Padtoets: 2018 Fiat Panda 0.9 Twinair 4×4 Cross

Sakpas pret

875cm³ en 4×4… Hierdie is die kombinasie van Fiat se nuwe klein 4×4. Met ‘n turbo-petrol 0.9 liter twee silinder enjin, is die nuwe Panda Cross meer as net ‘n oulike “karretjie”. Eerder is dit ‘n sakpas 4×4 met baie karakter. Ons het vir ‘n week in die stad rondgerits om te sien hoe dit is om hiermee te leef.

Teen 3705mm is die Panda Cross effens langer as ‘n gewone Panda, met geen veranderinge wat gemaak is aan die algehele breedte nie (1882mm). Verder staan dit ook effe hoër teen 1657mm.



Die klein twee silinder enjin verskaf 66kW (teen 5500 opm) en 145 Nm (teen 1900 opm) en hoewel die Panda ‘n ses-spoed handrat ratkas het, maak dit redelik geraas. Die twee sylinder hou nie van meer as 5 500 opm nie en die enjin loop teen 3 000 by 120km/h in sesde rat. Versnel vining en dit klink effe na ‘n rasper-motorfiets. Insgelyks was ons brandstofverbruik nie baie goed met die voertuig nie, slegs 8.0L/100km. Hoewel dit ‘n klein enjin is, blyk dit dat die turbo twee sylinder ietwat swaar is op brandstof.

Die Panda het ook drie suspensie verstellings en jy kan kies tussen normale padgebruik, grondpaaie en klipperige of 4×4 paaie.

Weens die Panda Cross se prys (die derde goedkoopste 4×4 in Suid Afrika) kan luuksheid nie as  standaard verwag word nie, asook die algehele afwerking binne die voertuig, wat voldoende is. Natuurlik het ons toets-motor ‘n paar opsionele ekstras gehad soos 15-duim allooi wiele, maar is die binnekant van die voertuig toegerus met materiaal sitplekke, geen streelpaneel en ‘n USB (wat net ‘n laai-funksie het en nie musiek kan speel nie).

Die Panda Cross het darem vele ander nuttighede soos klimaatbeheer, elektriese (en verhitte) kant spieëltjies, ‘n multi-funksionele stuurwiel met leerbekleedsel, en bloutand verbinding. In terme van veiligheid, is die Panda Cross toegerus met ABS en EBD, bult-stilstand hulp, trurat sensors, voor- en kantlugsakke, sowel as ISOfix punte.

Alhoewel ons Panda Cross 14.13 sekondes geneem het om by 100km/h te kom, is dit nie die hooffunksie van die voertuig nie. Hy het sy foute en punte waarop Fiat wel kan verbeter teen die prys gevra, maar uiteindelik is die Panda Cross ‘n voertuig vol karakter om op stedelike paaie te gebruik sowel as om so nou en dan op die grondpad af te draai.

Die Fiat Panda Cross 0.9 TwinAir 4×4 word verkoop teen R262 900 en sluit ‘n drie-jaar/100 000km waarborg en drie-jaar/100 000km diensplan in. Hoewel goed geprys, is daar ongelukkig soortgelyke 4×4 modelle op die mark, wat meer waarde vir geld bied en dalk meer kan verrig.

Ten slotte het die Panda Cross baie karakter en sal dit baie aandag lok, maar is dit swaar op brandstof, relatief raserig en laag op krag. Hoewel dit ‘n 4×4 voertuig is, word dit nie aanbeveel  om die Panda Cross na die dieptes van die Baviaanskloof te neem nie. Moes Fiat eerder gebly het met die bekore? Vier sylinder enjin vir meer krag en beter algehele nut?

Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media



Leave a Comment