Oos Wes, Tuis Bes!
Jare gelede was daar ‘n volbladadvertensie in die nuustydskrif Time met ‘n foto van ‘n Jeep tydens die Tweede Wêreldoorlog aan een of ander bloeddorstige gevegsfront. Die enigste byskrif was “Original Sin”. Wat die Jeep met sonde te doen gehad het, weet ek tot vandag toe nog nie. Maar die prentjie van die Jeep in die middel van ‘n harde geveg, sal my altyd bybly.
Wat wel waar is, is dat die Jeep die VSA gehelp het om die oorlog te wen en dat alle ligte 4X4 voertuie op die mark eintlik maar afstammelinge van hierdie moeder van alle “sondes” was! Dit geld dan ook vir die moderne makers van alle luukse 4X4s.
As sesjarige seun het ek die eerste keer op Oom Danie de Wet se plaas by Caledon ervaar hoe sy Jeep in reënweer teen ‘n damwal kon uitklim en het op die plek ‘n Jeep-bekeerling geword. As student is ek en my maats in die middel sestigs na die Goodwood Skou met die uitsluitlike doel om die nuwe Jeep Wagoneer te gaan aanskou; die eerste 4X4 wat soos ‘n stasiewa gelyk het en soos ‘n motor hanteer het. Dit is eers jare daarna wat die Engelse en die res met soortgelyke voertuie voor die dag sou kom.
Terug na die nuwe Jeep Cherokee met die snaakserige naam Longitude, of te wel lengtegraad in Afrikaans. Het die name nou begin opraak, of het dit te doen met die Oos-Wes debat waar Japannese 4X4 bakkies daagliks op CNN te siene is?
Die Longitude is die intreemodel in die nuwe Cherokee-reeks wat onlangs bekendgestel is. Anders as die res van die reeks, wat almal dieselfde moderne en byderwetse bakvorm deel, is die Longitude met voorwielaandrywing toegerus en is die enjin die 2.4l Tigershark MultiAir I-4 eenheid wat ‘n baie skaflike 130kW ontwikkel en 229 Nm wringkrag lewer. Vir gewone en alledaagse gebruik is hierdie krag beslis meer as genoeg; om die waarheid te sê, amper te veel. Met die wegtrekslag het ‘n mens die gevoel gekry dat jy te doen het met ‘n senuweeagtige renperd wat net wil hol! Maar hierdie verskynsel kan ook verband hou met die nuwe outomatiese ratkas met sy nie minder as nege ratverhoudings nie. Dit kos versigtig petrol trap om nie die wiele te laat tol nie.
Aan die binnekant is daar alles wat daar verwag word van ‘n luukse sedanmotor wat gerief betref en spasie en sitplekke is ontwerp vir groot Amerikaners. Die ekstra’s sluit dinge soos ‘n 7-duim navigasieskerm gekoppel aan ‘n klank en vermaaklikheidsentrum met USB poorte en die moontlikheid om mondelinge bevele aan die sentrum oor te dra; alles wat in Japan uitgevind is, is teenwoordig. Natuurlik ook die veiligheidstoerusting uit Europa soos die sewe lugsakke wat gekoppel is aan sensors wat vooruit ‘n moontlike botsing of omrol-aksie kan voorspel. Hierdie is eienskappe wat moontlik spruit uit die alliansie tussen Daimler-Benz en Chrysler van so ‘n paar jaar gelede. Dit is dan ook nie ‘n wonder dat die Cherokee in 2013 die hoogste punte in sy klas in die Europese botsingstoetse behaal het nie.
Van buite lyk die Cherokee pure perd op sy 17 duim allooiwielvellings en maak hulle die oop ruimtes om die nisse mooi vol. Daar is ook die geheelbeeld dat hierdie voertuig nog steeds die oorwin-alles voorkoms het; iets wat by sommige mededingers ontbreek. Dieselfde geld natuurlik ook vir die Wrangler modelle wat nog altyd sy klassieke lyne uit die Tweede Wêreldoorlog behou het en lyk soos ‘n ware 4X4 behoort te lyk. Noem dit retro-stilering of iets anders, maar dit werk vir ons ware entoesiaste wat nie modebehep is nie en waar funksionaliteit eerste kom. En natuurlik die gepatenteerde aantal balkies op die neus wat die verkoeler beskerm.
Prakties is natuurlik die parkeersensors agter om die relatief groot voertuig in ‘n klein parkeerspasien in te kry; seniorburgers sal veral hierdie geriefie waardeer! So ook die dubbele stelsel klimaatbeheer wat natuurlik veel meer behels as blote lugversorging.
En wat kos hierdie Amerikaanse ikoon? Die eienaar sal N$479,990 minder in sy sak hê as hy hom van die vloer af trek. As die krag en ekstra toerusting miskien nie op standaard is nie, is daar natuurlik ‘n lang lys van toerusting wat teen ‘n ekstra prys beskikbaar is, onder andere leerbekleedsel en ‘n sondak. Of die koper kan die hardebaard Limited en Trailhawk modelle met viewielaandrywing oorweeg, waarvan sommige ook ewenaarslotte insluit. Die prys vir die hardebaard Cherokee 3.2l Limited AWD is N$563,990 en die koning van die reeks, die Cherokee 3.2l Trailhawk 4WD, kan joune wees vir N$607,990.
Slotsom, geniet die (Amerikaanse) verlede in vandag se gemak en styl!