Vyfsitplekker maak stem dik
Dit het as’t ware al deel van die Suid-Afrikaanse koperspubliek se alledaagse lewe geword om steen en been te kla oor alles en nog wat – onder andere oor die stygende prys van petrol en ander lewensmiddele en om die kring te voltooi word politieke skandes, skokkende skoolsyfers en skelm skeidsregter ook sommer in die pot gegooi en geroer.
En dan is daar natuurlik ook nog die gevaar van die invallende Chinese in die Afrika subkontinent.!
Dis juis op laasgenoemde punt waar GWM (Great Wall Motors) se nuwe veeldoelige H5-vyfsitplek SUV in die prentjie kom. En laat mens maar byvoeg, die hele reeks beskikbare Chinese voertuigmodelle in Suid-Afrika word gewoonlik onder ‘n onverdiende skeptiese soeklig geplaas en word daar nie gekyk na die absolute waarde vir geld wat hierdie modelle bied nie. In hierdie opsig gaan GWM se H5 beslis ‘n bres slaan teen hierdie negatiewe benadering.
Soos in die geval van ander Chinese voertuie wat plaaslik aan die publiek beskibaar is, het GWM oor die tydperk waarin hulle in SA betrokke is, met uiters kompeterende pryse van hulle voertuie vorendag gekom. En laat ons maar eerlik wees, GWM kan, soos ander Chinese vervaardigers, hulle voertuie vandag met trots aan die SA koperspubliek bemark. Onthou maar gerus hoe skepties Suid-Afrikaners oor Japanese modelle was toe Toyota jare gelede met Ford en GM begin kompeteer het.
Vir die rekord: GWM is China se grootste motorvervaardiger in privaatbesit en het in die slegs 12 jaar van hulle bestaan fenomenale opgang gemaak. Vandag voer hulle motorvoertuie na 128 lande uit en vervaardig meer as 400 000 eenhede per jaar. Selfs met die ekonomiese resessie van die laaste paar jaar het hulle voortdurend groei getoon en hulle buiging op die Hong Kongse aandelemark gemaak.
Om tot die punt te kom: Die deeglike toetsrit met die H5 was ‘n yslike verrassing. Die H5 se groot bagasieruim is tot boordens toe gepak en die reis oor die heuwels van die Overberg aangepak. ‘n Gemaklike bestuursitplek met leerbekleedsel wat lekker hoog gemonteer is (soos dit vir ‘n SUV behoort te wees) en wat elektronies verstel kan word, word gekomplementeer deur moderne veiligheidskenmerke soos dubbele lugsakke, ABS-remme wat ondersteun word deur elektroniese remkragverspreiding, en ‘n uitstekende klankstelsel.
Dit is beslis die afwerking en kenmerke van die binneruim van die H5 wat sy sterkste punt is. Die H5 verras met verdere luukshede soos stuifmeelfilters in sy lugreëlingstelsel, elektries-beheerde vensters en kantspieëls, CD/DVD/MP en Bluetooth verbindings wat van die stuurwiel beheer kan word, reën- en ligsensors en tru-parkeringbystand deur middel van ‘n kamera help dat jy nie jou nek uit potjie sal draai wanneer jy wil parkeer nie.
Baie opvallend en handig is die banddruk van beide vier wiele wat op die truspieël verskyn as ‘n knoppie daar gedruk word en wat jou dus deurlopend op hoogte kan hou van hierdie uiters belangrike aspek van jou reis.
Die toetsvoertuig was die vyfsitplek H5 met sy sesspoedratkas en 2.0 liter dieselenjin met VGT Turbo ondersteuning. Hoewel die enjin ‘n skaflike 110 kW teen 4 000 rpm ontwikkel en die maksimum 310 Nm alreeds tussen 1800 en 2800 rpm gelewer word, was dit nodig om die volgepake H5 se ses ratte gedurende die rit oor berge en dale in die Overberg oordeelkundig te gebruik. Met ‘n vol vrag kan die H5 in 5de en 6de ratte uit stoom uit raak as jy miskien te oorywerig is om optimale brandstofverbruik te kry.
En juis hierdie aspek is ‘n groot plusfaktor, naamlik die H5 se uitstekende brandstofverbruik wat aangegee word as 7 liter/100 km, wat miskien onder optimumtoestande haalbaar is, maar miskien ietwat optimisties is. Die swaar gelaaide H5 het egter nog steeds om en by 9 liter/100km op die ooppad gelewer. Daar kan miskien ‘n saak uitgemaak word dat die dieselenjin ietwat raserig is en die ratskakeling ietwat stokkerig is, maar dit verbeter beslis namate die H5 se litte begin warm raak en dan moet ook in gedagte gehou word dat die toetsvoertuig nog baie nuut was.
Die H5 is ook deur sy passies op ‘n makkerige maar rowwe veldroete gestuur en met sy grondhoogte van 198mm het die voertuig die toets met vlieënde vaandels geslaag. Vering het aanvanklik hard voorgekom maar dra by tot uitstekende hantering deur draaie vir ‘n voertuig van hierdie grootte.
Daar word dikwels beweer dat meeste van Chinese voertuie wat in Suid-Afrika land opvallende ooreenkomste met ander Oosterse modelle soos Mazda, Isuzu, Nissan, Honda en andere toon, maar GWM se H5 toon beslis sy eie karakter en voorkoms wat baie aantreklik en sportief is.
Die H5 moet in sy klas kompeteer met voertuie soos bv. GM se Chev Orlando en Captiva asook met Hyundai se IX-35 maar daar is geen twyfel nie dat die H5 ‘n waardige kompeteerder is vir enig voertuig in sy prysklas van tussen N$250 000 en N$270 000 (pryse van die 2.0 diesel 4×2 handratkas en 4×4 outomatiese model.) Die H5 is ook beskikbaar in ‘n 2.4 petrolmodelle.
GWM ondersteun die H5 met ‘n driejaar/100 000km waarborg en 24 uur padbystand vir 2 jaar terwyl ‘n diensplan opsioneel is.