Chery se verbeterde nuwe Tiggo
Daar is al heel dikwels in vorige artikels, wanneer daar na die bekenstelling van ‘n nuwe Chinese motor of bakkie aan die huidige mark verslag gedoen is, daarop gewys dat daar oor die laaste dekade of so merkbare tekens van verbeterde kwaliteit by Chinese voertuie te bespeur is.
Ter selfder tyd was daar nog altyd die oortuiging dat die Chinese op een of ander stadium ‘n beduidende impak op die plaaslike motormark gaan hê. Chinese voertuie word hier te lande teen ‘n uiters kompeterende pryse aangebied en die ontluikende middelinkomste groep as teikenmark verteenwoording ‘n groeiende en moontlik ‘n ontploffende tendens. Maar dan weer berus veral die motorindustrie en sy markkragte nie net op vraag en aanbod alleenlik nie. En in daardie grys area waar sekondêre ekonomiese en politieke faktore ook beduidende rolle speel lê miskien die sukses of mislukking vir die Chinese motorbedryf, of dan ten minste in Suidelike Afrika.
Die Chinese motorvervaardigers het oor die afgelope twee dekades of wat baie geleer by hulle Oosterse bure en wat hulle nie uit ondervinding geleer het nie, het hulle doodeenvoudig gekopieer en in hulle modelle geïntegreer. Dit sien mens dadelik as jy van hulle voertuigmodelle bietjie van nader beskou en die Tiggo is geen uitsondering nie. Veral aan die agterstewe van die Tiggo is daar duidelike kenmerke van Toyota se RAV.
Die kompakte en opgekikkerde voorkoms van die Tiggo val dadelik en goed op die oog. Geen wonder dat dit een van die beste verkopers in die Chery-stal is nie. Die nuwe Tiggo het nou ‘n sterker 1.6 liter DVVT petrolenjin onder die enjinkap maar tog kort daar heelwat meer oemf as dit by kraguitsetting kom en wonder mens of ‘n groter enjin of turbo-aandrywing nie dalk nodig is om sodoende nog meer met die groter honde in sy klas saam te kan blaf nie.
Die nuutste weergawe van die 1.6 liter ACTECO het ‘n dubbele en veranderlike kleptyd en ontwikkel 93 kW krag teen 6 150 rpm en 160 Nm wringkrag vry teen 3 900 rpm. Dit verteenwoordig ‘n 15% vermeerdering in krag in vergelyking met die vorige model. Brandstofverbruik is ekonomies terwyl aandrywing na die voorwiele deur middel van ‘n vyfgang handratkas geskied. Wat die ratkas betref kan Chery se ingenieurs weer besin oor ‘n ratkas wat aan die stokkerige kant is! Maar sonder twyfel is dit waar die hakkerigheid op die Chery Tiggo eindig.
In sy prysklas bied die Chery Tiggo uitstekende waarde vir geld en kompeterende standaard kenmerke aan. By die prys ingesluit bied die Tiggo sitplekke wat in grys leer afgewerk is, (verskillend van die vorige model) terwyl Bluetooth funksie, stuurwiel kontroles van die klankstelsel, ‘n kontrolesisteem vir truparkering en bystand met die wegtrek teen ‘n heuwel, wat deur middel van die kortstondige sluit van die remme voorsien word, verdere standaard kenmerke is. Die Tiggo bied ook uitstekende veiligheidskenmerke aan wat gewoonlik nie in ‘n voertuig van hierdie prysklas aangetref word nie, naamlik twee lugsakke, ABS-remme, elektroniese remkragverspreiding en dan ook elektroniese stabiliteitsprogrammering ingeval die voertuig in ‘n noodsituasie begin gly.
In vergelyking met die vorige model wys die nuwe Tiggo baie beslis ‘n meer volronde vooraansig met ‘n snapsie aggressiwiteit duidelik sigbaar. Chery het ook intussen die dienste van verskeie bekende stilliste uit Europa bekom wat heel waarskynlik meer op hoogte van die kosmetiese behoeftes van die Westerse kopersmark in die motorindustrie is. Dit kan duidelik gesien word in die deurlopende kleurkode van al die bakonderdele. Die 16 duim wiele van die vorige model is vervang met 17-duim allooiwiele terwyl LED-dagligte voor en agter asook die twee misligte voor ‘n nuwe toevoeging is.
Die Tiggo se uitstekende padgedrag tesame met oorgenoeg ruimte en pakplek vir vyf insittendes was heel waarskynlik die mees opvallendste positiewe kenmerke van die Tiggo. Alhoewel nie bedoel om ‘n volbloed veldvoertuig te wees nie het die Chery Tiggo met sy voorwielaandrywing veral uitstekende rekenskap van homself op ‘n gewone grondpad gegee. En in hierdie verband kan hy maklik saamgesels met kompeteerders wat jou maklik N$50 000 tot N$100 000 meer uit die sak kan jaag.
Die Chery Tiggo 1.6 sal jou net onder die N$230 000 kos en kom saam met ‘n driejaar/120 000 km waarborg en ‘n diensplan vir 3 jaar. Diensintervalle is elke 15 000 km.