Innovasie kom teen ‘n prys
Sedert die ontstaan van Ford-motors in 1903, blyk dit of hierdie motor ikoon nog altyd na innovasie streef. Met Ford se nuwe reeks voertuie, wat strek vanaf die intreevlak Figo, tot die EcoSport, die Kuga, die Ranger, die Everest, die Transit en selfs die hoogs bekroonde Mustang, kan daar definitief nie na die vervaardiger verwys word as vervelig en eentonig nie.
Boonop is Ford ook, met hul nuwe EcoBoost tegnologie, een van die sterk voorlopers as dit kom by die vervaardiging van enjins wat meer ekonomies en effektief is.
Dit is dan geen wonder nie dat die terme “prakties en innoverend” in my kop rondmaal soos ek met Ford se nuwe B-Max rondry. Met 91 kw en 170 Nm @ 1400-4500 opm, gaan hierdie voertuig jou van stilstand tot 100km/h in 11 sekondes bring. Hierdie statistieke, alhoewel ietwat irrelevant by dié tipe voertuig, is dan ook verrassend, siende dat dit slegs ‘n 1 liter enjin is wat ‘n groot vyf-deur voertuig aandryf. Dit is egter hier dat dit in terme van innovasie interessant raak.
Ford het dit reggekry om hierdie motor met hul nuwe EcoBoost tegnologie te laat loop. Dus, alhoewel die enjinblok klein is, kan hy die werkverrigting van ‘n normale 1,6 liter gee. Uitermate kan jy ook verwag om ‘n gekombineerde brandstofverbruik van 6 liter/ 100 km (alhoewel Ford van mening is dat dit 4,9 liter is) te kry. Op die langpad kan jy gemaklik in die 5de rat teen 120km/h teen 3000 opm, met baie min eksterne enjin- en verkeergeraas, ry. Dit is egter wanneer die swaartekrag op jou regtervoet al sterker raak, dat jy jouself sou misgis en dink jy ry in ‘n Porsche, met ‘n brullende “boxter”- tipe geluid wat uit hierdie klein skoenboksie voor uitspring.
Met die B-max is die fokus op die praktiese gedeelte van die voertuig geplaas. Met dieselfde onderstel as die Focus, moet ‘n mens jou nie misgis en verwag dat die B-max dieselfde karaktereienskappe sal hê nie.
Die voertuig kom uit sonder die sentrale B-pilaar, ‘n belangrike komponent vir jou normale voertuig in terme van veiligheid, maar weereens het Ford ons met hul innoverende denke verras. Met ‘n saamgestelde metaalstruktuur, wat 55% staal en 26% boronstaal bevat, is hierdie kajuitstruktuur veel ligter, maar terselfdetyd ook veel sterker. Sodra die agter –sydeur oopgeskuif word, saam met die voorste deur, kan jy ‘n opening van 1,5 meter verwag.
Sou jy ooit die behoefte hê om ‘n wereldrekord op te stel en te kyk hoe vining jy deur ‘n kar kan hardloop, maak net al vier deure oop, slaan al vier sitplekke af en laat waai. Ons het sélf hierdie uitdaging probeer en geweldige genot en sukses daaruit geput! (Miskien kan dit ‘n nuwe sportsoort vir studente word?)
Dieselfde geld ook as jy sou verkies om ‘n piekniek op ‘n koue en reënerige dag te hou. Vou eenvoudig net al die sitplekke op, skuif die sondak-flappe oop (ongelukkig kan die sondakpaneel nie oopgemaak word nie), maak die deure toe en geniet ‘n piekniek in ‘n knus atmosfeer met die reën wat op die sondak val.
Hierdie voertuig is ideaal vir jong gesinne waar jy die kinders konstant agter in die kar moet vasgegordel. Die gemaklike in- en uitklim is tweedens ook ideaal vir senior verbruikers. Dieselfde geld ook dan vir enigiemand wat op ‘n gereelde basis ‘n saamryklub het of groot voorwerpe (soos jou fiets of branderplank) moet vervoer.
Die B-Max is ook baie gemaklik vir die langpad en vir normale werksverkeer. Persoonlik het ek die elektriesverhitte sitplekke waardeer om my sitvlak tydens die 8˚C wintersoggendrit op pad werk toe, warm te hou. Die voertuig het ook, soos Ford dit noem, die “Torque vectoring” sisteem. Hierdie funksie laat die motor toe om die suspensie, sowel as krag per wiel, aan te pas soos wat die situasie vereis. Sodoende het die bestuurder ten alle tye volle beheer oor die motor se gedrag.
Hoewel dit duidelik is dat hierdie voertuig op passasiersgemak fokus, is daar ook baie gedoen om die bestuurder tuis te laat voel. Met ‘n eenvoudige druk van die “SYNC” knoppie, kan jou slimfoon deur middel van Bluetooth aan die kar konnekteer. Vanaf die stuurwiel kan die bestuurder deur middel van mondelinge bevele enigiemand bel. Die opsies is ook natuurlik op die stuurwiel om volume en snelheidsbeheer te stel.
Natuurlik is daar ook ‘n kamera, gemonteer op die kattebak, wat outomaties aangaan sodra die bestuurder die kar na agter wil beweeg. Daar is ook ‘n banddrukmeter, wat tydens ‘n abnormale variasie in bandlugdruk, ‘n waarskuwing sal gee.
Die ontwerpers van die B-Max is aangesê om ‘n positiewe atmosfeer vir elke tipe rit te verseker. Die kombinasie van die agterste sitplekke wat ietwat hoër geplaas is as die voorste sitplekke, en die panorama-glasdak, maak dit maklik vir die agsterste passasiers om te sien wat op die pad aangaan, sowel as ‘n meer ruimtelike en ligter atmosfeer te ervaar.
Finale indrukke: Die Ford B-Max is ‘n uitstekende, praktiese en innoverende gesinsvoertuig. Alhoewel die voertuig ietwat meer brandstof verbruik as die 4,9l/ 100km volgens Ford se webtuiste, is dit steeds baie lig in terme van die voertuig se spesifikasies. Met relatiewe harde en verrassend gemaklike sitplekke, is die B-Max ‘n gemaklike voertuig om in die stad of op langpaaie te ry.
Daar is drie weergawes, waarvan die Ambiente en die Trend die goedkoper weergawes is as die Titanium-model wat ons bestuur het.
Met die B-Max is op alle aspekte van bestuurs- en passasiersgerief gefokus. Dit is innoverend en hoogs prakties vir enige ouderdoms- of gebruiksgroep.
Die kompetisie is meer intern binne die Ford-groep EcoSport wat teen presies dieselfde prys (N$290 000) meeding met soortgelyke praktiese uitleg maar net met ‘n hoër grondvryhoogte.