Die R-Line geveg: Volkswagen se Taigo en T-Cross modelle bring ‘n kopkrapper.
Die Tiguan en Toureg was Volkswagen se eerste sportsnuts voertuie (SUVs) in die land. Beide was ’n gunsteling onder kopers. Met die druk om meer kompakte SUVs te bied, het die Duitse vervaardiger die T-Cross in 2020 uitgebring, kort gevolg deur die T-Roc, met die Taigo wat laaste ingeskuif het tussen die kleinste T-Cross en die T-Roc.

Bekend as ’n kompakte SUV luikrug, bied die Taigo ietwat van ’n meer stylvolle ontwerp as die T-Cross, terwyl dit ook meer spasie het. Gaan egter na Volkswagen se webtuiste en ’n skrale R500 is die verskil tussen die T-Cross R-Line (R553,400.00) en die Taigo R-Line (R553,900.00).

Waar die Taigo egter ‘n 1.0L TSI enjin (85kW/200Nm) met ‘n 7-spoed DSG ratkas kry, kry die T-Cross R-Line ‘n 1.5L enjin (110kW/250Nm) ook met ‘n 7-spoed DSG ratkas. Die laasgenoemde kry ook 18-duim allooi wiele, terwyl die Taigo moet voeldoen met 1-duim kleiner. Hierdie maak egter die ritgehalte in die Taigo sagter, veral in die stad, siende dat dit dukker 205/55 bande het as dié van die T-Cross.

Die Taigo en T-Cross verskil wle nog op vele ander maniere en lesers kan gerus die twee gaan vergelyk op Volkswagen se eie webtuiste. Ons stel egter meer belang in die algehele pakket, wat in beide gebied word, veral siende dat daar net ’n R500 verskil tussen die twee is.

Die eerste hiervan is die Matrix ligte wat net in die Taigo gevind word. Hierdie is uitstekende hoofligte, wat outomaties verstel om oorgenoeg lig in swak beligte areas te gee, sonder om die aankomende verkeer te verblind. Verder kry die Taigo model ook ’n panoramiese sondak, terwyl aktiewe spoed- en stem beheer, sowel as verhitte sitplekke, addisionele ekstras is (kom nie met die T-Cross nie).

Verder is die Taigo ook effens langer, maar laer as die T-Cross. Dus kan die Taigo 440L (63L meer as in die T-Cross) se bagasie in die kattebak neem, terwyl die T-Cross sowat 59L meer as die Taigo (1222L) sal kan neem met die agterste ry platgeslaan.

Verder weeg die T-Cross ook sowat 80kg meer as die Taigo, terwyl die branstofverbruik van beide ewe laag is teen 5.5L/100km. Beide het ook ‘n 40L brandstof tenk, wat beide voertuie oor ‘n 700km reikafstand sal kan neem.
Beide die Taigo en die T-Cross voel lewendig, maar die 1.5L en 7-spoed DSG ratkas is minder springerig in die T-Cross R-Line.

Vir ons is dit moeilik om ’n keuse tussen die twee te maak. Met beide wat amper identies is wanneer dit by spasie, brandstof verbruik, en spoed kom, voel die T-Cross 1.5 R-Line net effe meer gaps vir die stad. Die Taigo se 1.0L en 7-spoed ratkas is wel baie goed gepas vir die langpad.

Die ekstra R500 vir die Taigo R-Line is wel sakpas wanneer die Matrix hoofligte, algehele stylering, panoramiese sondak en ander opsionele ekstras in berekening gebring word.
Uiteindelik is die keuse joune. Koop die Taigo R-Line, of gaan eerder vir die T-Cross R-Line en kry ‘n “gratis” sushi bord by.