Padtoets: 2023 Volvo C40 Recharge

Volvo is die baanbrekers met EV’s in Suider-Afrika

Volvo is een van die vervaardigers wat beoog om binnekort heeltemal oor te skuif na elektriese voertuie, en aan die begin van die jaar het die Sweedse vervaardiger die motor-wêreld verstom met die bekendstelling van hul nuwe kompakte SUV, die EX30. Hierdie voertuig is revolusionêr, siende dat dit die eerste elektriese voertuig (EV) SUV sal wees wat teen minder as R1 miljoen verkoop sal word.

*Hoewel R1 miljoen na baie klink, is Volvo deesdae een van die vervaardigers wat die beste EV pakette teen die beste pryse verkoop. Gaan vergelyk gerus die pryse van ander EVs teen diè van Volvo se EV reeks.

Hoewel ons met groot afwagting wag om hierdie te toets, het Volvo solank vir ons die C40 Recharge gestuur; ’n grootter EV SUV as die EX30, met ’n prys net noord van die R1 miljoen merk.

Die C40 Recharge (T8) is die enigste variant in Suider Afrika en word dus net as ’n EV verkoop. Hierdie is wel nie ’n slegte ding nie, siende dat die C40 ’n merkwaardige 300kW en 660Nm uitskop, te danke aan die 78kW Lithium battery. Gedryf deur permanente 4-wiel trek, is hierdie voertuig redelik blitsig.

0-100km/h word afgehandel in net 4.7 sekondes.

Hoewel hierdie ’n prettige ervaring is, kan dit lei tot redelike kopsere (indien dit te veel gedoen word), of dat die 360-400km rykafstand redelik verminder word.

Dit bly egter genotvol om raserige petrol modelle by die robotte te laat les opsê.

Volvo se ontwerp stylering bly een van die mees modern, dog simplisties. Dit is geensins anders met die C40 nie, met skerp lyne reg rondom die bakwerk, gemeng met LED voor- en agterligte. Hoewel ons oor die algemeen ook teen die idee van groot, lae profiel bande is, het ons geen probleem met die C40 se 20-duim wiele gevind nie.

Daar is bykans geen wind of padgeraas, wat die kajuit binnedring nie, met die die vering wat natuurlik bydra tot die algehele gemak.

Dit is binne waar die C40 egter van vele ander Volvos verskil. Geen leer bekleedsel word binne die kajuit gevind nie. Pleks daarvan is daar ’n herwinbare mat afwerking, sowel as materiaal wat lyk soos leer.

Oor die algemeen is dit moeilik om “mat” en “modern” in dieselfde sin te plaas, maar vir een of ander rede het die Swede dit laat werk.

Dit voel kompleet of elke vervaardiger deesdae hul raakskerms verander na ’n portret oriëntasie, maar dit was egter Volvo wat eerste met hierdie benadering begin het. Soortgelyk is daar ook net een knop om van skerms te verander. Hierdie sisteem mag dalk vir vele ’n aanpassing wees om aan gewoond te raak.

Soortgelyk het die voertuig ook ’n nuwe “Hey Google” funksie, wat baie akkuraat is. Die stelsel kan kompleet met stem genavigeer word, nes soortgelyke stelsels, soos byvoorbeeld die “Hey Mercedes” funksie in, wel, ‘n Mercedes.

Verder kom die C40 standaard met ’n panoramiese sondak, wat geweldig help om die binneruim ligter te maak. Gepaard met die sentrale raakskerm, is daar ook ’n wye digitale skerm agter die stuur, wat natuurlik spoed en navigasie aandui.

‘n 12V, sowel as twee USB type-C punte, met ’n draadlose laai paneel, help ook om enige selfone vol energie te hou.

Die sitplekke is uiters gemaklik, met die stuurwiel wat ook met die hand verleng of verhoog kan word. Die bestuurder se sitplek kan elektronies verstel word.

Agter is daar genoeg been- en kop ruimte vir volwasse mense.

Ons enigste opmerking is dat die agterste ry nie noodwendig breed genoeg is om drie volwassenes te huisves vir langer ritte nie. Die rede hiervoor is omdat die middelste sitplek nie noodwendig genoeg beenruimte het nie om plek te maak vir die dryfas.

Hierdie ontwerp is gebasseerd op die XC40, terwyl dit geensins nodig is in die C40 nie. Dit voel ’n bietjie soos twee kinders wat by mekaar afskryf, maar twee verskillende somme het om uit te werk.

Daar is wel ISOFIX punte op beide agter sitplekke, sowel as die voorste passasier sitplek (10/10 vir Volvo hier).  

Daar is ook baie pakplek in die bagasie ruimte, met 413L se pakplek. Die agterste sitplekke slaan ook volledig plat in ‘n 40:60 verhouding, wat toelaat vir fiets om daarbinne te lê.

Volvo is een van die voorlopers wanneer dit by minimalisme kom. Hoewel dit meestal voordelig is, is dit ook nadelig met die C40.

In werklikheid is die C40 eintlik maar net ’n minimalistiese XC40, met ’n elektriese komponent.

Meestal werk hierdie “spoeg-en-plak” filosofie nie wanneer dit by elektriese en ICE (binnebrandenjins) kom nie.

Nes Tesla modelle, het die C40 ook geen start/stop knoppe nie. Dit neem nogals tyd om gewoond te raak aan die feit dat die voertuig nie aan of af geskakel hoef te word nie.  

Hoewel die C40 uiters minimalisties is, wanneer dit gereken word as ’n luukse en moderne EV, is ons oor die algemeen redelik ingenome met die voertuig.

Die rit gehalte is uiters sag, met amper geen wieg aksies (soos met baie ander SUVs) nie.

Vir R 1295 000 (net een model), is dit nie ’n slegte prys vir ’n elektriese voertuig nie. Ons dink egter dat die nuwe EX30 veel beter sal verkoop. Hierdie is inaggenome daarvan dat die volle elektriese EX30 reeks tussen R935 000 en R995 000 verkoop sal word.

Hoewel beraam word om kleiner as die C40 te wees, sal dit van 0-100km/h versnel in net 3.6 sekondes (315kW), terwyl die rykafstand nader aan 500km beraam word. 

2 thoughts on “Padtoets: 2023 Volvo C40 Recharge”

Leave a Comment