Padtoets: 2024 Toyota Land Cruiser 76 2.8 Outomaties

Miljoene kilometers, maar teen ’n prêmie

Toyota se Land Cruiser en Hilux reekse het oor die dekades ’n geweldige positiewe reputasie opgebou. Hierdie twee embleme is sinoniem met betroubaarheid en maklike onderhoud;  perfek vir die paaie op van Kaap tot Kaïro, of die afgeleê plase in die binneland van Suider Afrika, en om miljoene kilometers af te lê. Nou het Toyota egter ’n prys hieraan geheg.

Toyota het onlangs vir ons hul nuwe Land Cruiser 76 2.8 (outomatiese model) gestuur en soos altyd het Toyota met hul wenresep gebly. Die enigste verskille met hierdie nuwe LC76 model is natuurlik die Hilux se reeds bekroonde, 2.8L diesel enjin, sowel as twee USB-C punte (want normale USB punte is nou al oudtyds).

In terme van die res is die Land Cruiser 76 voel dit eintlik maar soos ’n kopie uit die tagtigs.

Die goeie

Die nuwe 2.8L enjin is beslis nie lui nie. Gepaard met die 6-spoed outomatiese ratkas, lewer hierdie enjin 150kW (tussen 3000 en 4000 opm) sowel as 500Nm (tussen 1600 en 2800 opm). Hierdie is 1kW en 70Nm meer as die enigste V8 oor in die Land Cruiser stal (in ‘n 5-spoed handrat variant). Soortgelyk is die brandstof verbruik ook wel laer (alhoewel die tekort aan ’n digitale brandstof verbruiker dit moeilik gemaak het), met ons berekeninge, wat uitgekom het op 10L / 100km. Toyota self noem dat die labratorium syfer vir die V8 naby aan 11.9L / 100km is.

Verder is die 2.8L ook bewys om nes die V8, ook 3.5ton te kan sleep, terwyl al die ander dimensies identies is. Soos ook reeds genoem, kom die twee 2.8L variate net met ‘n 6-spoed outomatiese ratkas, terwyl die V8 nog met die 5-spoed handrat kom. Hierdie is deels ook die rede vir die 2.8L se lae brandstof verbruik, siende dat dit ’n kalm 2000opm handhaaf teen 120km/h.

Die slegte

Ons sal nie hierdie artikel gebruik om uiters negatief op te tree teennoor die 76 nie. Die 76 het ’n teenoorgestelde doel as dié van ’n Prado of selfs ’n Fortuner. Uiteraard is dit nie bedoel vir die stad nie. Soortgelyk is dit ook ’n meer bekostigbare alternatief tot die nuwe luukse Prado, maar kos dit ongeveer dieselfde as Toyota se vlagskip Fortuner.

Bygesê het die prys van hierdie intreevlak Land Cruiser 76 (R999 900) ons wel laat kop krap.

Natuurlik dra die LC76 die “kannie-dood” embleem saam met dit; ’n voertuig, wat miljoene kilometers kan aflê, of self in die middel van nêrens reggemaak word. Bygesê verloor die LC76 reeks amper geensins sy waarde nie, wat dit dus ’n belegging maak.

Die LC76 kan egter vergelyk word met ’n hedendaagse “boomer” (ouer persoon), wat probeer om die nuutste tiener taal te gebruik. Vir ’n voertuig, slegs R100 weg van die R1 miljoen merk af, was binneruimse tegnologie soos twee USB-C punte en ’n klein raakskerm beslis ’n nagedagte (met geen trurat kamera). Hoewel Bluetooth ook ingesluit word, is die luidsprekers binne die voertuig power en kan selfoonoproepe skaars gehoor word.

Vir ’n veeldoelige voertuig soos hierdie is dit ook kommerwekkend dat daar geen 12V punt in die kattebak is nie, maar egter net in die voorste ruimte.

Hoewel “retro” terug in die mode is, het Toyota dit egter te ver gevat met die nuwe LC76. Die materiaal sitplekke het geen lumbale ondersteuning, terwyl die spoedmeter en lugverkoeling nog analoog en uiters simplisties is.

Gevolgtrekkinge

Hoewel ons voel dat die LC76 reeks se pryse ietwat oogwaterend is, is als darem nie sleg nie. Die LC reeks is beslis die voorstaander as dit by betroubaarheid kom. Estetiese afwerking en tegnologiese vordering is dalk net nie aan die voorpunt van Toyota se fokus met die LC reeks nie.

Die LC76 kom wel standaard met anti-sluit remme, elektroniese rem bystand (EBD), heuwel bystand, traksie beheer, stabiliteits beheer, spoed beheer, ’n trekstang, en afdraend bystand.

Terwyl die Prado nog altyd meer gefokus was op estetiese voorskoms, is die Land Cruiser 70 reeks duidelik gefokus op die geen-nonsens en praktiese aspek.

Toyota sal egter noukerig die balans tussen die R1 miljoen prys, en die waarde aanbod moet oorweeg. 

Leave a Comment