Padtoets: Alfa Romeo MiTo

Die pragtige nefie

Let op en maak nota’s, daar is ‘n nuwe speelding vir mense wat graag die gesigboekie (“facebook”) op hul aanraak-skerm selfone besoek. Die pragtige en moderne wêreld van klein spogmotors het die nuwe-ou Kewer, Mini, en Fiat 500 met oop arms verwelkom; en nou vra die Alfa-Romeo Mito om hulle nuutste maatjie te wees.

Die nuwe motortjie het nou nie ‘n suksesvolle voorvader nie, tensy mens die Alfa Sud oorweeg. In die geval sal die Mito baie bestuursgenot bied, en sy elektriese stelsel en bakwerk vreeslik bang wees vir water. Na ‘n paar dae met die nuutste Alfa-Romeo is ek verheug om te rapporteer dat die Mito slegs die eersgenoemde eienskap geërf het!

Danksy Alfa se verhouding met Fiat is die nuwe motortjie baseer op die Fiat Punto, en spog met die voorkoms van die suksesvolle nuwe Cinquecento (of 500) in sy familie fotoalbum. Nog ‘n lid van die familie is die hoogs-eksklusiewe en aantreklike 8C Competizione, en dié het ook ‘n paar ontwerp-elemente aan sy nefie gegee.

Die Mito is effens hoër en korter en ongelooflik meer bekostigbaar. Sy vloeiende twee-deur bakwerk benut groot ogies en ronde agterligte soos die 8C, om ‘n oulike en stylvolle beeld te skep.

Terwyl die skenker-voertuig Punto nie die mees opwindende motor op ons paaie is nie, was ek opgewonde omdat die Mito sy fris 1.4 liter turbo-aangejaagde enjin ontvang het. Dié kragbron is ‘n goeie voorbeeld van die nuutste rigting in enjin ontwikkeling waar vervaardigers ‘n klein petrolenjin met ‘n turbo- of druk-aanjaer wakker maak.

Dit gee die enjin goeie verrigting en hoogs-aanvaarbare brandstofverbruik; ‘n Alfa-Romeo Mito 1.4 Turbo ontwikkel 114 kW (155 pk) en 206 Nm wringkrag om in 8 sekondes na 100km/h te versnel. Met sy ses ratte raak hy eers teen 215km/h uit asem uit. Die gemiddelde brandstofverbruik is ‘n uitstekende lae 6.5 l/100km, en selfs vinnige bestuur deur die dorp het die Mito nooit meer as 10 l/100km verbruik nie.

Die binneruim herinner ietwat aan oom-se-kind Punto, met ‘n paar wonderlike Alfa-Romeo toevoegings. Die sitplekke lyk (en voel) goed en mens sit hoër as wat ek verwag het. Die Mito se stuurwiel is ook ‘n pragtige ontwerp (met knoppies vir klank ens.) en dele van die kajuit is met koolstofveselagtige materiaal bedek.

Die instrumente word beklemtoon met rooi syfers en dik silwer naalde, en in goeie Alfa tradisie word sommige inligting in Italiaans verduidelik. ‘n Kombinasie ritrekenaar en informasie skerm gee inligting oor verbruik, musiek, en sommige voertuig instellings.

Sodat nuwe kopers nie te gou verveeld raak nie, omvat die Mito ‘n indrukwekkende lys van vermaak- en veiligheidstoerusting. Is julle gereed? Hier gaan ons: kragstuur, elektriese vensters en spieëls, sentraalsluitstelsel, lugversorging, sewe lugsakke, CD/mp3 radio met 6 luidsprekers en Windows Mobile sok, ABS/EBD, vier stabiliteits-programme,  bult wegtrekbeheer, en Alfa se “d-n-a” dinamika-beheer.

Die laasgenoemde sisteem het my toetsvoertuig net betyds van ‘n slegte berig gered, omdat die padvermoë en verrigting van die Mito aanvanklik nie indrukwekkend was nie. Láát op my tweede toetsdag ontdek ek toe die groot knoppie met die drie letters “d”, “n”, en “a”.

Die motor skakel na elke rit terug na “n” (vir normaal) toe, en mens kan “a” vir “ys en sneeu” padtoestande kies. Die Mito neem dan ongeveer die eienskappe van ‘n skoolbus aan, sy versneller en veringstelsel reageer op ‘n vertraagde (en veilige) manier, wat op nat of glyerige paaie ‘n voordeel sal wees.

Soos genoem is die middelste stelling “n” nie te opwindend nie, maar wel die beste vir alledaagse gebruik. Ek persoonlik sou die sisteem permanent in “d” (vir “dynamic”, of dinamies) wou hê, en is seker dat ‘n bietjie blitsgom enige eienaar met dié wens sal help.

As die informasie-skerm tussen die instrumente uiteindelik “dynamic” aankondig, word die bestuurder se wense vinnig en met wonderlike presisie uitgevoer. Die stuur raak effens harder, soos ook die veringstelsel, en die enjin is gereed vir vuisslaan met tot 230 Nm beskikbaar. Die wieltol- en stabiliteits-beheer sal ook ‘n bietjie meer onverantwoordelike gedrag regstel.

Dié stelling is die beste as mens ‘n bietjie pret met die Mito wil hê, ons toetsmotor het selfs ‘n paar bande laat sing en sy heupe geswaai, maar as die padoppervlak sleg raak, sal mens gou-gou weer na die ander moduse terugskakel. Veral agterste passasiers sal daarvoor baie dankbaar wees, omdat die vering hulle behoorlik geskud het.

Die 200-plus wringkrag en gemaklike veringstelsel (behalwe in “d” modus) maak die Mito ook ‘n uitstekende langpad vennoot soos ook op stedelike paaie en kan ‘n mens die wonderlike, fris klein enjin se toere opjaag, of die uitstekende wringkrag benut om in hoër ratte te versnel.

Alfa-Romeo’s is iets spesiaal, en danksy die Fiat invloed is hierdie puik toevoeging tot die legendariese Italiaanse familie ‘n wenner. Die Mito is stylvol, veilig, tegnologies gevorderd en bied hope bestuursgenot vir slegs N$241 000.

Leave a Comment