Bekendstelling: Nissan Murano II

Nog beter as tevore!

Met die motorindustrie wat maar redelik sukkel, is daar ‘n interessante tendens te sien. Waar die verkope in die meeste segmente af is, is dit nie die geval van die petrol aangedrewe sportsnutsvoertuig (SNV) mark nie.  Een van die belangrike rolspelers in hierdie segment, is die Nissan Murano.

Die tweede generasie van hierdie motor is so pas aan die motormedia bekend gestel en was daar geleentheid om hom oor ‘n verskeidenheid van paaie te bestuur; die rit het die snelweg, twee passe (geteer) en ‘n verskeidenheid van grondpaaie.

Die Murano is ‘n groot motor en val in die sogenaamde “Crossover”- segment. Nissan beskryf die Murano as “die ideale paring van die siel van ‘n sportmotor met die hart van die premium sedan en die voorkoms van ‘n moderne sportsnutsvoertuig (SUV). Ek moet sê dié beskrywing is baie na aan die waarheid.  Nissan het goed daarin geslaag om ‘n voertuig te maak wat ideaal is om gerieflik en veilig teen normale snelhede op snelweë en ander teerpaaie te ry, maar kan ook, wanneer die behoefte daar is, ons land se grondpaaie aandurf. Hy is egter nie bedoel om op regte rowwe 4×4 roetes rond te ry nie.

Voorkoms

Soos met die eerste generasie het die Murano ‘n treffende voorkoms. Die nuwe weergawe lyk onmiskenbaar soos die vorige model maar is eintlik geheel en al herontwerp. Eerstens is dit op ‘n nuwe platvorm gebou wat meer ruimte binne vir die insittendes gee. Alhoewel dit waarskynlik nie in almal se smaak sal val nie, moet mens erken dat jy die Murano nie kan miskyk nie. Die veranderinge aan die voorkoms van die nuwe model, veral aan die sierrooster, is myns insiens ‘n verbetering op die eerste weergawe wat in 2002 op die wêreld-mark gekom het.



Binneruim:

Die Murano is toegerus met al die nodige luukshede, en meer. Die sitplekke is van leer en kan verwarm word en elektronies verstel word. Afwerking is oral puik en daar is ook leer aan die stuurwiel, armlenings en rathefboom. Dit alles skep die indruk van ‘n duur en luukse motor en is ‘n groot verbetering op die vorige model.  Die Bose-klankstelsel het 11 luidsprekers en die kontroles is op die stuurwiel. Die motor beskik verder oor heelwat kenmerke wat dit vir die bestuurder gerieflik  maak. So kan die agterste sitplekke met die druk van ‘n knoppie op (en af) geslaan word om meer pakruimte te kry en die groot bagasiebak-kap kan elektronies oop- en toegemaak word. Dan is daar is ‘n 7” skerm op die voorpaneel waar die bestuurder dmv klein kameras agter en aan die linkerkant kan sien om met parkering te help. Kortom, die indrukwekkende lys van standaard toerusting is onvergelykbaar in sy klas.

Kraglewering:

Die Murano word aangedryf deur ‘n V6 enjin van 3.5 liter wat 191 kW ontwikkel teen 6 000 r/min en die wringkrag is 336 Nm wat teen 4 400 r/min beskikbaar is. Dit is heelwat meer krag as die enjin wat in die vorige model gebruik is. (171kw en 318nm)  Die enjin is ‘n juweel; hy is stil, verfynd en gewillig. Dit laat die swaar (1,9 ton) Murano van 0-100km/h in 8 sekondes versnel en ‘n gemiddelde brandstofverbruik van ongeveer 12 l/100km kan verwag word. Kraglewering na die wiele is deur Nissan se 4×4 stelsel wat die eerste maal plaaslik in die nuutste X-Trail gebruik is.  Soos in die vorige  Murano is die enigste opsie vir ratwisseling die palwisselratkas (CVT – Continuosly Variable Transmission) met die keuse om die ekwivalent van ‘n 6 spoed ratkas te gebruik met ‘n tikrat funksie.

Op die pad:

Die sterk V6 enjin gee die Murano genoeg krag om baie gemaklik en veilig teen normale snelhede op teerpaaie te ry. Met wringkrag van 336 Nm kan daar vinnnig versnel word om stadiger voertuie met gemak te kan verbysteek, veral teen bulte waar swaar voertuie jou dikwels ophou. Wanneer jy die 6-gang opsie met die hand wissel, is die versnelling selfs beter. Die groot 235/65R18 wiele en die stewige veerstelsel gee aan die motor goeie padhouvermoë en die Murano het verbasend goed om draaie gesit sonder dat dit baie  oorleun vir so ‘n hoë en swaar voertuig. Met ‘n grondvryhoogte van 185mm en die 4×4 modus wat in werking tree wanneer dit nodig is, voel die Murano ook baie veilig op grondpaaie. Jy kan ook met die druk van ‘n knoppie verseker dat die motor permanent in vierwielaandrywing is. Normaalweg is die aandrywing deur die voorwiele. Die kragstuur pas aan met spoed en daar is ‘n redelik “gevoel” vir die pad teen hoë snelhede.

Om op te som, die Murano maak ‘n “skoon” indruk en sy voorkoms anders as enigiets op die mark en die stilering is byderwets, vaartbelyn en agressief. Teen N$488 000 kompeteer hy met die Volvo XC70 2.5 Gear¬tronic (N$475 000) en die Subaru Outback 3.0 R Premium Sportshift (N$439 000).

Die Nissan Murano kom met ‘n diensplan van 5 jaar of  90000km en het ‘n waarborg van 3 jaar of 100 000 km. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Kyk maar weer na Nissan!

Leave a Comment