Chevrolet se Sportbakkie ‘n besliste wenner
General Motors SA het beslis baie waagmoed aan die dag gelê toe hulle besluit het om die kampioenbakkie van die afgelope meer as ses jaar te vervang met ‘n derde generasie Chevrolet Sport Utility bakkie.
Ná ‘n wankelrige jaar in 2008 het modelle soos die Cruze, Spark en Corsa weereens die maatskappy op die groeipad van die afgelope 100 jaar geplaas. En die nuwe Utility gaan beslis hierdie tendens voortsit.
Ja, eienaars van die Nissan NP200, Ford Bantam en Fiat Strada halftonners sal miskien verbaas wees om te weet dat GM se Opel Corsa bakkie vir ‘n ongelooflike 79 maande die topverkoper in hierdie segment vir bakkies was. Sedert die bekendstelling van die Corsa bakkie in 1997 is nie minder nie as 180 000 van hierdie modelle verkoop. Maar laat daar geen twyfel wees nie dat GM seker gemaak het dat hierdie trotse prestasie voortgesit sal word en dat die Sport Utility ‘n waardige opvolger vir die Corsa is en laasgenoemde se spore sal vol staan.
Die nuwe Chevrolet bakkie betree die mark met sewe verskillende modelle wat met dieselfde 1.4 en 1.8- petrolenjins van die Corsa toegerus is. Op hierdie stadium is dit nie seker of GM miskien daaraan dink om ook ‘n dieselweergawe die lig te laat sien nie. Die 1.4 Chevrolet Utility is verkrygbaar in vier modelle naamlik die Base, Base AC, Club en Sport wat spog met die grootste kraguitset vir intree modelle in hierdie bakkie segment naamlik 68 kW en 120 Nm. Met ‘n brandstofverbruik van 7,2liter/100km kan hierdie modelle sekerlik ook aanspraak maak op die mees ekonomiese verbruik onder die halftonners. Pryse wissel van N$115 600 vir die Base, N$123 600 vir die Base AC, N$136 000 vir die Club en N$161 000 vir die Sport.
Die model wat toetsbestuur was, is die 1.8 Sport wat ‘n bruikbare 77 kW en 161 Nm lewer en wat saam met die Base AC en Club die driemanskap in hierdie klas uitmaak. Pryse wissel tussen N$148 000 en N$173 000 vir hierdie modelle. Volgens onafhanklike toetse kan ‘n brandstofverbruik van rondom 9 liter/100 km in die gemengde siklus verwag word hoewel die vervaardiger ‘n verbruik aangee. Maar met die krag wat beskikbaar is, is dit moeilik om dit nie te wil gebruik nie!
Wat ontwerp betref het die Chev Utility ‘n heeltemal verskillende voorkoms as sy voorganger maar tog onmiskenbaar Chevrolet waar die invloed van die Captiva, Spark, Cruze en die Lumina duidelik gesien kan word. Van vooraf beskou wil dit soms voorkom asof die ontwerp van die Utility amper te oordadig vir ‘n bakkie is maar dan weer, smaak verskil en dit is juis miskien hierdie wegbeweeg van die Spartaanse bakkie-voorkoms wat hierdie bakkie net so ‘n groot treffer as sy voorganger gaan maak.
Die Chev Utility is hoër, langer en wyer as sy voorganger terwyl die wielbasis verkort is met 41mm en die grondhoogte met 17mm verhoog is. Laairuimte is aangepas sodat dit effens kleiner as dié van sy voorganger is (0,6%) maar vragkapasiteit is nog ‘n bruikbare meer as 700kg by beide modelle.
Chev se Utility se grootste verrassing kom egter wanneer mens jou eers in die kajuit tuismaak en die gevoel van meer as genoeg ruimte na vore kom. Vergete is dus die fraksie laairuimte wat ingeboet is wanneer ook ‘n langerige persoon as’t ware sy bene kan reguit maak. Sitplekke skuif ruimskoots na vore om baie ruimte vir pakplek agter die sitplekke te verskaf. Die bestuurder se sitplek kan selfs in hoogte verstel en vat jy regtig die langpad is dit net wanneer daar af en toe in die truspieël gekyk word en die laairuimte gesien word dat mens jou vergewis van die feit dat jy ‘n bakkie en nie ‘n gewone sedanmotor bestuur nie. Die effens verlaagde agterklap van die bak help dan ook om ‘n beter uitsig na agter te hê.
Word daar gekyk wat hierdie nuweling van Chevrolet jou bied kan mens nie anders as om tot die slotsom te kom dat hier die beste van twee wêrelde gebied word nie – die kapasiteit om werk te verrig, maar ook moderne en luukse tegnologie. Die 1.4 Base AC sowel as die Base AC 1.8 modelle bied kragstuur, verstelbare stuurkolom, getinte vensters, lugsakke vir bestuurder en passasier, lugreëling, outomatiese hoofligte, ses luidspreker-klankstel met radio/CD, RDS, MP3, USB poort en Bluetooth, afstandbeheersluiting en ‘n alarmstelsel.
Die 1.8-Sportmodel spog nog verder met ‘n aluminium dakgemonteerde drukvin, 15’’ allooiwiele, kragbeheerde verwarming van die truspieëls, kragvensters en ‘n aanboord rekenaar.
Die Chevrolet Utility word deur ‘n vyfjaar of 120 000 waarborg gedek met padbystand. ‘n Opsionele diensplan is beskikbaar en diensintervalle is elke 15 000 km.