Padtoets: 2024 JAC T9 SuperLux Outomaties

JAC se T9, strategies geprys in ’n mededingende mark

Teen die tyd weet bykans meeste Suid-Afrikaners dat die Sjinese hier is om die voertuig mark oor te neem. Dit word tans voorspel dat teen 2027, bykans 40% van alle plaaslike voertuig aankope, aan Sjina sal behoort. ’n Sentiment, wat onlangs versterk is deur TSAM president, Andrew Kirby, wat genoem het dat Indiese en Sjinese vervaardigers reeds 32% van die mark besit.

Hierdie stelling maak sin, veral vir ’n land, waar die groeiende middelklas nie noodwendig die duurder alternatiewe kan handhaaf nie. Dus maak bekostigbare, dog veilige en luukse opsies uit Indië en Sjina net soveel meer sin.

Die Sjinese het nou al selfs die hoogs-mededingende ‘bakkie’ segment aangedurf, waarvan die nuwe JAC T9 een van die nuutste luukse bakkies op die mark is. Die vraag is egter of dit sterk kan staan teen die reeds gevestigde en betroubare mededingers in die mark?

Vir vele mag die naam, JAC, dalk onbekend wees. Net nog een van die Sjinese inkommers. Dog bestaan die vervaardiger al sedert 1964, met Volkswagen, wat nou ‘n 50% aandeel in die maatskappy besit.

Wat presies is die JAC T9?

Die T9 word gesien as JAC se duurste en luukse bakkie in die mark. Sjinese voertuie word gewoontlik as relatief bekostigbaar gesien, dog begin pryse vir die 4×2 model teen R549 900, met die Super Lux 4×4 model (ons toetsmodel), wat verkoop word teen R659 900. Meer hieroor later.

Die T9 neem oor by die T8 (Pryse tussen R399 900 en R514 900), as die vlagskip bakkie, met ’n meer sportiewe ideologie. Dus lyk die T9 nie net meer aggresief nie, maar word dit ook binne bekroon met sportiewe sitplekke, ’n reusagtige 10.4 duim (portret) raakskerm, en selfs ’n sondak.

Terwyl die T9, nes die T8, ook aangejaag word deur ‘n 2.0L turbo diesel, verrig die T9 wel baie meer krag. Die volgende tabel sal help om hierdie in perspektief te bring:

 KragRatkas
T8104kW en 320Nm6-spoed handrat
T9125kW en 410Nm8-spoed ZF outomaties

Met meer krag, is die T9 beslis op-en-wakker, met die ZF ratkas, wat heel gepas is op die oop pad. In die dorp is dit egter ’n ander saak, met die ratkas, wat meestal ‘te’ haastig is of besluitloos kan wees teen steil bulte.

Dog laat dit die T9 met ’n algehele brandstof verbruik van 8.8L/100km, wat nie te sleg is nie.

Soortgelyk word dit ook berrig dat die T9 ’n gewig van 3.5 ton sal kan sleep (standaard), sowel as meeste 4×4 roetes sal kan aandurf, te danke aan ’n (outomatiese) meganiese ewenaar met beperkte gly. Die T9 het ook ’n aanloop- en uitgangs hoek van 23- en 27 grade.

Hoe vergelyk dit met soortgelyke bakkies in die mark?

R659 900 mag dalk na baie klink vir ‘n “luukse” bakkie, dog is dit veel goedkoper as die gevestigde Toyota en Ford alternatiewe; veral met ’n goeie 5-jaar / 100 000km diensplan en waarborg ingesluit.

JAC mag dalk egter sukkel, wanneer dit by die GWM P-reeks, LDV T60 en selfs die Mahindra Pik Up kom.

Mahindra is al vir ’n tyd lank in die land, met hul Pik Up 2.2 CRDe dubbelkajuit 4×4 S11 Karoo (R642 999), wat uitstekend goed verkoop. Tog bied die JAC T9 meer krag (125kW en 410Nm) en ratte (8-spoed), terwyl die Mahindra net 103kW / 320Nm en 6-ratte bied.

Die GWM P-reeks bied egter dieselfde 8-spoed ZF ratkas as dié van die JAC T9, met ’n bykans soortgelyke 120kW en 400Nm. Die GWM voel ook veel stewiger, veiliger (tot en met 7 lugsakke), en luukser as die T9. Die GWM is wel R34 000 duurder.

Die LDV T60 (Max Luxe model) is heel moontlik die sterkste mededinger vir die JAC T9. Met dieselfde 8-spoed outomatiese ZF ratkas, verrig die LDV sowat 160kW en 500Nm, gepaard met uitstekende veiligheid en luukshede. Tog is die LDV T60 Max Luxe geprys teen R750 000, waarna die Toyota’s en Ford’s na die volgende stap begin lyk.

Terwyl die JAC T9 nie gekroon kan word as die goedkoopste luukse bakkie op die mark nie (hierdie word gehou deur Mahindra), behou die T9 wel die kroon, wanneer die balans tussen luuksheid, algehele krag, ‘n 8-spoed outomatiese ratkas, en algehele prys oorweeg word.

Vir geskokte kopers (met huidige stygende pryse), maak die JAC T9 die meeste sin.

Leave a Comment