Territory terug in Suider-Afrika
Ford se teikenmark het oor die afgelope paar jare weg van die sedan, luikrug, en passasier mark verskuif na die meer prominente bakkie en SUV markte. Met rede ook, siende dat die SUV mark tans die mees kompiterend is in Suider-Afrika, terwyl Ford reeds ’n gevestigde reputasie met hul Ranger bakkie reeks het.
Terwyl die Ford Puma hul kleiner SUV is, het die Territory weer ’n verskyning gemaak sedert die vroeë 2000’s. Anders as voorheen word die nuutste Territory egter in China, inplaas van Australië, vervaardig.
Hierdie is egter nie ’n Sjinese voertuig nie, siende dat die nuwe Territory in Australië ontwerp is, terwyl die ander parte, soos die enjin, meestal uit Amerika kom. Die Territory is ook spesifiek getoets om die Suid-Afrikaanse landskap se bes moontlik aan te pak.

Daar is egter baie ooreenskomste tussen die eerste- en die nuwe, tweede generasie Territory, met beide wat simplisties, dog uiters prakties is. Die nuwe Terrritory is selfs nog meer prakties as die uittredende generasie, en is, na ons mening, een van die beste Sjinese SUV’s in die huidige mark.
Terwyl die oorspronklike Territory ’n lywige 4L 6-silinder enjin gehad het, word die nuwe generasie aangedryf deur ‘n 1.8L (4-silinder) turbo-petrol kragbron. Tog skop dit ’n aanvaarbare 138kW (teen 5200 opm) en 318Nm (tussen 1750 en 3000 opm) uit, wat uiteindelik die voertuig van stilstand tot 100km/h bring in minder as 9 sekondes.

Die nuwe Territory is egter gebou vir gemak, en om prakties te wees; ’n feit wat onmiddelik bekendgemaak word met die binneruim se ontwerp. Nes die buitenste bakwerk is die binneruim simplisties, dog effektief.
Soortgelyk is die tweede ry sitplekke se beenruimte enorm, te danke aan die Territory wat voorwiel-aangedrewe is en dus nie nodig het om gebruik te maak van ’n dryfas óf ’n ewenaar nie. Soortgelyk is daar ook oorgenoeg plek in die kattebak (448L – 1422L), hoewel die verlengde beenspasie in die tweede ry die kattebak van die Territory aansienlik verkort. Mededingers soos die Kia Sportage en Chery Tiggo 8 Pro se kattebakke het ietwat meer spasie in die segment.

Gelukkig kom die Territory opsioneel met ’n trekstang wat tot en met 1300kg kan sleep.
Ons Territory Titanium het gekom as die vlagskip model in die reeks (waarvan daar drie is, wat teen R610 000 begin), met beide ‘n 12.3” informasie skerm (agter die stuur), sowel as ‘n 12.3” raakskerm.

Hoewel die binneruim van die Territory “skoner” en meer oorweldigend is as meeste ander Sjinese voertuie in die mark, het hierdie Titanium se binneruim nie heeltemal soos die van ’n vlagskip model gevoel nie, met die plastiek en sintetiese leer afwerking, wat ietwat afgerammel gevoel het.
Die nodigste is wel bygevoeg soos selfoon konneksie, aanpasbare spoed beheer, baan verwisselings bystand, 6 lugsakke, blindekol waarskuwing, ’n panoramiese sondak, 8 luidsprekers, sowel as sleutellose toegang en aanskakeling.

Hoewel die Territory in Sjina vervaardig word, is dit heelwat anders as ander Sjinese voertuie. Die eerste hiervan is die feit dat daar geen irriterende geluide is vir konstant speel nie.
Die tweede fokus op hoe die Territory bestuur.

Hoe is dit om te bestuur?
Meeste Sjinese voertuie word uitgebring met ’n outomatiese DCT ratkas. Terwyl hierdie ratkaste nie noodwendig skree soos die gevreesde CVT ratkaste nie, kan hierdie DCT ratkaste dikwels ongemaklik wees.
Waar die Sjinese dit meestal vekeerd kry, is wanneer hul voertuie meer “sporttief” gemaak word en die uitleg van die ratkas dus verander word. Voeg drie bestuursfunksies soos Eco, Normal en Sport by, en die ratkaste word in ’n konstante warboel gebring.

Gelukkig het die Territory geen van hierdie probleme nie, met die ratkas (wat verander kan word met die draai van ’n sentrale knop), wat rustig, dog seepglad is.
Uiteindelik beïnvloed hierdie ook die algehele brandstof verbruik. Hoewel die 8L/100km wat ons gekry het steeds redelik swaar is, is dit ietwat beter as vele DCT-ratkas mededingers.

Verder is die kajuit ook redelik klankdig, en die 19-duim wiele met lae profiel bande kan skaars gehoor word.
Hoewel die elektroniese stuur ietwat los voel, is die Territory nie gemik om elke sperdraai op ’n renbaan met 100% akkuraatheid te tref nie. Dog is die voertuig ook redelik standvas teen die Kaapse dokter.

Hoewel die Ford Puma nog ietwat sukkel om ’n plek te vind in die Suider-Afrikaanse mark, is die Territory ’n uitstekende opsie in die middel-grootte SUV mark. Dit sal nie noodwendig vele koppe draai of kop-en-skouers uitstaan bo die Sjinese kompetisie nie; dog is dit beter vir die langtermyn voortbestaan van die voertuig.
Hierdie Territory is gemaak vir die langpad. Gemaklik en prakties.

Met pryse wat teen R593 500 begin en by R725 500 eindig (saam met ‘n 4-jaar / 120 000km waarborg en 5-jaar / onbepaalde km anti-roes waarborg, sowel as ‘n 6-jaar / 90 000km diensplan), is die Ford Territory perfek geprys vir die mark.