voorkoms uit die Jeep/Chrysler/Dodge se parte afdeling, en gee die binneruim ‘n ongekompliseerde en eenvoudige voorkoms. In hierdie intree-model Cherokee sal jy sonder knoppies op die stuurwiel moet regkom, maar sy indrukwekkende klankstelsel uit die familie-kas is maklik om te gebruik.

Die radio/CD/DVD/mp3 stelsel kan ook met Bluetooth, navigasie, hardeskyf en stemherkenning bestel word, maar selfs die basiese stelsel doen goeie werk en lewer aanvaarbare klanke uit die voertuig se luidsprekers. Die agterste sitplekke kan 60/40 gevou word, en die voorste passasiersitplek kan ook platslaan. Handig.

Daar is ‘n 12V sok vir jou vrieskas, ‘n paar bekerhouers, kragstuur, sentrale sluiting, en baie eenvoudige lugversorging-kontroles. Vensters en spieëls is elektries verstelbaar en langs die skakelaar vir die ratkas se 6 ratte sal jy knoppies vir die 4×4 stelsel vind. Die vierwielaandrywing genoem Selec-Trac II 4WD kan tussen 2WD High, 4WD Auto en 4WD Lo gewissel word.

Die stelsel is ook maats met Cherokee se wieltolbeheer en stabiliteitstelsel en dus sal hy in 4WD Auto modus die wiele dophou en die CRD enjin se krag aan die nodige een stuur. Die 2.8 liter turbodiesel enjin is perfek vir harde werk (of speel) met sy 130kW en 410Nm.

Met dié wringkrag is sy verrigting ietwat lui, maar met 6 ratte om van te kies sal mens altyd die regte een vind om by lae toere (en lae brandstofverbruik) deur die dorp te beweeg. By 60km/h in sesde rat draai die toereteller se naaldjie by slegs 1 000 rpm en die motor beweeg amper vanself voorentoe. Die enjin hou nie baie van hoë toere nie, en die ratkas is ewe sleg met vinnige bewegings.

Ja nee, ‘n Cherokee CRD sal nie baie verkeersligrenne wen nie, maar ek het gou by sy ontspanne vermoë en kragtige diesel-enjin aangepas. Hy raas ook ‘n bietjie; nes ‘n regte bakkie of plaasmotor. Weereens hou ek van die eienskap, omdat ‘n Jeep Cherokee en sy raserige diesel speel-speel op ‘n slegte plaaspad ry.

Die Cherokee se rem- en veringstelsels is nie vir spoedvrate gemaak nie, nes die groot turbodiesel en 6-spoed ratkas. O Ja, en die sitplekke. Maar skakel na 4WD Lo oor en wys hom ‘n berg of twee, en skielik is die klein Jeep in sy gunsteling omgewing waar hy veel verder sal kom as die meeste bestuurders se moed; myne ingesluit. Sy oupa grootjie, die Willys GP, is beslis trots op hom.

‘n Jeep Cherokee CRD Handrat kos N$369 900 met ‘n 3 jaar 100 000 km diensplan, en hy hoef slegs elke 20 000km die werkswinkel besoek vir ‘n diens.

Leave a Comment