Padtoets: GWM bakkies

GWM se reeks bakkies maak hulle stem dik in die plaaslike mark

Die bekende Duitse filosoof, Arthur Schöpenhauer, het op ‘n slag opgemerk dat elke groot idee deur drie fases gaan:  Aan die begin word dit bespot, daarna word dit gewelddadig beveg (of laat ons dan maar liewer vir die doel van hierdie artikel se “verdag gemaak”)  en laastens word dit eindelik as ‘n onvermydelike feit aanvaar.

Dit is sekerlik ook die prosedure  waardeur die bemarkers van GWM se nou bewese produkte, en veral die bakkie reeks, sedert die bekendstelling van GWM se voertuigreeks ‘n paar jaar gelede gegaan het maar nou sonder twyfel bogenoemde derde en laaste stadium bereik het.

GWM se reeks bakkies het hulle sonder twyfel tot op datum vierkantig in hierdie uiters kompeterende mark geposisioneer en hulle stem dik gemaak op Suid-Afrikaanse plase en paaie.  Die maatskappy se bemarkingstrategie is besig om momentum op te tel en die reeks van handelaarskappe is besig om oor die hele land toe te neem terwyl sy produkte uitstekende waarde vir geld bied – of laat mens liewer sê,  onoortreflike waarde in sy prysklas bied.

GWM se puik verkoopsyfers word verder ondersteun deur ‘n ewe puik naverkoop diens en ‘n 5 000 vk meter onderdele fasiliteit in Durban waar daar voorraad van meer as R120 miljoen gereed lê om binne 48 uur enige plek in Suid-Afrika afgelewer te word.

Die spesifieke model wat vir ‘n toetsbestuur beskikbaar gestel was, was GWM se Steed 2.2 MPi 4×2 dubelkajuit bakkie waarvan die petrolenjin deesdae opgegradeer is enwat nou 78 kW en 190 Nm krag lewer en wat heelwat stiller op die oor is as as die vroeëre modelle.  Trouens, die enjin loop so stil dat mens dit soms ingedagte twee maal aanskakel terwyl dit alreeds loop! Toegerus met kragstuur, lugreëling, kunsleersitplekke, gerieflike voetrus, (waaroor daar, by die gebrek daaraan by baie luukse modelle, al so dikwels voorheen gekla is!), ‘n hoogte verstelbare stuurwiel, ‘n puik radio/CD/MP3 speler, afstandbeheerde sluitfunksie, allooiwiele, aantreklike voorkoms met sy nuwe sierrooster, puik werkverrigting bied die GWM Steed waarde vir geld wat moeilik oortref sal word.  En kom ons maak dan maar die geskenkpakkie vroeg oop –  die 2.2 MPi se enkelkajuit se kleinhandelprys is N$144 900 en dié van die dubbelkajuit slegs N$176 900.

Bakkies word uit die aard van die saak gebou om eerstens ‘n skaflike lading te vervoer en ook hier staan die Steed 2.2 nie terug vir enige mededingers in sy portuur nie.  Die enkelkajuit kan met gemak ‘n vrag van meer as 1 200 kg hanteer  terwyl die dubbelkajuit vanselfsprekend ‘n kleiner vragruim van net oor die 1 000 kg het.   Of jy nou die naweek se kampgereedskap of enige plaasimplemente wil laai sal die dubbelwande  die bakruimte beskerm en bied dit ook oorgenoeg vasmaakplek vir die veiligheid van jou Steed sowel as vir sy vrag.  ‘n Breë trap aan die agterkant van die laairuimte vergemaklike ook die op- en aflaai van swaar artikels.

Natuurlik moes die Steed 2.2 MPi op een of ander manier toegewings maak om sy uiters kompeteerbare prys (indien daar werklik enige ander alternatief in hierdie prysklas is) te regverdig.  Toegewings in die binneruim was dit beslis nie.  Die dubbelkajuit bied met groot gemak genoeg been- en kopruimte vir vier lywige insittindes en so ook die enkelkajuit vir sy bestuurder en sy passasier met sy twee gerieflike sitplekke.  Met lugreëling, elektriese vensters en ‘n puik radio- en klanksisteem kan mens mos nie meer verwag as jy die langpad  aandurf nie?  Maar hoekom nie êrens ruimte vind ‘n horlosie nie?

Die Steed 2.2 is nie ‘n sagte ryer nie, want hy is ‘n pakesel en vragdraer wat gewig op sy agterstewe wil hê om ‘n  meer soliede rit te verseker; dis immers waarvoor hy gebou is.

Ongelukkig het die Steed 2.2 nie ABS-remme nie.  Die 2.2 intreemodellle maak ook nie voorsiening vir lugsakke nie, maar op die afgeleë binnelandse paaie, waar die Steed heel waarskynlik sy eindelike bestemming gaan vind, sal sy bestuurder al van ver af die stof sien uitslaan om hom vroegtydig te waarsku om maar liewer links te hou in plaas van die middelspore wat al oor ‘n lang tyd glad gery is.  Lugsakke is immers bedoel vir stampe wat gewoonlik van voor kom!

Die Steed bakkies kom met ‘n driejaar/100 000 km waarborg en ‘n twee jaar/24 uur padbystand.  ‘n Netwerk van 71 takke die lengte en breedte van die land is gereed om te alle tye naverkoopdiens te lewer – en bakkies te verkoop!

Leave a Comment