Padtoets: 2023 Suzuki S-Presso

Suzuki se nuwe S-Presso hier om die bose petrolpomp terug te hou

Met alles wat in 2020 gebeur het, is die Suzuki S-Presso stilweg in Suider-Afrika ingebring. ’n Virtuele bekenstelling en beperkings rondom toelaatbare reisafstande en aktiwiteite het ons forseer om iets nuuts met die onbekende S-Presso te laat doen. Ons het bloot net met die ongewone naam saam gespeel en probeer om koffie te maak met die voertuig. Tot vandag toe is hierdie YouTube video op ons kanaal een van dié wat die mees diverse kommentaar ontvang het.

Óf dit nou gesien word as die goedkoopste voertuig op die mark, óf die duurste koffie masjien, niemand kan ontken dat die Suzuki S-Presso ’n onmiddelike suksesverhaal geword het nie. Dit is ook tydens die afgelope twee jaar, waar Suzuki stelselmatig die rangleer geklim het en nou as die derde beste vervaardiger in Suid-Afrika staan. Terwyl hierdie te danke is aan die Swift, Jimny en Baleno, het die S-Presso binne twee jaar ’n merkwaardige verkoopsrekord opgebou.

Deel van Suzuki se sukses is die filosofie om betroubare, dog unieke voertuie aan die mark te bied. Kyk maar net na die Swift, Jimny, die Ignis, en selfs die Baleno. Volgens ons is die S-Presso die bobaas van uniekheid, dog ook betroubaar.

Van meer belang, is die feit dat die S-Presso nie net die goedkoopste voertuig op die mark is nie, maar ook uiters sakpas om te onderhou. Met geen turbo, en ’n branstof verbruik onder die 4.5 liter / 100km merk, is die S-Presso as te ware ’n ekonomiese voertuig.

Vele vervaardigers stel gewoontlik ’n voertuig bekend met ’n lae brandstof verbruik, wat gewoontlik in ’n fabriek, sonder enige natuurlike faktore, behaal word. Die uitende is dat die werklike syfer dus veel erger is in die realiteit. Met die S-Presso, het ons dit egter reg gekry om so naby as 0.1 liter /100km aan die fabrieks syfer te kom. Dit is ook nie asof ons probeer het om hierdie syfer te behaal nie, inteendeel.

Met ’n drie silinder, 1.0 liter enjin, wou ons kyk hoe prakties die voertuig is in realiteit en of dit genoeg krag het om op die snelweg, in die regterbaan te bly. Ons is nie heeltemal seker hoe Suzuki (oftewel Maruti) dit reggekry het nie, maar hierdie 49kW (teen 5500 opm) en 89 Nm (teen 3500 opm)  verbasend rats en sal ’n paar ander intree vlak modelle goed laat les opsê.

Hierdie is dalk grotendeels te danke aan die 800kg totale gewig van die voertuig. Suzuki’s is nou wel voertuie wat floreer onder höe revolusies, maar snaaks genoeg is die binne kajuit van die S-Presso sag, terwyl min windgeraas ook deurkom. Teen steil bulte op, is die S-Presso, met die 5-spoed handrat veel ratser as my eie 1.5 liter Jimny.

Die enigste nadeel is nou wel die kombinasie van die gewig, met die 181mm ryvlak hoogte. Op ’n grondpad verskaf hierdie oneindige pret, bloot omdat die S-Presso se gewig dit so maklik maak om te hanteer. Op die oop pad teen snelweg spoed, kan die kombinasie egter ongerieflik wees as die Kaapse Suidooster begin waai. Tog is daar baie, duurder voertuie, wat baie moeiliker beheerbaar is onder dieselfde omstandighede.

Terwyl die nuwe S-Presso baie eenders aan die 2020 weergawe mag lyk, het die nuwe model egter ’n paar botox inspuitings aan die buitekant gehad. Die 14-duim allooi wiele op die GL+ en S-Edition is die grootste hiervan.

Dit is egter die nie visuele aspekte, wat die nuweling laat uitstaan. Elk van die nuwe S-Presso modelle kom nou met elektroniese stabiliteits beheer (ESP), terwyl twee voorste lugsakke steeds gebied word.

Binne word die nuwe S-Presso (GL+ en S-Edition modelle) ook nou toegerus met ‘n 9-duim informasie skerm (met Apple CarPlay en Android Auto).

Algeheel het die S-Presso natuurlik baie kopruimte vir insittendes, terwyl beenspasie in die tweede ry ietwat beperk is. Tog is die S-Presso gebou vir stedelike ritte en nie noodwendig om ‘n 6000km roete aan te pak nie. Soortgelyk spog vele kompiteerders in die segment met reuse kattebak spasie. Tog sien ons veiligheid as veel belangriker. Dus, hoewel die S-Presso 40 liter minder kattebak spasie bied (239 liter in totaal), wen die voertuig as dit by ESP en lugsakke kom.

Die S-Presso is uiteindelik ’n praktiese en gemaklike voertuig vir stedelike en kort-afstands gebruik. Met opgeknapte veiligheid, ’n uitmuntende brandstof verbruik, en goeie kraglewering, mag die nuwe S-Presso dalk net vinnig een van Suzuki se beste verkopers word.

Elk van die S-Presso modelle word met ‘n 2-jaar / 30 000km diensplan en ‘n 5-jaar / 200 000km meganiese waarborg verkoop.

Pryslys:

  • S-Presso 1.0 GL Handrat : R162 900
  • S-Presso 1.0 GL AMT        : R176 900
  • S-Presso 1.0 GL+ Handrat : R169 900
  • S-Presson 1.0 GL+ AMT: R183 900
  • S-Presso 1.0 S-Edition Handrat : R185 900
  • S-Presso 1.0 S-Edition AMT : R199 900

Leave a Comment