Padtoets: 2022 Isuzu D-Max 3.0TD Dubbelkajuit V-Cross 4×4

Isuzu nou nader aan mededingers  

Suider-Afrika se bakkie segment is vinnig besig om die mees kompiterende motor segment te word. By die dag raak hierdie voertuie meer betroubaar, meer luuks, meer modern, en beter werkesels. Meer en meer vervaardigers sluit ook aan by hierdie mark, wat dit moeiliker maak om ’n groot markaandeel te behou.

Isuzu het onlangs hul D-Max modelle “moderniseer” om met die mark leiers te kompiteer. Nou in die sewende generasie, hoop Isuzu om die top twee bekommerd te maak.

Die nuwe 3.0 Turbo diesel V-Cross bakkie is dus ’n aansienlike verandering van die vorige modelle. Terwyl Isuzu se enjins nog altyd betroubaar is en bekendstaan as uitstekende werkesels, het die vervaardiger nog altyd gesukkel om by te hou met die ‘modernisering’ van hul voertuie. Gelukkig bring die nuwe V-Cross model hul nader aan mededingers.  

Die Isuzu se binneruim het ons onmiddelik herinner aan dié van die Mazda BT-50 en met goeie rede. Beide voertuie deel baie van hul binneruim. Gelukkig is dit nie dieselfde geval vir die suspensie en bakwerk nie.

Dus is die V-Cross aan die binneruim geklee in ’n leer afwerking rondom die sitplekke en stuurwiel. Terwyl die sitplekke uiters gerieflik is (’n groot kontras teenoor die vorige modelle), is die stuurwiel ook multifunksioneel en kan dit in lengte en hoogte verstel word.

Isuzu het duidelik hul huiswerk gedoen om die luukse mark aan te durf. Hierdie is dadelik te kenne aan die vermeerdering van stoorspasies and selfoon houers. Die D-Max V-Cross kry ook ‘n 9-duim raakskerm, geintigreerd met die nuutste selfoon toepassings. Bykomend kom ’n dubbele lugversorgings eenheid en 8 lugsakke.

Buite het die V-Cross model nou Bi-LED projektor hoofligte, met LED dagligte, sowel as LED agterligte.

Wat egter meer belangrik is, is dat die nuwe bakkie 10mm laer, en 30 mm langer is. Die B-pilaar is ook vorentoe geskuif met 25mm, wat dus beenspasie vir die agterste persone aansienlik vermeerder en uiters gemaklik maak. Die bak agter is 15mm langer en 30mm dieper, en in geheel, 1 530mm lank.

Die padhouvermoë van die nuwe D-Max V-Cross is aansienlik beter, te danke aan die nuwe veiligheids pakette en bakwerk veranderinge.

Die nuwe enjin voel veel sagter, in vergelyking met die ouer 3.0 liter.

Tesame met ‘n 6-spoed outomatiese ratkas, skop die enjin tot 140kW (teen 3600 opm) en 450Nm (tussen 1600 en 2600 opm) uit. Dus is dit dalk nie so kragtig soos die top bakkies van ander vervaardigers nie, maar voel die nuwe Isuzu enjin veel wakkerder en gereed vir aksie.

Bygesê is die Isuzu D-Max dubbelkajuit 4×4 V-Cross outomaties veel meer bekostigbaar as die mededingers. Teen R814 700 en ’n vyf-jaar / 120 000km waarborg, en vyf-jaar / 90 000km diensplan, mag Isuzu se nuwe bakkie dalk net die mees sinvolle bakkie op die huidige mark wees.

1 thought on “Padtoets: 2022 Isuzu D-Max 3.0TD Dubbelkajuit V-Cross 4×4”

Leave a Comment