Padtoets: 2023 Hyundai Tucson 2.0 AWD N-Line

Een van Hyundai se beste nog

Artikel: Franco Theron
Fotograaf: Jacques Grobler

Sedert die vervaardiger se aankoms in Suider-Afrika, net meer as twee dekades gelede, het Hyundai ’n paar uitskieter modelle ontwerp, waarvan die Getz (spesifiek die 1.6 diesel), die IX35, en die die i10 (Atos) en i20 maar net ’n paar van die ikoniese modelle was.

Met die groei van die SUV mark, is die Tucson een van Hyundai se sterkste verkopers, en met goeie reg. Hierdie was een van Hyudai se eerste voertuie op die mark, en het nog altyd goeie waarde vir die prys gebied.

Dit is geensins anders met die nuwe Tucson reeks, en veral die N-Line, nie. Na die onlangse plaaslike bekendstelling van die N-line, het ons redakteur net met lof oor Hyundai se nuwe SUV gepraat.

Laat ons liewer nie doekies omdraai nie, en reguit by die punt kom. Vir onder R800 000, in ’n bitter kompiterende mark, is hierdie N-Line volgens ons, een van Hyundai se beste voertuie nog. Hierdie kan ons met sekerheid bevestig na ongeveer 1200km.

Hoe verskil die N-Line van die normale Tucson?

Ongelukkig, soos met vele ander vervaardigers, beteken die “line” toevoeging nie noodwendig dat die voertuig jou vinnige van 0-100km/h sal kry nie. Siende dat die “N-reeks”, Hyundai se sportiewe reeks is, is die N-line slegs ’n estetiese aanpassing van die normale model.

Hierdie is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Hoewel die Tucson reeds ’n aantreklike voertuig is, sal die N-Line weergawe sekerlik meer koppe laat draai. Hierdie is te danke aan die vergrootte voorste rooster, nuwe buffers, en 19-duim wiele.

Die binneruim het vir ons egter meer uitgestaan, te danke aan die die sportiewe- dog subtiele voorkoms. Reg deur die kajuit kan rooi stiksel gevind word, terwyl die bestuurspedale skoon metaal is.

Die (uiterse gemaklikke) sitplekke is ook oortrek met ’n kombinasie van leer en ‘suede’. Soortgelyk is daar ’n sleutellose aan- en afskakel funksionaliteit, terwyl daar ook ‘n 3-zone klimaat beheerstelsel is om alle insittendes gelukkig te hou.

Natuurlik, soos met alle premium SUV’s deesdae, is daar ook die nuutste konnektiwiteit (Apple CarPlay / Android Auto), met 2 USB punte in elk van die twee rye, terwyl ‘n 12V punt in die voorste ry en kattebak ook kan help met laai geriewe. Die N-line kom ook met ‘n 10.25 duim raakskerm.

Gelukkig hoef die voorste insittendes nie te sukkel met kabels nie, siende dat daar Bluetooth konneksie, en draadlose laai geriewe is.

Die Tucson N-Line het ook ‘n 5-ster NCAP (veiligheids) rekord met 6 lugsakke, semi-outonoom bestuurs funksionaliteit, sowel as aanpasbare spoed beheer, blinde kol waarskuwing, en baan verwisselings bystand.

Is die enjin meer sporttief?

Nee, maar dit is nie noodwendig sleg nie. Die N-Line model word met dieselfde 8-spoed outomatiese ratkas, en 2.0 Turbodiesel enjin verkoop as elk van die ander vier Tucson modelle. Hierdie enjin verskaf dus 137kW en 416Nm.

Terwyl die 4-silinder dus van 0-100km/h in 9-sekondes kruip, is dit die 4-silinder diesel se wringkrag, wat uitstaan. Met drie insittendes, en bitter swaar bagasie, het die N-Line gemaklik die stadiger verkeer verby geneem (in die Sport funksie). Teen 120km/h en in “Comfort” of selfs “eco” was die enjin noot en wind / padgeraas ook minimaal.

Nog ’n voordeel van hierdie diesel, was dat die N-Line net een keer ’n besoek aan die dieselpomp gemaak het. Terwyl die brandstof verbruik naby aan 8.7 liter per 100km was in die dorp, het die oop pad ons toegelaat om dit af te bring na 7.5 liter /100km. Dus, met ‘n 54 liter tenk, kan die N-Line maklik ’n afstand van 740km (plus) behaal.

Gevolgtrekking

Die N-Line was uiters prakties. Die 539 liter bagasie volume (1 860 liter met die tweede ry afgeslaan) was geen kompetisie vir die drie insittendes (vier op ’n stadium) se bagasie nie. Veral inaggenome dat ons nie lig gepak het nie.

Die agterste insittendes kon gemaklik hul bene uitstrek met van die beste beenspasie in die SUV segment, terwyl die USB en 12V punte in beide rye gehelp het om alle elektroniese toerusting gelaai te hou.

Met seer spiere na ’n half marathon, het die voorste verhitte / verkoelde sitplekke, sowel as die verhiite stuurwiel gehelp om enige krampe te weerhou.

Die Kaapse winter was in volle mag tydens ons rit terug, maar gelukkig het die outomatiese reën ruitveërs, en outomaties hoofligte gehelp om die pad skoon te hou.

Met 4-wiel trek, en ‘n 181mm ryvlak hoogte was dit ook geensins moeilik om die voertuig op die nat paaie te hou nie.

Teen net R50 000 duurder as die Tucson Elite, is die Tucson N-line die model om voor te gaan. Vergelyk dit met die kompetisie, en die R799 900 prys (met ‘n 7-jaar / 200 000km waarborg, en 7-jaar / 150 000km pad bystand) is geensins sleg nie.

Na ons mening moet ‘n “line” SUV nie uitspattig lyk, of selfs kyk hoe vinnig dit kan versnel nie. Die Hyundai Tucson N-line is dus die perfekte kombinasie van twee wêrelde.

Nie net lyk dit sporttief, dog gesofistikeerd nie, maar kan dit gemaklik enige verkeer verbysteek, maar ook gemaklik en stil (in “comfort”, of “eco”) teen 120km/h ry.

Hyundai het weereens die spyker op die kop getref. 

Leave a Comment