Padtoets: 2024 Kia Picanto LX

Nes die bakkie en SUV segmente, is die klein luikrug segment bitter mededingend in Suid Afrika; en met goeie rede…

Met meer verstedeliking in die land, soek oud en jonk na klein en bekostigbare voertuie (siende dat brandstof ook nie noodwendig goedkoper word nie). Hierdie mededingende mark begin by die R200 000 merk en eindig so hoog soos R360 000.

Kia se nuwe Picanto reeks val dus perfek in hierdie mark met die volgende pryse:

  • Kia Picanto 1.0 LX handrat – R260 995
  • Kia Picanto 1.0 LX outomaties – R278 995
  • Kia Picanto 1.2 EX Handrat – R284 995
  • Kia Picanto 1.2 EX outomaties – R 302 995
  • Kia Picanto 1.2 EX Plus Handrat – R 307 995
  • Kia Picanto 1.2 EX Plus Outomaties – R325 995

Gewoonlik kry ons die duurste model om te toets, maar hierdie keer het Kia vir ons die intreevlak 1.0 LX handrat gestuur; presies waarna ons gesoek het. Maar met ’n R135 000 verskil tussen die intree- en duurste model, is LX die moeite werd om na te kyk?

’n Groot verskil in prys, maar puik gehalte

Die LX (en veral die handrat) mag dalk geweldig goedkoper wees as die EX Plus modelle, maar in terme van kwaliteit is daar geen tekortkominge nie.

Kia se LX modelle bied goeie waarde vir geld, met selfs elektriese-verstelbare en verhitte kant spieëltjies, wat ingesluit word. Hoewel die LX modelle ook nou wel nie ’n start/stop knop het nie, kan dit ook elektronies oop- en toe-gesluit word.

Verder kom die voertuig ook met beide USB-A en USB-C punte, elektriese vensters, ’n leer-bekleedte stuurwiel (wat in lengte en hoogte verstel kan word), sowel as ‘n 8-duim raakskerm met Bluetooth en toepassings-konneksie, ’n digitale instrument-paneel agter die stuurwiel, en ’n trurat-kamera.

Die afwerking binne is deeglik en voel duursaam, met die materiaal sitplekke wat ook baie gemakliker voel as dié van vele nuwe kompakte SUVs op die mark.

Persoonlik sal ek veel eerder hierdie Picanto op die lang pad neem. Dit bring my na my volgende punt…

Die perfekte stedelike voertuig

Hoewel die 1.0L enjin in die LX modelle dalk na min mag klink (veral omdat dit net 49kW en 95Nm uitskop), is die petrol enjin tog rats. Hier en daar mag die 5-spoed handrat (4-spoed in die outomatiese weergawes) dalk vereis om ratte af te wissel teen langer bulte, maar vir dorps-gebruik is hierdie krag- en ratkas-kombinasie voldoende.

Hierdie is veral voordelig wanneer daar na brandstof verbruik gekyk word, omdat die LX handrat model ’n verbruik van slegs 6.0L in die stad / dorp wys. Met ‘n 35-liter tenk kan daar dus ’n totaal van 580km gery word.

Die stuur is ook lig en die ratkas wissel seepglad ratte. Dus vloei die Picanto om knap draaie in die dorp.

Hoewel die kattebak wel klein is met net 255L se pakplek, kan beide agter sitplekke individueel afgeslaan word, terwyl ’n volledige (pleks van ’n papier-dun) spaarwiel ook in die kattebak gehuisves word.

Veiligheid

Selfs die intreevlak LX modelle kom uit met ABS (en EBD), sowel as twee voorste lugsakke, en Isofix punte vir kinder sitplekke.

Wat van die EX en EX Plus?

Sou kopers egter meer uit hul Picanto wou hê, sal die EX- en EX Plus modelle perfek gepas wees met ‘n 4-silinder 1.2L enjin, wat 62kW en 122Nm uitskop.

Die EX modelle word ook verkoop met 14-duim allooi wiele (pleks van die LX se staal wiele), ’n kompartement tussen die voorste sitplekke, ’n verbeterde 4.2-duim instrument-paneel agter die stuurwiel, ’n waarskuwing vir agterste insittendes, outomatiese lig-beheer, elektroniese stabiliteits-beheer (ESC),en elektroniese bult-bystand.

Die vlagskip EX Plus modelle kry ’n sleutellose start/stop knop, klimaat-beheer, trurat waarskuwings-sensors, leer bekleedsel, LED agterligte, 15-duim allooi wiele, en mis ligte.

Ons mening

Natuurlik is duurder meestal beter, maar in hierdie geval bied Kia se Picanto uitstekende waarde vir geld, reg vannaf die wegspring merk. Die 1.0L se krag mag dalk na minder klink as die vroeë 2000’s se Citi Golfs, maar bied dit inteendeel verbasend baie krag.

As ’n stedelike voertuig is die 1.0L Picanto perfek gepas. ’n Ligte stuur, gepaard met ’n klein draai radius, sowel as ligte brandstof verbruik, maak hierdie die perfekte voertuig vir korter ritte.

Die Picanto is nou al vir meer as 20 jaar in die land en duidelik is dit met goeie rede.

Leave a Comment