Isuzu KB 300 4×4 LX beïndruk
Dit het nou al amper ‘n deurgetrapte cliché geword van die kant van eienaars, joernaliste wat bakkies toets sowel as van die vervaardigers om aan te voer dat ‘n spesifieke model bakkie die rygenot van ‘n gewone passasiersmotor bied. Jammer, dus, om ook my stem by hierdie koor te voeg nadat ek Isuzu se KB 300 4×4 LX dubbelkajuit onlangs op agterpaaie van die Klein Karoo stof laat vreet het.
“Maar,” sê Isuzu se handelsnaambestuurder by General Motors Suid-Afrika, Mlungisi Nonkonyana, “die inherente eienskappe van die KB-reeks voer hierdie aanspraak wat gewoonlik met bakkies geassosieer word tot nuwe hoogtes.”
En die man is jou werklikwaar nie net ‘n bemarkingspreekbuis vir Isuzu nie maar slaan die spyker ook op die kop. Die paar honderd kilometer wat met die KB 300 4×4 op grondpaaie afgelê is het soms beslis die indruk gewek dat die wiele onder jou aan dié van ‘n weelderige passasiersmotor behoort en dat die grondpad die Isuzu en sy Goodyear Wrangler bande soos ‘n handskoen gepas het. Dit was tydens die toetstydperk heel moontlik die grootste pluspunt van die Isuzu KB 300 4×4 LX en die een wat ook die meeste beïndruk het.
Die plaaslik vervaardigde Isuzu KB, wat nou sy sesde generasie beleef, het natuurlik deur die jare alreeds vir homself ‘n reputasie vir taaiheid, betroubaarheid en gemak opgebou. Isuzu se ingenieurs sorg dat hulle voertuie se betroubaarheid en aanpasbaarheid by plaaslike toestande gereeld elke jaar aan die strengste toetse onderwerp word en dat aanpassings gemaak word op terugvoering van gebruikers van Isuzu voertuie. Sodoende bevind hulle hulself aan die voorpunt van standaarde waarvan die dwarslat gereeld tot nuwe hoogtes gelig word.
Bogenoemde is veral van toepassing op die dubbelkajuitmark aangesien potensiële kopers hierdie 4×4’s sien as waardige plaasvervangers vir weelderige sedanmotors en tot ‘n sekere mate ook vir die tradisionele en veeldoelige nutsmodelle, of dan SUV’s. “Gebruikers verwag dieselfde verfyning, gemak en weelde as waaraan hulle gewoond geraak het,” aldus Nonkonyana.
Die Isuzu KB 300 4×4 D-TEQ LX skiet hier glad nie tekort nie. Die bestuursitplek word nie net vorentoe en agtertoe nie maar ook die gemak van die rugleuening word elektronies beheer. Die voetplaat is redelik vlak sodat langbeenbestuurders hierdie kenmerk saam met die verstelbare stuurwiel kan gebruik om sy sit gemaklik en na sy smaak te kry. Hoewel ietwat nouer plaas sy lengte van 5.3 meter die KB 300 in dieselfde kraal as dié van sy vernaamste kompeteerders naamlik die Ford Ranger, sy Toyota eweknie asook die Mazda BT-50, Mitsubishi se Triton en Volkswagen se Amarok.
En van die Amarok gepraat, wat die KB 300 klop wanneer dit by die laaste verkoopsyfers kom, sal dit interessant wees om te sien in watter mate die huidige skandaal rondom Volkswagen met betrekking tot die vals gasuitlaatsyfers Isuzu se verkoopsyfers gaan bevoordeel.
Die binneruim van die KB 300 4×4 bied vele weeldekenmerke insluitende klimaat- en spoedkontrole, Bluetooth foonkonneksie, MP-3 versoenbare radio/CD klanksisteem met USB poorte en kantspieëls wat invou in geval van ‘n obstruksie. Veiligheidskenmerke in die binneruim sluit in dubbellugsakke voor, kant- sowel as “gordyn” lugsakke. Trurat sensors maak ‘n agteruit maneuver makliker gesien in die lig van die KB 300 se genoemde 3,5 meter lengte.
Met sy netjiese Mystique kappie wat ewekleuring met die bakwerk is, kompleet met dakstawe en ‘n effense drukvin, maak die KB 300 4×4 met die eerste oogopslag ‘n aantreklike indruk. Toegang tot die binneruim word vergemaklik met ‘n kanttrap. Die ontwasemer op die agterruit van die bakkie is egter ietwat sonder gebruik as daar op ‘n wintersoggend agtertoe beweeg moet word terwyl die kappieruit toegemis is. Ná ‘n paar dae op die grondpad het stof in die bak begin vergader as gevolg van ‘n rubberhulsel van die kappie wat aan die een hoek van die agterflap begin padgee het.
Goeie en opwindende nuus vir die Isuzu KB 300 4×4 liefhebbers is dat ‘n outomatiese model aan die bopunt van die reeks ingeskuif het en nou beskikbaar is. (Die toetsmodel was ‘n handratmodel). Vir die bestuurder op ‘n 4×4 roete sal die outomatiese ratkas sorg vir die veiligste ratverhouding vir elke steilte terwyl daar oorgeskakel kan word na ‘n handkontrole as die bestuurder dit sou verkies. Kragaandrywing word nog steeds deur die beproefde 3.0 liter D-TEQ turbo-aangedrewe dieselenjin verskaf wat 130kW en 380Nm wringkrag vrystel.
Isuzu maak aanspraak op ‘n brandstofverbruiksyfer van 7.9 liter/100km in ‘n gekombineerde siklus wat beslis nie met die handratmodel tydens die onlangse toetsrit verkry is nie. Tog het die gebruiksyfer van net oor die 10liter/100km (volgens die aanwysing) nog steeds goed gelyk hoewel die aanboordrekenaar geblyk het traag te wees om berekeninge vinnig op datum te bring.
Pryse is as volg vir die twee 4×4 modelle:
Isuzu KB300 Crew Cab 4×4 LX M/T N$523 600-00
Isuzu KB300 Crew Cab 4×4 LX A/T N$529 700-00
5 year / 120 000km Factory warranty
5 year / 90 000km Service Plan
Diensintervalle: 15 000km