Padtoets: Hyundai H1 Multicab

Aan die begin van matriek op Uniondale het ek ‘n kortstondige loopbaan as bestuurder van ‘n aflweringsvoertuig beleef. Oom Hubert van der Spuy se winkelbestuurder het my aangestel om elke middag ná skool die 1958 Chev bakkie te bestuur waarin bestellings afgelewer moet word. Toe ek die bakkie terug bring na die eerste dag se suksesvolle aflewerings, het hy terloops gevra of ek al ‘n bestuurderslisensie het. Ek het nog nie een gehad nie en is summier afbetaal!

Ek het al half vergeet van my kortstondige loopbaan in die verre verlede maar was laasweek weer daaraan gedink toe ek vir wederhelf vertel het dat ek kans sien om met die Hyundai H1 Multicab op my oudag weer so ‘n beroep kan oorweeg; dit nadat ons die naweek met die outomatiese diesel-weergawe ‘n klompie aflewerings gedoen het waarvoor daar eintlik ‘n bakkie nodig was. Die louter vreugde om hierdie outomatiese nutsvoertuig met sy wakker turbodiesel te bestuur het my weer na die besondere dag in matriek teruggevoer.

Ons was by die onlangse bekendstelling van die Hyundai Multicab. Vooraf het ons almal bespiegel of dit ‘n nuwe soort van dubbelkajuitbakkie sou wees en was almal verbaas om uit die vind dat die voertuig half-bakkie, half-paneelwa was. Die verduideliking van die manne van Hyundai dat dit eintlik ‘n dubbelkajuit met ‘n massiewe laairuimte onder een dak was, was baie oortuigend. Veral omdat die laairuimte agter alle dubbelkajuitbakkies liederlik in die skande steek.

Die konsep is vir die meeste van ons ‘n bietjie vreemd. Maar dit werk! So op my eentjie het ek egter gedink dat dit moontlik ook ander aanwendings kan hê waaraan Hyundai nog nie gedink het nie. Met so ‘n paar ekstratjies soos ‘n ekstra dik glas tussen die kajuit en die vragruimte, en twee eenvoudige bankies langs die kante agter, het jy ‘n polisievangwa wat plek het vir vyf groot polisiemanne (of vroue) met sitplek agter vir ses manne (of vroue) wat iets gesteel het of ander lelike dinge gedoen het en veilige vervoer na die polisiestasie nodig het! Maar miskien gaan dit nog ‘n tyd vat om aan die gedagte gewoond te raak voordat hulle in wit en blou geverf moet word en ‘n blou lig op die dak moet kry. Hiermee sal ons ook meer in pas kom met die tipe voertuie wat oral in Europa as “siffies” gebruik word.

Op die naweektoets, gelaai met vyf volwassenes en ‘n behoorlike swaar vrag agter, het die super-ekonomiese brandstofverbruik hom uitmuntend van sy taak gekwyt op beide teer- en grondpaaie waarvan die oppervlakte van goed tot sleg gewissel het. Boonop was ek verheug om weer met agterwielaandrywing te doen te kry; wanneer werklike swaar vragte op ‘n swak gruispad teen steil opdraandes uitgery moet word, kan niks die ouer tegnologie klop nie. Maar die teendeel is ook waar, sonder vrag agter moet daar nie agteruit teen ‘n gebult uitgery word nie; dan skop die agterwiele net soveel soos dié van ‘n gewone bakkie.

Wat die drie passasiers op die agterbank gepla het, was hulle klagte dat die Multicab gevoel het of hy (sonder vrag) onnodig baie geswaai het, iets wat die bestuurder en passasier nie ervaar het nie. En dan moet die vervaardiger se siening dat die voertuig ‘n volle sessitplekker is, met ‘n knippie sout geneem word want die voorste, middelste sitplek is waarskynlik die ongemaklikste klein sitplekkie vir klein Koreaanse akrobate. En dan die probleem om die syspieëls met die hand te verstel. En wederhelf het ‘n smukspieëltjie aan die passasierskant gesoek! Maar tot hier die kritiek.

Die H1 Multicab diesel-outomaties bestuur so gemaklik soos die beste uit Europa se nuwe generasie bussies of afleweringswaens. En dit teen ‘n 50 000 of 100 000 rand minder.

Die hart van die H1 is die seepgladde 2,5 liter turbodiesel wat 125 kW teen 3 800 rpm ontwikkel en ‘n kragtige 392 Nm by ‘n rustige 2 000 rpm beskikbaar stel. Die outomatiese ratkas dra hierdie krag feitlik soomloos oor na die agterwiele.

Die prys van hierdie veeldoeler? N$339 900 wat ‘n waarborg van 5 jaar of 150 000 km insluit. En dan die goeie nuus is dat hierdie bedrag ook ‘n diensplan van 5 jaar of 90 000 km insluit sodat die koper nie verskuilde dienskostes gaan hê nie.

As die prys effens aan die hoë kant is, oorweeg dan die turbodiesel paneelwa teen N$269 900 of die petrolpaneelwa teen N$238 900!

Leave a Comment