Padtoets: 2024 Omoda C9

Omoda tree nou die super luukse mark in

2024 was beslis die jaar vir Sjinese voertuie. Kyk maar net na enige motorjoernalis of motor-beïnvloeder se profiele en Sjinese voertuie is die orde van die dag. Sedert die aanbreek van die nuwe dekade, het Sjinese voertuie die mark ge-bombardeer.

Aanvanklik het dit begin met die kompakte en bekostigbare SUVs, waarna Elektroniese Voertuie die fokus geword het. Nou is dit die beurt van die luukse SUVs, waarvan die Omoda C9 die nuwe versteurder is. Dit is hier om die luukse Duitsers te laat les opsê.

Met ’n matte grys afwerking en ’n eksklusiewe voorkoms trek die C9 vinnig aandag. Omoda noem self dat die C9 se voorkoms baie eenders is as die Land Rover Velar. Die C9 het selfs deurhandvatsels, wat terugtrek in die deur. Verder is die C9 gekleë met langwerpige LED agterligte, sowel as treffende LED hoofligte, wat afwaarts oor die kar strek.

Daar is ook nie geskroom met die binneruim nie, met die C9, wat uiters gemaklik binne voel. Dit is immers Omoda se vlagskip model.  Die kajuit is oortrek met leer, terwyl die voorste sitplekke selfs verhit- en verkoelbaar is (die tweede ry kan net verhit word). Verder word ’n uitstekende 9-luidspreke Sony klanksisteem ook as standaard bygevoeg.

Tegnologiese vordering is natuurlik die norm met enige nuwe Sjinese voertuig, met hierdie C9, wat ‘, twee enorme 12.3 duim skerms het. Een is ’n instrument paneel, terwyl die ander ’n raakskerm is met draadlose funksionaliteit. Aan die voorpunt van hierdie tegnologie is ’n enorme sondak as standaard, sowel as ‘n 540-grade kamera sisteem.

Met al die C9 se luukshede, is daar tog ’n paar hinderinge. Die stop / start funksie is die eerste hiervan met die sisteem wat traag is om weer wakker te spring.

Ons weet ook reeds dat Sjinese voertuie mal is daaroor om deuntjies en waarskuwings aan die bestuurder deur te gee, maar met die C9 voel hierdie eksponentieël meer. Die deuntjies is als behalwe subtiel, met waarskuwings en deunties, wat vir elke denkbare ding verskyn. Vannaf die enjin, wat tot die optimale temperatuur verhit het, tot en met die bestuurder se hand, wat die “oog” sensor blok. Kyk vir ’n paar sekondes na die sentrale paneel en ’n waarskuwing sal afgaan dat jy (die bestuurder) nie oplet op die pad nie.

Hierdie is egter die enigste negatiewe punte, wat ons kon vind met die C9. Die 2.0L turbopetrol enjin (dieselfde as die een in die Chery Tiggo 8 Pro Max) skop ’n goeie 192kW en 400Nm uit. Terwyl die 8-spoed outomatiese ratkas steeds “springerig” teen lae spoed is, is dit reeds ’n groot verbetering as vele ander (en ouer) Chery produkte. Op die hoofweg is die ratkas seepglad.

Soortgelyk kan beide van die twee C9 variante (die voorwiel- en vierwiel aangedrewe modelle) tussen drie funksies verstel, naamlik die “ekonomiese” verstelling, sowel as “normaal” en “sport”.

Soos nou al die norm is, slaan die C9 (soos enige ander Sjinese produk) die kompetisie plat as dit by prys kom. Vir so ’n luukse voertuig is dit verstommend dat die voorwielaangedrewe “Inspire” model teen slegs R785 900 verkoop word, terwyl die vierwieltrek “Explore” vir ’n fraksie meer verkoop word teen R885 900. Bykomend is daar ‘n 7-jaar / 100 000km diensplan, sowel as ‘n 7-jaar / 200 000km waarborg en ‘n 10-jaar / 1 000 000km enjin waarborg (ongelukkig net vir die eerste eienaar).

Met hierdie diensplan en waarborg is dit duidelik dat Omoda geloof in hul eie produkte het. Teen minder as ’n R1 miljoen is die C9 beslis ’n goeie aanbod.

Leave a Comment