Die Stedelike Ontdekkingsreisiger
In Suidelike Afrika is daar twee groot probleme. Stede soos Windhoek, Johannesburg en Kaapstad raak digter bevolk. Nie meer is dit ‘n vinnige uitstappie om in die kar te spring en na die naaste winkelsentrum te ry nie. Tyd, verkeer en padwerke moet in ag geneem word. Die tweede probleem is natuurlik die styging in petrol pryse. Dit is nie meer ekonomies vatbaar om met ‘n groot voertuig in die stad rond te vertoef nie en baie vervaardigers is besig om juis hierdie kwessie aan te spreek.
Die Aygo was nog altyd baie populêr in die Europese stede, waar strate nou en parkeerspasie beperk is. Met die koms van die Aygo na Suid Afrika 2014/15, was daar juis baie opwinding onder die jonger generasie, juis omdat “Millenials” dit geniet om tyd in die stad te vertoef. Tweedens het dit belowe om ‘n waardevolle kopie te wees in terme van waarde vir geld en brandstofverbruik.
Teen R189 500 (3-jaar / 100 000 km waarborg) is die duurste Aygo 1.0 X-Cite ‘n goeie kopie vir die sak van die jong werkende. Die X-Cite word ook toegerus met ‘n panoramiese sondak, 5 gang ratkas, opvoubare agterste sitplekke, ABS, elektroniese remverspreiding, 2 voorste lugsakke, ISOFIX kinderstoel-monterings, USB geriewe, bloutand (“Bluetooth”) konneksie, afstandbeheerde sluitgeriewe, 12-Volt punt, Verhitte tru-spieëltjies, elektroniese vensters, 168 liter se kattebak spasie, ‘n gemaklike streel-paneel (touchscreen) en outomatiese LED voor dagligte.
Die X-Cite model se hoof kliëntebasis is dus die jong werkende persoon, wat pas verhuis het na die stad en ‘n moderne ryding nodig het op ‘n daaglikse basis.
Alhoewel die 3-sylinder enjintjie wel ‘n verbasende skop het, is die Aygo nie vervaardig om die landspoedrekord op te stel nie. In 5de rat kan die Aygo ‘n topspoed van 160km/h bereik en van stilstaan tot 100km/h versnel in 14.4 sekondes.
Eerder is die Aygo vervaardig om gemaklik in die besige stad rond te beweeg. Hierdie het ons vining besef soos ons gesoek het na noue parkeer spasies in die besige middestad van Bellville. Tweedens sal die 35 liter petroltenk ook ‘n gemiddeld van 4.4 liter per 100 km gebruik en dus die kar sover as 790 km kan neem. ‘n Uitstekende syfer.
Alhoewel hierdie voertuig bedoel is vir stadsvernuf kan dit ook die nasionale roetes aandurf en gemaklik teen 3000 opm ‘n spoed van 120km/h hou. Die nadele hieraan gekoppel is dat padgeraas redelik hoog is weens die sagte materiaal van die sondak. Die tweede nadeel is ook dat twee persone, langer as 1.73m nie aangeraai word om agter te sit nie. Spasie kan beknop wees.
In die geheel is die X-Cite meer as bekwaam om die doel as stedelike verkenner baie goed uit te rig.
Die Aygo herinner my aan die “powerpuff girls” program, wat die “Millennials” juis op Cartoon Network gekyk het. Toyota het dit hier reg gekry om ‘n kombinasie van positiewes in ‘n meng pot te gooi.
Die resultaat was die geboorte van ‘n kragtige, praktiese en prettige klein pakket, wat aan al die vereistes van die stedelike inwoner sal voldoen.
Welgedaan Toyota!
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media