Padtoets: 2024 Citroën C3 Aircross

Is Citroen terug?

Kom ons wees eerlik. Die Franse vervaardigers het oor die afgelope tyd redelik gesukkel in Suid Afrika. Franse voertuie is bekend vir hul voorkoms, sowel as hul bekostigbaarheid. Die Sjinese het nou ongelukkig hierdie plek ingeneem en die Franse ietwat onder die mat ingedruk. Oor die afgelope paar jare was Citroen relatief stil, tot nou.

Die nuwe C3 Aircross is nie net veel grootter as die uittredende model (sowel as ander klein SUVs in die mark) nie, maar ook beter geprys. Die feit dat die C3 Aircross genoeg ruimte het om 7 sitplekke  / of twee bergfietse (met bagasie) in te laat, teen die bekostigbare prys van ’n ekwivalente Sjinese 5-sitplek SUV, sal beslis koppe laat draai.

Ons toetsmodel was die 1.2T Max met 5 sitplekke, inplaas van die opsionele 7-sitplekke. Die 5-sitplek Max is ook R10 000 goedkoper as die 7-sitplek variant, wat R354 900 kos. Die goeie nuus is dat nog ’n goedkoper opsie teen die einde van hierdie jaar (2024) saal aanland. Bekend as die “Plus” model sal dit net 61kW en 108Nm verrig, met geen turbo.

Ons toetsmodel (die Max) staan bekend as die 1.2T en het dus natuurlik ’n turbo; en hoewel dit net ‘n 3-silinder is, verrig dit 81kW en 205Nm. Hierdie enjin is verassend rats en wakker, gepaard met die 6-spoed ratkas, wat vlugtig deur die ratte wissel en dit maklik maak om enige verkeer verby te neem.

Boonop verrig die enjin ’n algehele brandstof verbruik van 7.5L/100km.

Die toetsroete

As deel van die C3 Aircross se toets,  het ons die 650km van Somerset Wes na die Oasis kampterein in die Sederberge aangedurf, kompleet met twee bergfietse, bagasie en ongeveer 100km se vloed beskadigde grondpaaie.

Elk van hierdie uitdagings is met gemak kaf gedraf, met die C3 Aircross, wat gemaklik twee fietse kon regop stoor (die tweede ry se rugleuning kan maklik uitgehaal word), terwyl die naweek bagasie maklik tussen die twee gepak kon word.

Ons ry gereeld die Sederberge met ons eie voertuie, of met toetsvoertuie en die sinkplaatpaaie kan maklik ’n voertuig laat rondskut of “los” laat voel. Hierdie was egter geen probleem met die C3 Aircross nie, wat gemakliker die pad aangedurf het as vele ander 4×4’s wat ons onlangs getoets het (te danke aan die C3 Aircross Max se 200mm ryvlak hoogte).

Maar wat van die prys?

’n Europese voertuig onder die R350 000 merk kan maklik “goedkoop” voel of tekortkom aan veiligheids- en tegnologiese standaarde. Hierdie is nie die geval met die C3 Aircross Max nie.

’n Draadlose 10-duim informasie raakskerm, kompleet met ’n addisionele 7-duim instrument kluster, trurat kamera, parkering sensors, lugversorging, multi-funksionele stuurwiel, en drie usb punte (een voor en twee agter) kan verwag word. Die 7-sitplek Max model kry 5 USB punte by.

In terme van veiligheid kry die C3 Aircross Max ook elektroniese stabiliteits beheer, ABS remme, elektroniese bult bystand, banddruk sensors, en twee lugsakke.

Nie net was die C3 Aircross Max gemaklik, prakties en lig op brandstof nie, maar het dit ook maklik deur die langpad Sondag verkeer gerits oppad huis toe. Met baie ander 3-silinder ekwivalente modelle in hierdie prysklas (veral 1-liter turbo-aangedrewe enjins), is dit soms te veel gevra om by die nasionale spoedgrens te hou, of om verkeer vinnig verby te steek.

Die 1.2T handhaaf egter ‘n stil en rustige 2 500 opm teen 120km/h, wat natuurlik die lae brandstofverbruik verduidelik.

Ons is uit die veld geslaan met hierdie Citroen model. Dit bied uitstekende waarde vir geld en sal sekerlik die Stellantis Groep ’n sterker voet in die deur gee teen die Sjinese. Boonop kom die voertuig ook nog met ‘n 5-jaar / 100 000km waarborg en ‘n 4-jaar/60 000km diensplan.

Leave a Comment