Padtoets: BMW Z4 sDrive35i

Die dubbel-turbo meisie

Somtyds kry mens ‘n tweede kans. ‘n Tweede kans vir sukses, of jammer sê, of met ‘n ou liefde. Toe ek versigtig in die nuwe BMW Z4 sDrive35i klim, voel dit asof ek ‘n tweede kans met ‘n beeldskoon meisie kry; maar in my afwesigheid het sy gym toe gegaan.

Die 3-liter gelid-6 weergawe van BMW se aantreklike Z4 wat ek ‘n paar maande terug getoets het, was een van my gunsteling voertuie omdat dit ‘n wonderlike afslaandak sportmotor is wat baie bestuursgenot lewer en ook die oog vang.

Die grootste verskil tussen dié en my nuutste toetsvoertuig was die twee turbo-aanjaers onder die enjinkap wat die fantastiese ses-silinder se krag van 190 na 225kW opstoot. Wringkrag raak ook meer en beland by ‘n allemintige 400 Nm.

Die Z4 sDrive35i se bakwerk en binneruim is identies met die van goedkoper modelle, en die dubbel-turbo meisie het na haar gym-besoek ook groter wiele en twee dik uitlaatpype gekry. Haar sweetpak was ‘n donker metaal-blou kleur, met ‘n helder-grys (byna wit) en swart leer binnekant. Die kombinasie was so aantreklik dat ek vir haar amper ‘n bos blomme gekoop het.

Juffrou Z4 het ook haar slim bókant behou, en dié sal in ongeveer 20 sekondes in die kattebak verdwyn. Eers klim die agterste ruit op die dak, dan slaan die kattebak deksel agter toe, sodat ruit en dak tesame kan inklim. Bagasie-spasie is dan ‘n bietjie van ‘n grap, maar met so ‘n elegante afslaandakmotor sal die meeste kopers nie kla nie. Ek beslis nie.

Het ek alreeds gemeld dat die Z4 deur ‘n vrou ontwerp is? Nee wat, mooi bly maar mooi, en elke vriend of kollega het saamgestem dat die Z4 een van die pragtigste motors op ons paaie is. Die binneruim het ‘n bietjie kritiek gekry met sy vier ronde kombinasie-lugversorging knoppies, en die tradisionele BMW oranje beligting van sy instrumente.

Albei klagtes het my min gepla en ek hou nog steeds van die instrumente se ongekompliseerde uitleg. Die res van die kajuit volg ‘n soortgelyke idee, en na ‘n paar dae sal mens selfs aan die snaakse ratkierie/knop gewoond raak.

Die gevreesde i-Drive stelsel met sy groot silwer draaiknoppie en sentrale beeldskerm is ook ‘n nuwe element van die Z4 wat enigiemand gou sal aanleer. Die stelsel beheer radio, navigasie, ‘n premium CD klankselsel, ipod en ander (AUX) musiekspelers  en telefone met blou tande.

Die stuurwiel (met satellietknoppies) is klein met ‘n dik rand, en selfs die kleinste beweging eindig in skerp rigtingsveranderings. BMW se 7-gang dubbelkoppelaar outomatiese ratkas kan ook deur twee spane aan albei kante van die stuurwiel beheer word.

Bogenoemde ratkas is slegs met die dubbelturbo-enjin beskikbaar en het drie instellings om van te kies; normaal vir alledaagse gebruik, sport vir meer terugvoering van enjin en veringstelsel, en sport plus (wat ook die wieltolbeheer afskakel) vir bestuurders wat vir niks bang is nie.

Die laaste stelling verander die Z4 se harde vering tot baie ongemaklike maar sportiewe standarde, en saam met die asemrowende 306 perdekrag en blitsvinnige ratte, versnel die sDrive35i van 0 tot 100km/h in ‘n raps bó 5 sekondes. Die enigste ander eienskap wat net só indrukwekkend is, is die Z4 se remme.

Geen twyfel, hierdie is die modus vir vinnige bestuur, maar effens slegte (of glyerige) padoppervlakke sonder klou-beheer sal die meeste bestuurders paniekerig en senuweeagtig maak. Die middelste Sport-modus gee ten minste elektroniese hulp as die wiele begin tol, en is meer wakker as die vol-outomatiese “Normal” instelling.

Die Z4 se ‘normale’ maniere is nog steeds baie aanvaarbaar, en danksy die monumentale wringkrag hoef mens nooit voet neer te sit nie. In die meeste gevalle kán jy nie oop ketel ry nie, tensy jy in ander voertuie of die spoedgrens wil vasjaag.

BMW was sekerlik bewus daarvan, en die sterkste Z4 wys ‘n ander kant van sy karakter as jy saam met die verkeer beweeg. Die groot ses-silinder stuur ‘n diep melodie by sy pype uit, veral as die bestuurder self ratte kies en nie meer as 3 000 toere benut nie.

In sesde of sewende rat is die voertuig ook baie ekonomies, maar die enjin se klank en verrigting was so ‘n groot versoeking vir my dat ek slegs 12.5 l/100km kon behaal. BMW noem ‘n gemiddelde syfer van onder 10 l/100km.

Die versoeking om té vinnig te bestuur was vir my die ergste aspek van die dubbelturbo Z4, en met ‘n prys van N$682 500 betaal mens presies N$100 000 meer as vir die (alreeds vinnige) 3-liter 260 pk model. As jy hou van hoogs-onwettige snelhede en passasiers wat skree en gil, sal jy die dubelturbo sDrive35i koop, maar persoonlik sou ook die on-aangejaagde sDrive30i aanbeveel.

Albei is propvol die nuutste geriewe, vermaak, en veiligheidstoerusting. Hulle lyk byna identies, en geniet ‘n 5 jaar 100 000 km diensplan. Maar een van hulle kom sopas van die gym af.

Leave a Comment