Tiguan voorwaar ‘n goeie voertuig, maar…
Volkswagen se Tiguan naam is al bykans 20 jaar met ons, met meer as 40 000 van hierdie modelle wat al sedertdien Suid-Afrikaanse huise gevind het.
Dit was een van die oorspronklike voertuie wat die kompakte SUV ruimte betree het, en dus ’n sterk reputasie opgebou het deur die jare. Nou in die derde generasie, is die vraag egter of die Tiguan steeds dieselfde reputasie behou teen die vloed van ander kompakte SUVs.

Neem byvoorbeeld ons onlangse langtermyn toetsvoertuig hier in ag; naamlik die GAC Emkoo 1.5T Executive Plus (geprys teen R559 900), of selfs die Jetour J7 1.6 Glacier (geprys teen R599 900), Jetour se Dashing 1.5T Deluxe (R469 900), MG se HS 1,5T Luxury (R534 900), óf Omoda se C5 1.5T 230T Elegance S (R509 900).

Hierdie is maar net etlike Sjinese kompakte SUVs wat meeding met die Tiguan, ongeveer dieselfde hoeveelheid krag lewer, en dieselfde brandstof ekonomie lewer. Sjinese voertuie in Suider Afrika mag dalk steeds selfs twee keer soveel kos as in die Noordelike lande, dog is dit uiters tegnologies toegerus.
Meer skokkend is dat elk van hierdie bogenoemde modelle die vlagskip modelle in hul ofsonderlikke reekse is. Dog is die duurste van die lot, naamlik die Jetour J7 1.6 Glacier, sowat R64 000 goedkoper as die Tiguan se intreevlak model.

Hierdie plaas die struweling van die gerekende Duitse, Japanese, sowel as die Suid-Koreaanse voertuie in perspektief.
Nietemin is die Tiguan in eie reg ’n goeie voertuig. Anders as met die nuwe skerp lyne van die Touareg, het die Tiguan nou baie sagter en geronde lyne. Ons R-Line model was natuurlik met al die opsionele ekstras toegerus, soos byvoorbeeld die reusagtige 18-duim allooi wiele, sowel as spoed beheer, ’n leer bekleeding binne, verhitbare en verkoelbare sitplekke, ’n panoramiese sondak en ’n trurat kamera.

Binne is die Tiguan ook toegerus met ’n reuse 12.9 duim informasie skerm; ’n reuse opgradering siende dat vorige modelle se informasie skerms moeilik hanteerbaar was en self die op- of afstel van klank ’n doktorsgraad benodig het. Nou het Volkswagen terug beweeg na ’n glyskaal om die klank te stel. Verder kan die klank ook verstel word met ’n draaibare knop tussen die voorste sitplekke, sowel as op die stuurwiel (iemand by Volkswagen was beslis ontevrede met die vorige modelle se kritiek en het dus besluit om pasiewe agressie te implimenteer).

Agter die stuur kan ‘n 10-duim (15-duim as opsie) digitale instrument kluster gevind word, sowel as ’n dubbele draadlose foon laaistasie (wat ongelukkig nie met een van ons fone gewerk het nie).
Die outomatiese rat wisselaar is ook nou geskuif na die regterkant van die stuurwiel, en is dus nie meer tussen die twee voorste sitplekke nie.

Daarvan gepraat, kom die Tiguan uit met ‘n 1.4L turbopetrol (4-silinder) enjin wat 110kW en 250Nm uitskop. In vergelyking met elk van die Sjinese voertuie soos vroeër genoem, is die Tiguan se krag ietwat minder en kan dit beslis gevoel word. Die 7-spoed outomatiese ratkas is wel sag en ’n fees op die oop pad, dog sukkel die enjin en ratkas kombinasie om goed as ’n span saam te werk in die stad. Hierdie kombinasie is veronderstel om die brandstofverbruik af te bring, dog is dit rondom 8.4L / 100km.

Die nuwe Tiguan, hoewel ligter, voel ook meer uit plek en ‘windverwaaid’ in vergelyking met die vorige generasie, terwyl die ratkas-enjin kombinasie effe onbesluitloos is tussen “te veel” krag, of rustigheid.
’n Positiewe van die nuwe Tiguan is wel die been en laaispasie. Die laasgenoemde is nou 652L (37L meer as in die vorige model), wat die Tiguan een van die mees praktiese voertuie in die segment maak.

Hoewel die nuwe Tiguan ietwat uit plek uit voel, is dit wel steeds ’n goeie aankoop, te danke aan die voertuig se praktiese aspekte. Die groot kommer is egter die prys.
Terwyl die intreevlak model (1.4L TSI Life) sowat R716 900 kos, (gepaard met ‘n 3-jaar / 120 000km waarborg en 5-jaar / 90 000km diensplan), is die R-Line model sowat R95 000 meer.

Die grootste probleem hier is dat die reeds hoog geprysde “Life” model bitter min bied. Volkswagen steun egter nog altyd op hul opsionele ekstras, terwyl meeste van die Sjinese tans veel goedkoper opsies bied, met al hierdie opsies as insluitend.
Ons hoop van harte dat die Duitsers en Japanese se politiese gesprekke (met Suid Afrika) ’n sukses mag wees en meer van hierdie voertuie plaaslik vervaardig kan word. Dit sal voorwaar ’n jammerte wees om minder van Volkswagen se produkte op die paaie te sien, veral die Tiguan.
