Franse Flair op sy beste
Die eerste hardekap-afslaandak motors was nie dié van die Duitsers van tien of vyftien jaar gelede nie, maar wel dié van Peugeot reeds in die 1930’s. Hoekom almal so lank gewag het om hierdie briljante konsep terug te bring, weet ek nie.
Gelukkig is die Franse vervaardiger een van die handelsmerke wat hierdie gaping in die mark opgemerk het, en in die 21ste eeu moderne en opwindende motors met origami dakmeganisme vir ons bied. En na ‘n paar dae met die nuutste 308CC is dit duidelik dat Peugeot se motors ook van die mooistes is!
Vriende, familie, besoekers en vriendelike tannies in parkeerareas het een van twee opinies; mense se indruk van ‘n Peugeot 308CC is ‘n perfekte 50-50 skeiding.
Die een groep loop stadig met oop monde om die glansende wit CC en wys opgewonde na die voertuig se aantreklike lyne. As hulle eers agter die stuurwiel sit, kry mens die meeste van hulle slegs met bedel en/of dreigemente uit die Peugeot uit.
Dit sal nooit met die lede van die ander groep gebeur nie. Terwyl hulle die 308CC ‘n vinnige kyk gee, sluit hul oë tot gleufies en die neuse trek op terwyl hulle verder stap. En die kommentare van hierdie groep is nie geskik vir druk of digitale publikasies nie.
Ek is wel ‘n lid van die eersgenoemde groep aanhangers. Die nuwe 308CC lyk opwindend en hoogs-aantreklik, en terwyl ek nie seker is oor die vet glimlag op sy Peugeot korporatiewe gesig nie, is ek mal oor die motor se massiewe agterkant met sy moderne ligte en diffusers. Ongelukkig weet ek nie wat die Afrikaanse woord vir hierdie Formule-1 aerodinamikaontwerp is nie, en is nog meer verward oor wat hulle op ‘n pragtige afslaandak motor soek. Maar hulle teenwoordigheid en die elegante drukvin op die kattebak gee die nuwe 308CC ‘n aggresiewe voorkoms aan sy agterkant.
Die groot kattebak sluk genoeg bagasie vir twee mense, maar slegs as die dak gesluit is. Dit laat die Peugeot ook effens meer elegant lyk, alhoewel die meeste aanhangers hom sonder die staaldak verkies het.
Die bagasieruim word deur die dak tot klein inkopies vlak verminder, maar as mens g’n passasiers het het nie, het die agterste sitplekke ook plek vir ‘n paar Woolies sakke. Dié sal ook meer gemaklik wees vir volwassenes met lang bene, veral op die langpad.
Ons toetsmotor se binneruim was goed afgewerk in swart leer, wat nie altyd ‘n goeie keuse vir ‘n afslaandakmotor is nie. Die sitplekke het baie ondersteuning en sagte leer, wat ook op koue Augustus dae verhit kan word; terwyl die res van die kajuit ‘n vars en opwindende uitleg wys.
Die RDS radio en CD speler verstaan mp3 klanke en is (jammer, almal) met ‘n groot afstand die BESTE klankstelsel wat ek in ‘n daklose voertuig ervaar het. Sy informasie-skerm is nie altyd maklik om te lees nie (met sonskyn en polariserende sonbril, die sateliet-kontroles vat ‘n rukkie om aan gewoond te raak, maar die kwaliteit en krag van die klank is uitstekend.
Lugreëlingskontroles is ongekompliseerd en werk perfek, nes in die 308 sedan. Die delikate swart-op-wit instrumente met rooi naalde is ook bekende gereedskap en lyk veral snags indrukwekkend. Die 308CC het ook ‘n metaalkleur ratskakelaar, groot silwer aksente en handvatsels, en silwer sport-pedale.
Nog ‘n erfdeel is die 1.6-liter gelid-4 petrolenjin met sy turboaanjaer, wat ook in ander voertuie soos die 308, 207 GTi, en Mini Cooper S diens lewer. Die kragbron is effens mak gemaak en gee ‘n 308CC bestuurder 110kW (150pk) of 240Nm om mee te speel. Dit beteken ‘n nul-tot-honderd syfer van 10.5 sekondes en ‘n topsnelheid van 215km/h.
Sy grootste voordele is uitstekende wringkrag en lae verbruik, asook ‘n baie gebalanseerde en stil manier van dinge doen. In hierdie voertuig het ek opgemerk dat die enjin nie baie van hoë toere hou nie, en veral in hoër ratte, ietwat lui raak as hy die rooi sone nader.
Die goeie nuus is dat daar genoeg ratte onder jou is om weer in die wringkrag-band te beland en goeie versnelling te ervaar. In alledaagse omstandhede (veral met die dak af) het die Peugeot enjin ook ‘n plesierige klank en ‘n klein turbo-afblaas-geluid.
Padvermoë is ook een van die motor se sterktes; die nuwe 308CC klou verbasend goed aan teer en die bakwerk kantel nie te veel nie. Ek sou selfs sê dat die voertuig méér krag kan hanteer, maar sy ordentelike maniere en aangename rit pas perfek by sy delikate/boutiek voorkoms.
Die Peugeot 308CC het besondere goeie ABS remme, talle lugsakke en adisionele veiligheids-toerusting, ‘n 3 jaar 100 000km waarborg, en kos slegs N$336 500. Op pad terug van Rooi Els met die wind in ons hare en die Eagles in ons ore, het my passassier besluit dat hierdie een ‘n absolute winskoop is!